Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theuns Eloff: ANC en Cyril by grondwetlike kruispad

Die debat oor as hoe belangrik die ANC die Grondwet beskou, het die afgelope tyd ’n nuwe intensiteit bereik en moeilike keuses sal gemaak moet word, skryf Theuns Eloff.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ten tyde van die optog in Bloemfontein ná sy hofverskyning verlede Vrydag. Foto: Mlungisi Louw

Die politieke kommentator Mpumelelo Mkhabela het onlangs in ’n artikel op Daily Maverick die vraag gevra of die ANC die land se Grondwet (met die oppergesag van die reg) as ’n “fout” beskou.

Daarin toon hy aan dat die ANC se eie grondwet nie die oppergesag van die land se Grondwet erken nie en in sekere opsigte selfs in konflik daarmee is. Die Grondwet word trouens nie eens in die ANC se eie grondwet genoem nie.

Die openbare debat oor die belangrikheid van die Grondwet is nie nuut nie. Oudpres. Jacob Zuma het gedurende sy termyn ’n paar keer gesê die ANC kom vir hom eerste en die land tweede, ondanks die feit dat hy met sy twee inswerings as president trou aan die land en die Grondwet gesweer het.

Die debat oor hoe belangrik die ANC die land se Grondwet en die oppergesag van die reg beskou (en daartoe instem) het egter die afgelope tyd ’n nuwe intensiteit bereik.

Dit duidelik dat Duarte (en ’n deel van die ANC) die Grondwet bloot as ' 'n ongerieflike belemmering in die ANC se rewolusionêre strewe' beskou.

Eerstens het Dikeledi Magadzi (adjunkminister van vervoer) voor die Zondo-kommissie getuig dat ANC-parlementariërs gedwing is om hul ANC-lojaliteite en verpligtinge voorkeur te laat geniet bo hul grondwetlike verpligtinge as lede van die parlement.

Dit het ’n flouerige ontkenning deur Pemmy Majodina, hoofsweep, tot gevolg gehad.

Tweedens is die duidelikste voorbeeld van (minstens ’n groot deel van) die ANC se siening oor die Grondwet die optrede en uitsprake van sy vorige leier, Jacob Zuma. Nadat hy voorheen telkemale gekla het dat hy nie sy dag in die hof kry nie, skop hy die konstitusionele hof in die tande en speel ’n bedenklike afdreigspel oor sy moontlike tronkstraf vir minagting van die hof.

Derdens (en daarmee saam) loods Jessie Duarte, adjunk-sekretaris generaal van die ANC, ’n striemende aanval op die Zondo-kommissie en adjunkhoofregter self, wat volgens haar sy werk gegrond op die nóú parameters van huidige wetgewing doen.

Hoewel Duarte intussen haar verskoning aangebied het (in opdrag van die NUK van die ANC), is dit duidelik dat sy (en ’n deel van die ANC) die Grondwet bloot as “ ’n ongerieflike belemmering in die ANC se rewolusionêre strewe” (die woorde van William Saunderson-Meyer) beskou.

Grondwet nie ‘heilig’ nie

Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede week kommentaar gelewer het ná die repliek op sy staatsrede. Foto: Gallo Images

Die opmerkings van Ace Magashule oor die Zuma-saak is ook insiggewend.

“Hy het niks verkeerds gedoen nie” en die “Grondwet is nie heilig (sacrosanct) nie”. Waarskynlik in opdrag van die NUK (of pres. Cyril Ramaphosa self) sê hy verlede naweek egter dat die Grondwet (tog) belangrik is. Trouens, hy beroep hom in sy weiering om “opsy te staan” (lees: bedank) op die grondwetlike regsreël dat iemand onskuldig beskou (moet) word totdat hy/sy skuldig bevind word.

Hiermee (en met sy eie interpretasie dat die saak na ANC-takke verwys moet word) systap hy ewe glibberig die groeiende oproepe van die ANC-leierskap dat hy uit sy pos moet tree totdat die strafregtelike saak teen hom afgehandel is.

Nie eintlik iemand wat vertroue inboesem as ’n ware ondersteuner van die Grondwet nie. En ’n mens wonder – en sien eintlik daarna uit – hoe ’n volbank van regters op Magashule se slimmighede en ontwykings gaan reageer.

‘Heilige’ eenheid

Carl Niehaus is een van die lede van die ANC se vleuel wat radikale ekonomiese transformasie voorstaan en beweer regters is deur “witmonopoliekapitaal” gekaap. Foto: Argief

In ’n baie insiggewende gesprek op die TV-program Power to Truth verlede week het twee lede van die Radikale Ekonomiese Transformasie-faksie (RET) sterk standpunte oor Zuma, Zondo en die Grondwet gehad. Die afgetrede genl. Maomela Motau (wat van 1998 – 2009 as hoof van Verdedigingsintelligensie gedien het) en Carl Niehaus (van militêreveterane-faam) was albei van mening dat die Grondwet nou verander moet word omdat die kompromieë van 1994 en 1996 (soos die oppergesag van die reg) “nie (meer) in ons (swart mense se) guns werk nie”.

Tweedens moet die Grondwet verander word om die land van die “diktatuur van die regbank” te verlos sodat daar na gewone meerderheidsregering en parlementêre soewereiniteit terugkeer kan word. Daarmee saam kom die bedenklike bewering dat lede van die regbank deur “witmonopoliekapitaal” gekaap is, asook dat regters aan die wil van die gewone mense onderdanig moet wees.

Die Grondwet is nie heilig nie, maar die eenheid van die ANC is wel.

