Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theuns Eloff: Dit is hoe ANC-lys kan uitspeel

Ná aanleiding van die ANC se parlementêre lys skets Theuns Eloff drie scenario’s wat hulle ná die verkiesing en in die volgende vyf tot tien jaar kan afspeel.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, dien saam met sy entourage die ANC se parlementêre lys by die Onafhanklike Verkiesingskantoor in. Foto: Morapedi Mashashe

Die ANC het die lys van sy lede wat ná die Mei-verkiesing parlement toe sal gaan, gepubliseer. Hierdie mense sal die ANC-koukus in die parlement vorm en hulle moet pres. Cyril Ramaphosa steun in sy planne om die regering en die ekonomie op ’n vaste voet te plaas.

As ’n mens dieper kyk en dink, is die samestelling van hierdie lys amper belangriker as die stempersentasie van tussen 55 en 58% wat die ANC in die algemene verkiesing gaan kry.

Die samestelling van hierdie lys is die mees onlangse barometer van hoe sake in die stryd tussen die konstitusionaliste aan die Ramaphosa-kant en die kleptokrate aan die Zupta-kant staan.

Alhoewel dit moreel en op baie ander vlakke onaanvaarbaar is dat “staatskapers”, leuenaars en omkoopbares op die ANC se lys is, is dit nie die volle verhaal nie. Bathabile Dlamini, Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en ander twyfelagtiges is daar omdat die ANC steeds verdeeld is en omdat hulle en die res van hul Zupta-groep steun aan die ANC by die stembus sal bring. Dit is steun waarsonder die ANC glo hy nie die verkiesing sal kan wen nie. Kleinere geeste met ’n misdaadgeskiedenis is wel van die lys afgehaal.

Die beste scenario is dat die ANC met pres. Cyril Ramaphosa aan die spits die verkiesing wen (met 55% tot 58%) en dat hy onmiddellik sy kabinet saamstel sonder enige Zuptas daarin.Foto: Jaco Marais

Ramaphosa-kant het meeste provinsies

Om te weet wat ná die Mei-verkiesing kan gebeur, moet ’n mens na die volle samestelling van die lys kyk. En alhoewel hierdie ontledings nog aan die gang is, kan sekere afleidings reeds gemaak word. Daar is vyf provinsies – Limpopo, Gauteng, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap – waar die Ramaphosa-groep waarskynlik die meerderheid op die lyste het.

Daar is een provinsie waar die Zuptas nog duidelik baas is en dis die Vrystaat (met die bedenklike Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, aan die spits). Die ander drie provinsies (KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Noordwes) is óf 50-50 óf te moeilik om te beoordeel. Selfs as ’n mens die provinsies uitlaat wat min kiesers het of waar die ANC nie groot verteenwoordiging het nie (soos die Noord-Kaap en die Wes-Kaap), lyk dit dus asof die Ramaphosa-kant in beheer van ’n meerderheid van die provinsies is en dat dit hom waarskynlik ’n meerderheid in die koukus sal gee.

Die feit dat die Zupta-groep, hierbo genoem, by die lys ingesluit is, dui dus meer daarop dat die ANC ter wille van eenheid in die party en stemme by die stembus nie baie sterk druk op hierdie twyfelagtiges kon en wou plaas nie.

Kan Supra Mahumapelo die ANC se volgende president word?Foto: Jabu Kumalo

Drie scenario’s ná verkiesing

Daar is, teen hierdie agtergrond, drie scenario’s wat hulle ná 8 Mei kan afspeel. Die eerste is dat die ANC met Ramaphosa aan die spits die verkiesing wen (met 55% tot 58%) en dat hy onmiddellik sy kabinet saamstel sonder enige Zuptas daarin. Hy bestuur die verdeeldheid in die ANC goed, kry die steun van die koukus en die NUK en begin stadig maar seker die stryd teen korrupsie en staatskaping verskerp.

