Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theuns Eloff: SA kry 'n D vir infrastruktuur

Die gebrek aan instandhouding maak ons bietjie vir bietjie dood, skryf Theuns Eloff.

Theuns Eloff

Te midde van die voortslepende opspraakwekkende onthullings oor staatskaping en korrupsie, en die stryd om die leierskap van die ANC, gaan belangrike nuus dikwels amper ongemerk verby.

’n Voorbeeld hiervan is die verslag oor infrastruktuur wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (SAICE) onlangs met hulp van die WNNR gepubliseer het.

Hulle steek ’n sweer oop wat die land nie net baie geld kos nie, maar ook ons dood (letterlik en figuurlik) kan veroorsaak.

SAICE het ’n intensiewe ondersoek na allerhande soorte infrastruktuur gedoen: water, sanitasie, vaste afvalstowwe, paaie, lughawens, spoorlyne, elektrisiteit, gesondheid en onderwys. Op grond van hul bevindings het hulle infrastruktuur in kategorieë (en subkategorieë) opgedeel.

Die gradering strek van “wêreldklas” (A) tot “ongeskik vir gebruik” (E). Tussenin is daar “gepas vir die toekoms” (B), “bevredigend vir die oomblik” (C) en “op risiko om te misluk” (D).

Hul oorhoofse gradering van Suid-Afrika se infrastruktuur is D+. Dis af van ’n C- in 2011, net ná die Wêreldbekersokker se infrastruktuurverbeterings. Dit beteken dat SA se infrastruktuur, volgens die siviele ingenieurs (onder wie ook diegene wat vir die staat werk), “op risiko is om te misluk”.

Uit die 29 subkategorieë is slegs een A (die Gautrein) en vier B’s (nasionale paaie, lughawens, hawens en swaarvraggoederelyne). Daar is egter 13 D’s en 2 E’s (laasgenoemde vir sanitasie in buitestedelike gebiede en alle grondpaaie).

Die argument dat ons kan bespaar deur instandhouding uit te stel, kom terug en byt hard.

Hierdie gradering word veroorsaak, so sê SAICE, deur die voortgesette gebrek aan instandhouding en verwaarlosing. Voeg hierby ’n gebrek aan langtermynbeplanning, onvoldoende finansiering, geen bestuurstelsels, swak data-insameling en vaardighede, en die prentjie is voltooi: ’n Land met infrastruktuur op die rand van mislukking.

Infrastruktuur soos water, sanitasie, paaie en onderwysgeriewe is openbare bates wat in almal se belang is en bestuur moet word. Dit verbeter lewensverwagting, fasiliteer sosiale mobiliteit en toegang tot ekonomiese geleenthede, en help ekonomiese groei en werkgeleenthede skep.

Daarsonder is geen vooruitgang moontlik nie – nie dit wat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) beoog nie en ook nie wat die Grondwet as opdrag aan die regering toevertrou nie.

Die basiese vraag is: Hoekom onderhou ons nie ons infrastruktuur nie? Hoekom is daar nie langtermynbeplanning en geld en vaardighede en bestuurstelsels nie?

Die antwoord is ingewikkeld. Dit vorm ’n bose kringloop wat ongeveer soos volg verloop:

Die basis van die probleem is ’n chroniese gebrek aan politieke leierskap en aanspreeklikheid. Dit wat op nasionale vlak met staatskaping en korrupsie gebeur, stel ’n voorbeeld wat op ander vlakke nagevolg word. En as die politieke leiers nie aanspreeklik wil wees nie, hoe sal die amptenare wat die werk moet doen, dan aanspreeklik gehou kan word?

Dit veroorsaak ’n traak-my-nie-agtige houding oor dienslewering oor die algemeen en infrastruktuuronderhouding in die besonder. “Ek werk hier om ’n maandelikse salaris te ontvang, en dis dit. Die ambulans wat nie gediens word nie, of die elektriese substasie wat geblaas het, is nie my probleem nie.”

Maar daar is ’n faktor wat hierdie argelose houding vererger. Beide as gevolg van die ideologie van rassekwotas en die mislukking van die onderwys- en opleidingstelsel is daar nie genoeg opgeleide en vaardige mense om in strategiese poste soos ingenieurs, finansiële bestuurders en beplanners aan te stel nie.

Die ou ervare en bekwame mense is laat gaan, en die poste is óf vakant, óf deur onbekwame kaders gevul. Vaardigheidsvlakke is teen die grond.

En met ’n chroniese gebrek aan vaardighede kan geen beplanning gedoen word en begrotings opgestel en gehou word nie. Daar is selfs op nasionale vlak departemente waarvan die jaarverslae nie betyds ingedien word nie en waar chroniese wanbesteding voorkom.

In hierdie stadium begin die stelsel van verwaarlosing en kaderontplooiing dus reeds sy tol eis. Omdat dit die doel van die staatsdiens word om werk aan kaders te skep, word tot 75% van begrotings aan salarisse en konsultante bestee. Daar is dus letterlik nie meer geld oor vir iets alledaags soos instandhouding nie.

En die argument dat ons kan bespaar deur instandhouding uit te stel, kom terug en byt hard. Daardie onderhoud kos dan ’n jaar of wat later dubbel of driedubbel soveel. Vra maar die provinsiale departemente waar paaie ná jare se verwaarlosing heeltemal oorgebou moes word – teen vier of vyf maal die koste van wat gereelde instandhouding sou kos.

Waar departemente en munisipaliteite reeds weens die salarisrekening onder geldelike druk verkeer, word dit verder vererger deurdat hierdie gebrek aan leierskap en aanspreeklikheid en kaderontplooiing ’n vrugbare teelaarde vir korrupsie skep. En dan word die stroom van vermorsing en vernietiging net groter. En die goeie mense loop, en die geld vir instandhouding word nóg minder.

Kies ander leiers en hou hulle aanspreeklik, spesifiek vir instandhouding aan infrastruktuur.

Die gevolge hiervan word grafies in die SAICE-verslagkaart vasgevang. Die fisieke ruimte waarbinne ons die ekonomie moet laat groei, waar onderwys en opleiding moet gebeur, en waar dienslewering aan die armes verleen moet word, is op risiko om te misluk en het in sommige gevalle reeds misluk.

Die gevalle waar swanger vroue babas verloor omdat die ambulanse in die Oos-Kaap nie diensbaar is nie, of kinders van besmette water in Noordwes sterf, is nog vars in die geheue.

Die tragiese is dat SAICE deur die bank die infrastruktuur in landelike gebiede laer as in stedelike gebiede gradeer. In landelike gebiede woon die armste van die armes en moet dienste aan hulle gelewer word. Dit is dus weer die armes wat die spit van gebrekkige instandhouding afbyt.

En só word hul grondwetlike regte vertrap.

Wat kan hieraan gedoen word? ’n Paar opsies bestaan. Kies ander leiers en hou hulle aanspreeklik, spesifiek vir instandhouding aan infrastruktuur. Sommige metro’s het dit reeds verlede jaar gedoen.

Maar daar is eers oor vier jaar weer plaaslike regeringsverkiesings. Hou dus jou huidige leiers aanspreeklik. Werk saam met burgerlike samelewingsorganisasies soos AfriForum om dit te doen (ja, ten spyte van wat my vriend Max du Preez oor hulle sê). Voed mense só op om die waarde van infrastruktuur en gereelde instandhouding te besef en te waardeer.

As ons nie saam iets daaraan doen en staatsamptenare dwing om hul werk te doen nie, gaan die gebrekkige instandhouding ons almal bietjie vir bietjie doodmaak.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.