Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tierhoek se populiere bly só ’n towerbos
Johan van Wyk

Die nadeel van om nie meer te rook nie, is dat dit jou van ’n Nuwejaarsvoorneme ontneem. Jy moet ’n Nuwejaarsvoorneme hê. Om nie een te hê nie is soos ’n huis sonder ’n moeder. Ek begin sommer weer rook!

Met die nuwe jaar hier het dié gedagte my vanoggend lank na my ou Zippo-aansteker en ’n houer van swart volstruisleer waarin ’n pakkie 20 Peter Stuyvesant netjies gepas het, met ná jare van leeglê steeds ’n twakgeurtjie, in my lessenaar se boonste laai laat kyk. Soos Chanel no. 5 aan ’n vrou, kleef die reuk van tabak mos aan jou gewese rookgoed soos die reuk van die dood aan ’n kisruiker.

My lank heengegane ou vader se porselein- twakbalie met ’n Hollandse motief ruik steeds na Boxer gemeng met Navy Cut, en ’n halwe appel om die twakkies klam te hou en te geur.

Wat staan my te doen? Moet ek weer begin rook om ’n Nuwejaarsvoorneme te kan hê om op te hou? Toe ek ’n vriend wat ook jare gelede opgehou het daarna vra, het hy vertel hoe hy ook gereeld na sy laaste pyp en twaksak in sy lessenaar se boonste laai kyk. Hy is van plan om wanneer hy in die nuwe jaar 80 word, weer te begin rook.

Wat ek wel gaan doen, is om voordat ek 80 word die Voortrekker-monument in Pretoria weer te besoek.

Nie ek nie. Wat ek wel gaan doen, is om voordat ek 80 word die Voortrekker-monument in Pretoria weer te besoek. Veral noudat dit nie meer net Afrikaners s’n is nie, maar “almal” se monument.

Ek wil weer sien hoe ’n sonstraal om stiptelik 12-uur op die sarkofaag met “Ons vir jou Suid-Afrika” skyn. ’n Diep begeerte om dit vir oulaas te beleef het my oorval toe ek op “Versoenings- dag” teruggedink het aan hoe in my kinderdae “Dingaansfees”, later die nou verdwene Geloftedag, in die populierbos op Tierhoek in die Voor-Hantam met lemoenstroop en skuinskoek gevier is.

In sy boek Die verhaal van Brakwater in die Bo-Karoo oor hul plaas, vertel Fanie du Plessis van Bredasdorp hoe hulle Geloftedag langs die Tankwarivier in die Onder-Karoo, oftewel Ceres-Karoo, gevier het in die dae toe sy pa die hoof van die eenmanskooltjie op Klipbanksfontein in die Bo-Karoo by Sutherland was. As ’n “geleerde” man moes hy die gasspreker se toespraak skryf.

Hoe wit en onskuldig was ons nie!

Net kinderoë kan die klompie populiere op Tierhoek as ’n towerbos onthou, sonder om te kon voorsien dat dit en wat daar deur die Du Plessis-kinders in die afgesonderde Tankwa-Karoo op Geloftedag beleef is, verby sal gaan en in vergetelheid sal verval.

Maar nie verlore nie. Die fiktiewe boerekryger in Christoffel Coetzee se roman, Op soek na generaal Mannetjies Mentz, beskryf die verlies so: “Herinnering is ’n soort wysheid wat sy eie foute uit die verlede reg skep waar ons hier en nou lewe. Op hierdie manier het herinnering te doen met oorlewing . . .”

Wat meer kan ek sê?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.