Dit laat die rand versterk en die Johannesburgse effektebeurs styg. Teen die einde van 2019 begin plaaslike en buitelandse beleggings toeneem en alhoewel die groeikoers vir 2019 nog onder 2% is, is ’n 3% groeikoers in 2020 moontlik. Dis die optimale scenario – met ’n 60% waarskynlikheid.

Die tweede scenario is een waarin Ramaphosa steeds die ANC help om die verkiesing te wen, maar waarin hy nie die steun van die hele koukus het nie en die Zupta-groep sterk genoeg bly om enige veranderinge wat hy wil aanbring te rysmier of te verswak.

Hierdie scenario sal nie in die openbaar aangekondig word nie, maar ’n mens sal dit aan die optrede (of gebrek aan optrede) van Ramaphosa kan sien.

Die Zuptas laat hom dus toe om aan bewind te bly, mooi woorde oor die land en die ekonomie te praat, die ekonomie ’n bietjie te laat groei, maar waarin hulle eintlik ongesteurd met hul skelmstreke kan voortgaan. En Ramaphosa, met die swaard van ’n nasionale algemene raadsvergadering en herontplooiing oor sy kop, kan nie veel daaraan doen nie.

Hierdie scenario sal nie in die openbaar aangekondig word nie, maar ’n mens sal dit aan die optrede (of gebrek aan optrede) van Ramaphosa kan sien. Hierdie is die tweede swakste scenario met ’n 30%-kans.

’n Derde en swakste scenario – met slegs ’n 10%-kans – is waar die Zuptas Ramaphosa vinnig ná die verkiesing (of op die Nasionale Algemene Raadsvergadering wat vir middel 2020 beplan word) “herontplooi” en dus met ’n ander president vir die ANC en die land vervang.

Wie hierdie president kan wees, is moeilik om nou al te sê. Adjunkpres. David Mabuza het waarskynlik sy kanse by die Zuptas verspeel, omdat hy regstreeks daarvoor verantwoordelik was dat Ramaphosa in Desember 2017 as president van die ANC verkies is.

Mev. Zuma (Nkosazana Dlamini-Zuma) mag ’n moontlikheid wees, maar sy het oënskynlik haar volle gewig agter Ramaphosa ingegooi. Afhangende van die intensiteit van die interne stryd in die ANC kan dit selfs Ace Magashule of die voormalige premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, wees. Maar dis duidelik ’n katastrofale scenario, want dit gaan die land vinnig na die afgrond neem. Dit gaan ook daarvoor sorg dat baie grondwetlike beginsels in die grond geboor gaan word.

Theuns EloffFoto: Nelius Rademan

Die volgende vyf tot tien jaar

Al drie hierdie scenarios het dit gemeen dat dit afhang van wat met die interne stryd in die ANC gebeur. As Ramaphosa suksesvol is om die Zuptas eers hok te slaan en dan uit sy kabinet te verwyder, kan dit goed gaan. Indien nie, lê dieselfde of erger moeilikheid vir die land voor.

Maar wat gaan in die volgende vyf tot tien jaar gebeur? Ook hier is daar basies drie scenario’s, wat almal berus op Ramaphosa se sukses al dan nie.

Scenario A is die een waar Ramaphosa twee termyne as president dien. Dit beteken dat hy die Zuptas ná die Mei-verkiesing suksesvol isoleer, sy “eie” kabinet saamstel en volstoom met die stryd teen staatskaping en korrupsie voortgaan. Hy keer terug na die Grondwet en begin om die Nasionale Ontwikkelingsplan in wetgewing om te sit en toe te pas.

Hy kry dit reg om met die volle steun van die ANC parlementêre koukus en die NUK ekonomiese hervorminge deur te voer, beleggings te lok en die ekonomie stadig maar seker te laat groei. Dit veroorsaak dat hy in 2022 by die ANC se verkiesingskonferensie herverkies word as president van die ANC en ná die algemene verkiesing in 2024 as president van die land aanbly.

