Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theuns Eloff: Is Ace se doppie (uiteindelik) geklink?

Pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners is volgens alle aanduidings die voorlopers in die stryd om die siel van die ANC. Theuns Eloff kyk na wat die toekoms vir dié diep verdeelde party en sy leiers kan inhou.

Die verwagting is dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sterk sal probeer terugveg nadat hy en sy ondersteuners ’n nederlaag op die NUK-vergadering teen die Ramaphosa-groep in dié party gely het. Foto: Argief

Die stof (en spoeg) het gaan lê ná die ANC se NUK se onlangse vergadering.

Dat dit tot die Maandag gestrek het, is ’n bewys dat dit ’n stormagtige en moeilike vergadering was. Kommentators is dit eens dat die besluite op ’n klinkende oorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners dui.

Melanie Verwoerd, oud ANC-LP en voormalige ambassadeur, skryf selfs verlede week dat die “telling” ná die vergadering 7-0 in die guns van die Ramaphosa-groep teen die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie was.

Die wendoele wat Verwoerd noem, is die sterk uitgesproke steun vir die Zondo-kommissie, die steun van die ANC-koukus vir die Mkwebane-mosie in die parlement (ten spyte van Ace Magashule wat as sekretaris-generaal anders geadviseer het), sterk kritiek op die bestaan van die RET-faksie, verwerping van die Rupert-storie van die Independent Groep (op tipiese Bell Pottinger-manier), moontlike dissiplinêre optrede teen personeel wat die ANC verdeel (lees: Carl Niehaus), kritiek op die bestaan van ’n (aparte) militêre-veterane-organisasie (die MKMVA) en, les bes, die besluit dat diegene wat strafregtelik aangekla is, binne 30 dae moet “opsy staan”.

’n Mens kan net met hierdie ontleding saamstem.

Oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule. Magashule sal waarskynlik Zuma se Stalingrad-taktiek met hofsake volg. Foto: Argief

Benewens hierdie “wendoele” het ’n paar ander gebeure die Ramaphosa-groep gehelp:

• Die besluit van die appèlhof om die verkiesing van die ANC se Vrystaatse provinsiale uitvoerende komitee in 2018 (met een van Magashule se trawante as leier) onwettig en ongrondwetlik te verklaar, moet ’n gevoelige slag vir Magashule en Kie. wees.

• Dat Magashule en Kie. (duidelik teen hul wil) moes inval by die NUK-besluite en dat hulle klaarblyklik nie gedruk het vir ’n stemming nie, is ’n bewys dat hulle besef dat hulle nie (meer) die meerderheid steun in die NUK het nie.

• Dit is verder bewys deur die feit dat, by die NUK se vergadering, die Ramaphosa-groep se kandidaat vir die vakature in die Nasionale Werkkomitee (Gwen Ramakgopa) die paal met ’n meerderheid van 53 teen 39 stemme gehaal het teen die ander kandidaat, wat deur die Magashule en Kie. ondersteun is (Ayanda Dlodlo).

• Die sterk toetrede tot die korrupsiedebat van die Defend our Democracy-beweging, wat uit prominente ANC-lede, maar ook ander onverbonde leiers bestaan.

• Die waarskuwings vanuit die ANC (onder andere deur Lulama Ngcukayitobi, die provinsiale sekretaris van die ANC in die Oos-Kaap) dat die RET-groep in die ANC (die “sesde vloer van Luthuli-huis”) niks anders nie as ’n faksie is wat beplan om weg te breek, en daarom nie geduld mag word nie, was ’n grondliggende verandering aan die “narratief”. Magashule en Kie. (veral Carl Niehaus) wou graag gesien word as die redders van die ANC wat die ANC na sy rewolusionêre en sosialistiese wortels sou teruglei. Maar die gevolg van die wegbreek-narratief was dat hulle gedwing is om hul trou en lojaliteit aan die ANC te verklaar en selfs die formele bestaan van die RET-faksie te ontken.

