Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Theuns Eloff: Wie baat by chaotiese staatsdiens?

’n Nuwe styl van leierskap is nodig om weer doeltreffende regering in die land tot stand te bring. Maar tot dan sal ons met ’n ongeorganiseerde chaos te doen hê, skryf Theuns Eloff.

Theuns Eloff.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het onlangs ’n verslag gepubliseer wat duidelik wys dat daar ’n ongehoorde hoë verwisseling van kabinetsministers en direkteurs-generaal sedert 2009 onder pres. Jacob Zuma is.

Daarvolgens is die gemiddelde lengte van ’n kabinetsminister se termyn 8,5 maande, en dié van ’n direkteur-generaal (DG) 22 maande. Sestig persent van verhoudinge tussen ministers en DG’s het net 12 maande of minder geduur en 40% daarvan het ’n waarnemende DG ingesluit.

’n Konkrete voorbeeld hiervan (weliswaar op ’n laer vlak as G) het ook hierdie week na vore gekom. Nadat die destydse hoof van misdaadintelligensie, Mulangi Mphego, in 2009 gedwing is om te bedank ná bewerings dat hy ingemeng het met getuies in die Selebi-saak, is hy deur die nou berugte Richard Mdluli opgevolg.

Ná laasgenoemde se vertrek, is King Bhoyi Ngcobo as waarnemende hoof aangestel. Ná hom is Pat Mokushane aangestel, maar onlangs afgedank omdat hy (net in Suid-Afrika!) nie ’n sekerheidsklaring gehad het nie.

Nou is die vyfde hoof vir hierdie belangrike pos in agt jaar aangestel – weer Ngcobo (wat deel van Zuma se beskermingseenheid was).

Baie senior poste is vakant

Dit het ook verlede week in die parlement aan die lig gekom dat daar op die oomblik 85 vakatures in die nasionale departement van energie is. Dis moeilik om te bepaal watter persentasie dit van alle poste uitmaak, maar die feit dat dit vier van die top-nege-poste (insluitend die DG s’n) insluit, moet kommerwekkend wees.

Selfs die staatsdienskommissie het in 2014 in ’n besprekingsdokument gesê dat kaderontplooiing en gepaardgaande korrupte praktyke uiters negatiewe gevolge vir doeltreffende dienslewering inhou.

Die voortdurende oorsig- en bestuursprobleme by staatsbeheerde entiteite soos Eskom, die SAL en die SABC, asook die skandes van by nasionale en provinsiale regeringsdepartemente (Sassa en Esidimeni is die skrikwekkendste voorbeelde), is ’n onomstootlike bewys dat daar ’n endemiese gebrek aan leierskap, bestuursvaardighede en bevoegdheid in die meerderheid van die staatsentiteite is. En dienslewering word al hoe meer op plaaslike vlak ook deur hierdie faktore verlam.

Die patroon wat na vore kom, is dié van ’n vinnige verwisseling van senior personeel (wat kontinuïteit in die wiele ry en goeie bestuur en doeltreffendheid byna onmoontlik maak), ’n hoë persentasie van vakatures in senior poste en ’n byna algemene onbevoegdheid om die werk te doen.

‘Perfekte storm’ van ongeorganiseerde chaos

Die SAIRV gee drie redes vir dié rondomtalie-verskynsel. Die eerste is Zuma se politiek en sy persoonlike agenda om te verseker dat niemand in sy kabinet sterk genoeg kan word om hom teen te staan nie; en dat hy waarskynlik afdank en aanstel totdat hy iemand kry wat bereid is om na sy pype te dans.

Die tweede is (verstaanbaar) eksterne omstandighede soos afsterwe, bedankings en die verstryking van termyne. Maar die derde is gewoon swak oordeel en ’n onvermoë om mense aan te stel wat kan saamwerk en ’n beleidsagenda in werking kan stel. Hierdie drie sake skep ’n “perfekte storm” van georganiseerde chaos en ’n staatsadministrasie wat totaal wanfunksioneel is. Die prentjie wat die rondomtaliesyfers skets, is een van “grootskaalse onstabiliteit, deurlopende konflik en voortdurende beroering”.

Hierby moet ook gevoeg word die negatiewe invloed van kaderontplooiing op “laer” owerheidsvlakke, met aanstellings wat polities of deur korrupsie gemotiveer is, maar waar bevoegdheid nie tel nie.

Selfs die staatsdienskommissie het in 2014 in ’n besprekingsdokument gesê dat kaderontplooiing en gepaardgaande korrupte praktyke uiters negatiewe gevolge vir doeltreffende dienslewering inhou.

Onlangse betroubare syfers is nie beskikbaar nie, maar daar word geraam dat daar weens die onwilligheid om lede van minderheidsgroepe in staatsentiteite aan te stel, tienduisende vakatures op die drie vlakke van die staatsdiens is. En hierdie poste vereis dikwels juis ’n hoë vlak van kundigheid en ervaring, soos ingenieurs – wat dan in byvoorbeeld munisipaliteite met water- en rioleringsprobleme vakant gelaat word.

Die transformasie-ideologie van rassekwotas – volgens die formule 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër – speel dus ook hier ’n vernietigende rol.

Spanning in ANC verlam doeltreffende regering

’n Ander faktor wat nie altyd genoegsaam in ag geneem word nie, is die impak wat die interne spanning in die ANC op die doeltreffendheid van die regering het.

Pro-Zuma- en anti-Zuma-elemente wat in die staatsdiens werk, kan eenvoudig nie om dieselfde vuur sit nie. En ongelukkig is ons, algemeen gesproke, ver van ’n korps objektiewe en professionele staatsamptenare af, veral in hierdie tyd.

Die beste waarop ons intussen kan hoop, is dat politici en staatsamptenare wat kan en wil bestuur en bereid is om hul nekke uit te steek, wel sal opstaan en leierskap sal toon.

Dit beteken dat die werking van ’n departement of plaaslike owerheid weens die interne partypolitieke spanning heeltemal verlam word. Dit verklaar deels ook die hoë aantal skorsings en tugklagtes wat oor en weer teen staatsamptenare gelê word.

Dis duidelik dat die rysmier van die staatsdiens se bevoegdheid by die ministers, wat deur die president aangestel word, en hul DG’s begin, maar dan op laer vlakke selfs vererger word deur kaderontplooiing, korrupsie, die toepassing van die transformasie-ideologie en gepaardgaande vakatures, asook die spanning binne die ANC wat doeltreffende staatsfunksionering aan bande lê. Ongelukkig is die einde hiervan in die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 nog lank nie in sig nie.

Dit is daarom vanuit hierdie hoek dringend en noodsaaklik dat daar ’n nuwe styl van leierskap op die hoogste vlak kom, anders as die huidige Zuma-leierskap. Of Nkosazana Dlamini-Zuma dit gaan doen, is hoogs te betwyfel.

Om ’n antwoord hierop te kry, sal tot Desember 2017 of dalk later gewag moet word.

Die beste waarop ons intussen kan hoop, is dat politici en staatsamptenare wat kan en wil bestuur en bereid is om hul nekke uit te steek, wel sal opstaan en leierskap sal toon.

Dan kan die “ek-eerste”-kultuur van toe-eiening van die meerderheid van die huidige staatsdiens weer na ’n kultuur van “die mense eerste” omgeswaai word.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die F.W. de Klerk-stigting.

Meer oor:  Theuns Eloff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.