Scenario B kom daarop neer dat Ramaphosa slegs een termyn as president dien en reeds op die 2022- verkiesingskonferensie as president van die ANC vervang word.

Terselfdertyd verkies die ANC ’n nuwe adjunk-president in die plek van Mabuza. Ramaphosa word eers in 2027 by die ANC se verkiesingskonferensie as president vervang deur ’n jonger kandidaat. Hierdie scenario is die mees optimale een vir konstitusionaliste.

Scenario B kom daarop neer dat Ramaphosa slegs een termyn as president dien en reeds op die 2022- verkiesingskonferensie as president van die ANC vervang word. Dit word veroorsaak deur die feit dat die parlementêre koukus en die NUK van die ANC verdeeld bly, met die Zuptas wat om elke hoek en draai ’n stokkie voor Ramaphosa se hervormings steek en basies sy presidentskap rysmier.

Hierdie interne struwelinge in die ANC veroorsaak dat die ekonomie voortsukkel en dat die druk op Ramaphosa al groter word. Op aandrang van die Zupta-afvalliges word sy kop al meer binne die ANC geëis en hy oorleef nie die verkiesingskonferensie van 2022 nie. ’n Nuwe top-ses word verkies en weerspieël die verdeelde ANC, maar met ’n terugkeer van ’n jonger Zupta-kandidaat soos Malusi Gigaba, of selfs Magashule en Mahumapelo. Mabuza maak dit nie. Hierdie scenario is ’n voortgang van wat ons die afgelope klompie jare beleef het, maar met ’n sterker afwaartse kurwe, veral ná 2022 – en daarom die mees negatiewe.

Scenario C is dieselde as die bogenoemde waar Ramaphosa slegs een termyn dien, maar as gevolg van interne struwelinge in die ANC vernietig die party homself al meer en word dit in 2024 deur ’n koalisie van opposisiepartye uit die kussings gelig. Hierdie scenario maak dit waarskynlik dat die ANC ná die verkiesingskonferensie van 2022 kan skeur en dat die konstitusionaliste wegbreek en hulle by die opposisiekoalisie voeg.

Cyril versus die Zupta-mafia

Van die groot redes vir kiesers om van die ANC weg te draai is die verswakkende ekonomie, nog swakker dienslewering en voortgaande korrupsie. Hierdie scenario veronderstel dat die DA, die EFF en ander opposisiepartye die verswakkende situasie in die land gebruik om groter steun onder die breër bevolking te werf.

Die belangrikste stryd wat in die land voorlê, is nie die verkiesingstryd nie, maar die interne stryd in die ANC tussen die Ramaphosa-konstitusionaliste en die Zupta-mafia.

Die koalisieregering van 2024 skep groter politieke onstabiliteit, maar die ekonomie herstel stadig maar seker. Hierdie scenario is op kort termyn nie optimaal nie, maar kan ná 2025 tot positief herstel.

Bogenoemde twee stelle scenario’s bring twee sake duidelik na vore: Die belangrikste stryd wat in die land voorlê, is nie die verkiesingstryd nie, maar die interne stryd in die ANC tussen die Ramaphosa-konstitusionaliste en die Zupta-mafia. Daardie stryd speel agter die skerms af en gewone Suid-Afrikaners sien slegs hier en daar (soos met die parlementêre lys) iets sigbaars daarvan.

Tweedens moet kiesers wat tradisioneel nie die ANC ondersteun het nie, weet dat daar nie in die Suid-Afrikaanse demokrasie so iets is as om vir ’n individuele partyleier te stem nie.

Jy stem vir ’n party met al sy probleme en interne struwelinge – en jy het geen beheer oor waar daardie party heengaan nie. En alle Suid-Afrikaners moet weet dat die stryd tussen konstitusionaliste en kleptokrate nie met ’n ANC-oorwinning by die stembus verby is nie.

*Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. Die menings in hierdie artikel weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.