• Dit is betekenisvol dat oudpres. Thabo Mbeki nie net (weer) die NUK-vergadering bygewoon het nie, maar die bevoegdheid van Ace Magashule as sekretaris-generaal sterk gekritiseer het. Hy het selfs so ver gegaan om hom as die swakste sekretaris-generaal ooit te beskryf. Dit is belangrik dat Mbeki nie maar net in die “korrupte Ace”-koor gesing het nie, maar sy bevoegdheid om sekretaris-generaal te wees, bevraagteken het. Dit was deel van die “totale aanslag” van die Ramaphosa-groep teen Magashule en Kie. En Mbeki het duidelik kant gekies.

Wat gaan Ace nou doen?

Pres. Cyril Ramaphosa by ’n Paasfees-diens. Sy ondersteuners in die ANC het volgens alle aanduidings ’n klinkende oorwinning oor dié van Ace Magashule behaal. Foto: Argief

Dit is duidelik dat die Ramaphosa-groep nou op die voorvoet is. Die groot vraag is wat Magashule en Kie. voor, op en ná 28 April (wanneer die 30 dae verstryk) gaan doen? En wat kan van die Ramaphosa-groep (en die president self) verwag word?

Magashule se keuses is beperk. Hoewel die 30 dae meer is as die sewe dae van die eerste weergawe van die besluit (waarmee Magashule daardie Sondagaand ernstig verskil het), kan dit nie gebruik word om die besluit te hersien of omgedraai te kry nie. Daar is ’n duidelike sperdatum: 28 April 2021.

Magashule self het tyd gevra om met senior leiers in die ANC oor sy besluit (en waarskynlik toekoms) te “konsulteer”. Of hy baie simpatie by Mbeki, Kgalema Motlanthe of Mathews Phosa gaan kry, is te betwyfel. Oudpres. Jacob Zuma kan hom dalk raad gee oor hoe om politieke en regsgedinge lank uit te rek – die berugte Stalingradtaktiek.

Oudpres. Thabo Mbeki meen Ace Magashule is die swakste sekretaris-generaal wat die ANC tot nog toe gehad het. Foto: Gallo Images

Uiteindelik het hy net twee keuses: staan “vrywillig” opsy, of weier en word later geskors (ná die toepaslike dissiplinêre prosesse). Met albei keuses bestaan die sterk moontlikheid dat hy die NUK se besluit (opsy staan nou of skorsing later) vir hersiening hof toe kan neem. Hy sal in albei gevalle waarskynlik argumenteer dat die NUK-besluit nie toegepas kan word voordat die hof sy uitspraak gelewer het nie.

Dit sluit aan by sy en ander se bekende argument dat, omdat die Grondwet bepaal dat iemand onskuldig geag word totdat hy skuldig bevind word, geen tugstappe teen ’n lid van die ANC gedoen mag word nie.

Hierdie argument vergeet egter dat om “opsy te staan” nie ’n skuldigbevinding is nie, maar ’n organisatoriese maatreël wat die dissipline en etiek in en goeie naam van ’n organisasie probeer beskerm.

Howe is van nature huiwerig om in die sake van vrywillige organisasies in te meng en die kernvraag sal wees: Is die ANC se eie reëls en prosesse nagekom? En al lyk dit op die oog af wel só, sal dit tyd neem om ’n hofuitspraak te kry. En daardie uitspraak kan natuurlik ook op appèl geneem word.

Carl Niehaus is een van Ace Magashule se grootste ondersteuners en is ’n vooraanstaande lid van die radikale ekonomiese transformasie-faksie en die voormalige MK-lede wat oudpres. Jacob Zuma wil beskerm. Foto: Argief

Met albei hierdie keuses sal Magashule vir hom kosbare tyd koop om ander politieke gevegte te veg. As hy steeds sekretaris-generaal is wanneer die ANC se nasionale algemene raad voor die einde van die jaar (waarskynlik nie voor September nie) vergader, sal hy daardie platform en mag goed gebruik. Die volgende datum vir sy eie bedroghofsaak is Augustus in Gauteng – maar sal waarskynlik (vir watter redes ook al) eers weer uitgestel word.

Dit sal ook in Magashule se guns tel om tyd te wen om op organisatoriese vlak ANC-takke in sy eie belang te mobiliseer – dit is sy verklaarde taktiek. Hierdeur sal hy probeer om ’n beduidende aantal takke te kry om rondom hom te mobiliseer en só die NUK te “dwing” om die opsy-staan-/skorsing-besluit om te keer.