Vergeet vir eers die belaglikheid van hierdie beweringe en argumente. Die punt is dat die Grondwet in die pad staan van wat die RET-faksie (met Magashule aan die spits) vir die land (en die ANC) beplan. Ná sy teedrinksessie met Zuma sing Julius Malema, EFF-leier, in dieselfde koor saam.

Regters is nie “spesiaal” nie en dele van die bevolking sal teen hulle in opstand kom. In reaksie hierop het onder andere Ronald Lamola, minister van justisie, (darem) gewaarsku dat Zuma en Malema se gebrek aan respek vir die Grondwet en die oppergesag van die reg die Suid-Afrikaanse demokrasie kan vernietig.

’n Laaste voorbeeld: In sy kommentaar op die besluit van die NUK dat die topses Zuma sal ontmoet, sê Pule Mabe, nasionale woordvoerder (en sterk ondersteuner van sy baas, Ace Magashule), dat hierdie ontmoeting beteken dat hulle verstaan dat ANC-eenheid “heilig” is. Dit is dieselfde woord wat Magashule gebruik het om te verduidelik wat die Grondwet nié is nie.

Die Grondwet is nie heilig nie, maar die eenheid van die ANC is wel.

Geen begrip vir skeiding van magte nie

Oudpres. Jacob Zuma en Bheki Cele, minister van polisie, toe Zuma nog president van die land was. Foto: Leon Botha

Uit al hierdie voorbeelde kom ’n paar kwessies na vore. Dit is eerstens duidelik dat daar in beduidende dele van die ANC en sy leierskap ’n siening is dat die Grondwet en die leerstuk van die oppergesag van die reg die rug gekeer moet word ten gunste van ’n vorm van populistiese demokrasie en parlementêre soewereiniteit.

Die oënskynlike rede hiervoor is dat die oppergesag van die reg tot ’n diktatuur van die regbank lei waar regters nie die wil van die mense weerspieël nie. Dit staan in die pad van wat die RET-faksie met die land beoog.

Dit is tweedens duidelik dat in ’n nog groter deel van die ANC daar geen begrip van die onderskeid tussen staat, regering en party is nie. Die gebruik van ’n militêre vliegtuig (wat aan die staat behoort) om met die broeders en susters van Zanu-PF in Zimbawe te gaan gesels is die duidelikste voorbeeld hiervan.

As die regterlike gesag kragtens die Grondwet of ander wette uitspraak lewer wat nie polities gewild of aanvaarbaar is nie, word daar geëis dat dit verander moet word.

Die (amptelike?) besoek van Bheki Cele, minister van polisie, aan Zuma om sy situasie te bespreek, kan nog ’n voorbeeld hiervan wees.

Gepaardgaande hiermee is daar derdens byna geen begrip van die leerstuk van die skeiding van magte (wetgewend, uitvoerend en regterlik) in ’n grondwetlike demokrasie by die grootste deel van die ANC en sy leierskap nie.

As die regterlike gesag kragtens die Grondwet of ander wette uitspraak lewer wat nie polities gewild of aanvaarbaar is nie, word daar geëis dat dit verander moet word.

Die wetgewende gesag probeer soms om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou, maar in die Zuma-jare was dit futiel.

Tyd vir moeilike keuses het aangebreek

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het om verskoning gevra vir haar aanval op die Zondo-kommissie. Foto: Argief

Die vierde kwessie is glashelder. Die eenheid en oorlewing van die ANC staan vir die meerderheid lede en leierskap sterker as gehoorsaamheid aan die uitvoering van die Grondwet.

Anders is die twee sake ewe belangrik en moet moeilike keuses gemaak word. Omdat hierdie keuses egter moontlik tot skeuring en/of afsplintering kan lei, word dit (tot nou toe) nie gemaak nie.

Hierdie vier kwessies bring die ANC by ’n grondwetlike kruispad. En die man wat voorloop, is ANC-president Cyril Matamela Ramaphosa. Hy sit met ’n verdeelde en onder-mekaar-vegtende party.

Of Magashule bedank of geskors word of nie, hy gaan sy dag in die hof kry waar die oppergesag van die reg sigbaar gaan werk.

Hy sit met ’n sekretaris-generaal wat hom en die NUK openlik uittart en teengaan. Aan die kern hiervan lê hoedat die Suid-Afrikaanse Grondwet gesien, gehoorsaam en gerespekteer word.

Die ANC se eie grondwet en interne reëls (oor byvoorbeeld wanneer ’n aangeklaagde leiersfiguur nou eintlik moet opsy staan) is nie vir gewone landsburgers van direkte belang nie.

Of Magashule bedank of geskors word of nie, hy gaan sy dag in die hof kry waar die oppergesag van die reg sigbaar gaan werk. Zuma gaan op sy aanklagte vir korrupsie in die hof verskyn – en die reg sal sy loop neem.

Theuns Eloff

Natuurlik sal daardie gebeure en die uitkoms van ander korrupsiesake polities belangrik wees en kan dit moontlik uiteindelik ’n positiewe uitwerking hê – maar dit sal gewone Suid-Afrikaners nie direk beïnvloed nie.

Wat egter van direkte belang vir elke Suid-Afrikaner is, is dat die regering van die dag en sy leierskap respek vir die Grondwet (wat hulle terloops help skryf het) en respek vir die oppergesag van die reg het en dit duidelik in hul optrede wys.

Dit is lewensbelangrik dat ons weet dat die Grondwet en die oppergesag van die reg vir ons lewensruimte sal bly skep en dit beskerm. Ons kan nie sien dat ’n beduidende deel van die regerende party se leiers die Grondwet en die oppergesag van die reg minag en dat niks gebeur nie. Daarvoor het die president van die ANC, wat ook die president van Suid-Afrika is, ’n uitsonderlike verantwoordelikheid – en die kruispad om die moeilike keuses te maak, is hier.

* Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.