Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Ace-hulle het ’n hou teen die kop gevat

Al is die finale slag nog lank nie gelewer nie, het die Cyril Ramaphosa-groepering in die ANC die afgelope week ’n goeie dag of twee op kantoor gehad.

“Groepering” eerder as faksie omdat die versplintering in die ANC nou so akuut is dat “faksie” ’n te sterk woord is. Faksies het samehorigheid. Daarby is die groeperings vloeibaar. Soos ’n wolk verander hulle voortdurend van vorm en samestelling.

Byvoorbeeld: Paul Mashatile, tesourier-generaal en Gautengse ANC-leier, het die afgelope week onverwags sy verskyning in die Ramaphosa-groepering gemaak – nadat jare lank gegis is oor die ware ambisies en alliansies van dié spreekwoordelike donker perd van die ANC se binnepolitiek. (Terloops, dr. Piet Croucamp sê Mashatile is ’n politieke liggewig en weinig meer as ’n hoofklerk. Ek glo nogal vir Piet.)

Maar dié week was Mashatile aan die sy van die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe, toe die grinterige ou vakbondbaron soos ’n afdwinger-komissar by die ANC se parlementêre koukus opdaag en die stemvee gelas om te stem ten gunste van die proses wat die parlement begin het om van die openbare beskermer, Busisi­we Mkhwebane, ontslae te raak.

In die bestek van ’n paar minute het die Ace Magashule/RET/EFF-groepering ’n reguit linker teen die kop gevat wat hulle teen die toue laat steier het. Mantashe het met min omhaal ’n dekreet van Maga­shule ’n paar dae tevore dat die ANC-LP’s téén die DA se mosie moet stem oor die Mkhwebane-ondersoek nekom gedraai.

In die ANC se onpeilbare hiërargieë het “comrade esdjie” tradisioneel meer gesag gehad as “comrade chair”. Toe nou nie. Magashule was so bedremmeld soos Simson toe dié ná sy besoek aan die listige haarkapster agterkom sy krag is weg.

Magashule se bondgenote in die ANC is, om weermagtaal te gebruik, meestal ’n klomp politieke sick, lame en lazies.

Magashule het agterna aan ’n plaaslike radiostasie iewers gesê hy glo steeds dit was verkeerd om saam met die “vyand”, die DA, te stem, maar toe ewe plegtig verseker daar sal geen reperkussies wees vir dié LP’s wat sy opdrag verontagsaam het nie. ’n Patetiese ou poginkie om relevant te bly. Wie weet, dalk blyk dit nog mettertyd Maga­shule se Simson-moment dié week was ’n groter keerpunt as wat ons tans vermoed.

Magashule se bondgenote in die ANC is, om weermagtaal te gebruik, meestal ’n klomp politieke sick, lame en lazies. ’n “Optog van die aftjoppers”, soos die boektitel dit het.

Ek meen, sal jy oorlog toe gaan met karakters soos Supra Mahumapelo, Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane, Tony Yengeni, Bathabile Dlamini, Andile Lungisa, Mzwandile Masina en Carl Niehaus?

Ou Carl het skoon dié week ’n RET-deklarasie met 67 stellings gepubliseer wat in melodramatiese taal beduie op watter ideologiese platform die RET-leër sy offensief wil voer. Jy kan kwalik jou kop daarom kry: Niehaus die intellektuele voorhoede van die RET-magte? Die gode is regtig besig om mal te raak.

Mahumapelo en ’n handvol van die ander RET-koukus in die ANC het buite stemming gebly. Hulle het agterna ’n ophef daarvan gemaak dat hulle nie Mantashe se dekreet sou gehoorsaam nie. Dit sal een of ander tyd gevolge vir hulle hê.

’n Maand of wat gelede het Richard Poplak, een van Daily Maverick se veelbesonge skrywers, in ’n gerugmakende artikel aangevoer dis glad nie vergesog nie dat Magashule in die weke en maande vorentoe Ramaphosa uitwerk as ANC-president en homself in Ramaphosa se plek verkies kry en oor twee jaar president van Suid-Afrika word.

Poplak skryf in ’n pittige, leesbare styl, maar dis eintlik maar politieke prosa met min feitelike beriggewing.

Sy lugkasteel van vrees oor “pres. Magashule” lyk ná die week se gebeurde ietwat lamlendig. En dan is daar nog die lastigheidjie van Ace se korrupsie-en-bedrogverhoor wat later vanjaar in die hooggeregshof in Bloemfontein begin.

Nie dat Ramaphosa sit met ’n sterbelaaide span nie.

Ek het hard probeer dink wie buiten Tito Mboweni en Mantashe die ander regte, egte swaargewigte in sy hoek is. Zweli Mkhize, dalk, maar Covid-19 het sy sterretjie laat verdonker. Vandaar is dit vryval tot by Fikile Mbalula(!) en vandaar ’n lugleegte.

Maar, soos alle krygshere weet, jy veg met die troepe wat jy het. Suid-Afrika moet dringend by ’n beter bestemming uitkom as waar ons tans is. Ramaphosa se regerende party is ’n skedonk wat met bloudraad, duct tape en stopverf aanmekaar gehou word. Hopelik hou dit vir ’n laaste rit na die nuwe ekonomiese, politieke en maatskaplike bedeling waarna die land smag.

Eintlik tweede laaste rit.

Die laaste een sal na die politieke begraafplaas wees, daar waar al Suid-Afrika se groot politieke partye die een of ander tyd ’n laaste rusplek vind.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.