Wat egter in hierdie opsig teen hom tel, is dat sy magsbasis in die Vrystaat (vir die oomblik) deur die appèlhof vernietig is en tweedens is die besluit oor opsy staan nie net op hom van toepassing nie, maar op baie ander in die ANC.

As ’n mens na Magashule se houding en optrede tot dusver kyk, lyk dit onwaarskynlik dat hy vrywillig gaan opsy staan.

Dit sal moeilik vir takke wees om te betoog dat (net) hy daarvan vrygestel moet word. En ’n versoek dat die besluit in sy geheel teruggetrek moet word, gaan nie slaag nie, gegewe die sterk anti-korrupsie-houding van die NUK. Laastens sal Magashule tyd wil koop om nie in die politieke koue buite die ANC te wees nie, omdat hy hoop dat sodra die dokumente van Ramaphosa se 2017-verkiesingsveldtog (die sogenaamde CR-17) openbaargemaak word, daar iets sal wees wat Ramaphosa en sy ondersteuners sal skaad – en hom sal bevoordeel.

As ’n mens na Magashule se houding en optrede tot dusver kyk, lyk dit onwaarskynlik dat hy vrywillig gaan opsy staan. Hy gaan die ANC (soos Zuma) uitdaag om hom aan dissiplinêre prosesse te onderwerp – omdat dit hom meer tyd sal gee om te mobiliseer; en omdat hy dan daardie besluit op hersiening in die howe kan neem.

Dit is dus te vroeg om te sê dat Ace Magashule se politieke doppie geklink is. Maar as hy weier om opsy te staan, lê ’n lang en uitgerekte politieke en regsgeveg vir hom voor. In hierdie prosesse kan hy sy oorblywende steun in die ANC ook verloor. Hierdie keuse is dus nie sonder risiko nie.

As hierdie scenario uitspeel, sal die Ramaphosa-groep ná 28 April nog nie van Magashule as sekretaris-generaal ontslae wees nie. Dissiplinêre prosesse sal vir hom (en ander) opgestel moet word, en beantwoordende hofstukke sal opgestel moet word. En die atmosfeer in Luthuli-huis en op NUK vergaderings sal nie verbeter nie.

Wat gaan die Ramaphosa-groep doen?

’n Vraag op baie politieke waarnemers se lippe is of die ANC sal skeur. Foto: Gallo Images

Ten slotte: Indien die onwaarskynlike egter wel gebeur en Magashule staan op 28 April opsy, is dit interessant om te oorweeg wat Ramaphosa en die NUK gaan doen.

’n Eerste besluit sal wees om ’n waarnemende sekretaris-generaal aan te stel. Dit sal óf Jessie Duarte wees óf ’n Ramaphosa-ondersteuner van buite – dalk uit KwaZulu-Natal, wat op hierdie oomblik niemand in die sogenaamde topses het nie.

Dit sal die Ramaphosa-groep se invloed in Luthuli-huis onmiddellik versterk, en ’n skoonmaakproses van sommige Magashule-vertrouelinge (lees Bathabile Dlamini en Carl Niehaus) is nie onmoontlik nie.

As president van die land, kan Ramaphosa dit ook as ’n geskikte geleentheid sien om nuut na sy kabinet te kyk deur van Magashule-lojaliste ontslae te raak en ander (nog huiwerige) ondersteuners in te bind.

Theuns Eloff

Dit kan die begin van ’n politieke omdraaiproses wees.

Maar dit sal baie langer neem om die onkapabele, onbevoegde en soms korrupte staatsdiens op nasionale, provinsiale en munisipale vlak om te draai.

Oor die afgelope naweek het Ramaphosa luidens berigte gesê dat ’n geskeurde ANC nutteloos sal wees. Hy het die beeld van ’n geskeurde kleed tydens ’n preek in ’n Paasfees-erediens gekry en dit op die ANC toegepas (iets wat die prediker waarskynlik nie bedoel het nie!).

Die vraag is of dit nie juis is wat die land nodig het nie? Want net soos wat dit te vroeg is om sê dat dié simbool van korrupsie (naas Zuma) in die ANC se doppie geklink is, só is dit te vroeg om te sê of ’n ongeskeurde ANC in staat is om homself te herstel.

• Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.