Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Anti-kamp kry só juis teendeel vermag

David Brooks is ’n Republikeinsgesinde rubriekskrywer van The New York Times, maar een wat sê hy bevind hom in die anti-Donald Trump-kamp.

Dié kamp, skryf hy vroeër die maand, het die afgelope jaar miljarde woorde uitgekarring om Trump sleg te sê, om sy skandale te onthul en om hom uit te werk. Maar gemeet aan dié doelwitte “is die anti-Trump-beweging ’n mislukking”, sê Brooks.

Trump staan sterker as ooit. Sy oorname van die Republikeinse Party is nou volledig.

“Ek ontmoet omtrent nooit ’n Trump-ondersteuner wat ontnugter geraak het nie. Ek ontmoet dikwels Republikeine wat vroeër ambivalent was, maar wat nou by die Trump-trein aangesluit het,” skryf Brooks.

Eerder as wegstaan van Trump maak Republikeinse kandidate hom deesdae die middelpunt van hul veldtog. Trump se Amerikaanse nasionalisme het inslag gevind. Die kiesers dink hy is konsekwent – hy regeer soos hy sy veldtog gevoer het.

Brooks stip dan ’n paar redes hiervoor aan. Die kiesers hou daarvan dat Trump die politieke en sake-elite aandurf. “Defeat the elite” lui die slagspreuk van een Republikeinse kandidaat in ’n tussenverkiesing. Eggo’s van Brexit, wat ook deels ’n weg-met-die-elite-ding was.

Hierby is die anti-Trumpiste “onuitstaanbaar neerbuigend”, sê Brooks. Trump se teenstanders word geteken as oopkop en waardegedrewe. En
sy aanhangers as geslote denkers, gekant teen verandering en angstig oor sekuriteit. Die media en akademici
dra die meeste skuld vir dié onakkurate en meewarige voorstellings van die Trum­piste, sê Brooks.

En hier is sy belangrikste punt: “Kiesers is bereid om ’n klomp nonsens van ’n president te verduur solank hulle glo hy is basies aan hul kant.”

Ewe min sal ons eie media en akademiese elite Solidariteit/AfriForum uitrangeer deur hulle te verteken as takhare wat hunker na die verlede.

In die politiek is dié stukkie waarheid álles. Die res is detail.

Vat die ANC, ’n beweging wat oor dekades heen ontwikkel het in bes moontlik die kragtigste politieke handelsmerk wat Suid-Afrika nóg gesien het. Suiwer omdat hy massas mense kon oortuig hy is aan hul kant.

Maar, soos hulle sê, in jou sterkste punt lê die kiem van jou ondergang dikwels opgesluit. Vandag is daar ongemaklik baie (vir die ANC) mense wat oortuig raak die ANC is net aan die ANC se kant en bepaald aan die kant van sy korrupte elite. Dié proses het in die Zuma-jare in alle erns versnel. Ons sal moet sien of Cyril Ramaphosa dit kan stop en omkeer.

Julius Malema se EFF slaag die beste daarin om politieke munt te slaan uit die ANC se versuim om te presteer op sy handelsmerkbelofte. Veral wit mense is so gefikseer op Malema se rasretoriek waarin hy ons teiken en problematiseer dat ons nie raaksien wat hy eintlik regkry nie – om kiesers te laat glo hy en die EFF is hul kampvegter en vaandeldraer. En meer so as enige van die ander opposisiepartye.

Maar SA het ook ’n anti-beweging wat, nes die anti-Trump-kruisvaart, besig is om te misluk. Dis die anti-Solidariteit/AfriForum-span. Dié het die afgelope week voorspelbaar op volsterkte begin uitsaai ná AfriForum se private vervolger Gerrie Nel aangekondig het hy oorweeg ’n private vervolging van Malema weens hangende korrupsieklagte.

En nes in die VSA, is dit hoofsaaklik dial-a-quote-professore en lessenaar-ontleders wat lostrek. In dieselfde mislik neerbuigende trant as hul geesgenote in die VSA. Met nóg minder resultate hier as daar.

Want Solidariteit/AfriForum het, nes die ANC van weleer, die EFF vandag en die Trumpiste in die VSA die kragtige persepsie aan hul kant dat hulle
“basies aan die kant van die mense is”, in hul geval merendeels Afrikaanses. Vergewe die herhaling van die cliché, maar dis nogal belangrik: Persepsie is realiteit, veral in die politiek.

Terug by die mislukkende anti-Trump-beweging: David Brooks haal Luigi Zingales, ’n Italiaans-gebore geleerde, aan oor die lesse wat die Italianers geleer het toe hulle die oudpremier Silvio Berlusconi, Italië se eie
Donald Trump, teengestaan het: Moenie op die man of sy persoonlikheid fokus nie. Dit maak sulke figure net groter volkshelde. Fokus eerder op die maatskaplike probleme wat tot die opkoms van die figuur gelei het.

Die les vir Suid-Afrika is dat die ANC-regering die EFF net sal stuit deur die ekonomie aan die groei te kry sodat werk geskep kan word en meer mense deelneem aan die hoofstroomekonomie en armoede sodoende verlig word. Nie deur Malema te probeer nat lek en insluk nie. Of die ekonomie te versmoor met ’n magdom ideologies gedrewe wette en regulasies nie.

Ewe min sal ons eie media en akademiese elite Solidariteit/AfriForum uitrangeer deur hulle te verteken as toekop-takhare wat hunker na die verlede. Doeltreffende openbare bestuur, op alle vlakke, sal handelstoestande vir Solidariteit/AfriForum heelwat bemoeilik. Saam met verligting van die politieke druk waaronder openbare Afrikaanse onderwys verkeer.

Niemand minder nie as Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, het dié week geskryf: “Blameer die nasionale vervolgingsgesag, nie AfriForum nie, vir die chaotiese Malema-korrupsiesaak.”

Saak gesluit, U Edele.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.