Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Breyten help om raserny te stuit

Wys jou net watter verskil ’n impakspeler kan maak. Toe Breyten Breytenbach vir Stellenbosch se taalspan op die veld draf, het die spel ­vinnig ’n heel ander karakter gekry.

Skielik is dit nie meer so maklik om mense en instellings wat intree vir Afrikaans op kampusse af te lag as uit die oude doos, hunkerend na die verlede of die najagers van wit bevoorregting nie.

Breyten was baie goed in sy lewe, maar progressief is die een ding wat hy nog altyd konsekwent was. Die omies-met-grys-skoene-etiket wat die pro-Engels, pro-transformasie-span so kwistig omhang, pas eenvoudig nie om sy nek nie.

In Breyten se brief aan prof. Anton van Niekerk is hierdie smaaklike sinnetjie: “(Terloops, hoe kry u dit reg om saam te lewe met die holruggeryde en holle cliché van ‘transformasie’?)” vra hy aan Van Niekerk.

Wil ek ook weet. Wanneer kry die akademie, die sportwêreld en veral ­sakesektor dit in hul kop dat die ANC “transformasie” getransformeer het? Dis lankal nie meer ’n neutrale woord nie. In Suid-Afrika is dit ’n staatsideologie, soortgelyk aan die staatsideologie van afsonderlikheid in die vorige bedeling.

Wanneer kry die akademie, die sportwêreld en veral sakesektor dit in hul kop dat die ANC ‘transformasie’ getransformeer het?

Vir die ANC beteken transformasie mos net een ding: Wees redelik, word soos ons jou wil hê. Like hell.

Maar dis nie net Breyten se naam wat die taalstryd “transformeer” (!) nie. Sy meesleurende woordvernuf en die wye wêreld van sy denke anker die kwessie op die regte plek: Binne die “konstruk” van diversiteit. (Ek ken ook hipster-woorde!)

In sy openingsalvo-brief aan US-rektor Wim de Villiers, skryf Breytenbach: “. . . die wêreld (besef) alreeds sedert die omverwerping van kolonialisme en die ontluistering van ideologiese en kulturele hegemonieë dat die stryd teen die verlies van die diverse die snykant van progressiewe kennisverwerwing vergestalt.”

My kortbegrip hiervan: Waarlik progressiewes beywer hulle vir die behoud van diversiteit. Die neo-verkramptes is dié wat koorsagtig veg vir die behoud van, en waar hulle vervaag het, die terugbring van die politieke dwangbuise van vergane eras.

Soms verloop alles wat rondom Afrikaans gebeur so rumoerig dat ons nie altyd die vordering raaksien nie. Verlede jaar, toe die kampusopstande erg gewoed het, het dit in ’n stadium gelyk asof Afrikaans se omrol-en-uitsterf-kamp die oorhand kry. Dis nou die mense soos Van Niekerk wat sê om Afrikaans ’n staanplek op Stellenbosch te gee, is soos om “ ’n dooie perd” te probeer lewendig slaan. Veelseggende metafoor, dié een.

Die stigmatisering van die taal, veral deur Afrikaanse neo-hensoppers, is minstens gestuit. Niks verwoord dit beter as dié opmerking van Hope Papo, Gautengse ANC-sekretaris, in daardie onderhoud in Maart met Hanlie Retief nie: “Ons verstáán nie hierdie onlogiese redenasie om ’n koloniale taal soos Engels voor te trek nie, selfs al word dit in die sakewêreld gebruik. Afrikaans is ’n inheemse taal nes Zoeloe, nes Noord-Sotho, nes die ander.”

Afrikaans by Tukkies, Stellenbosch en Vrystaat sal nooit weer wees waar dit in die vorige era was nie. Niemand wil dit hê nie. Ook nie opdwing nie. Maar die anti-Afrikaanse raserny en stigma is minstens gestuit. Nou kan ons rasioneel begin redeneer.

  • Dis nie net die pro-Engelse transformasieslawe wat die diversiteit-ding nie onder die knie het nie. In die ­Pretoriase woonbuurt Valhalla is ’n onverwagse narigheid aan’t opkook oor planne om ’n moskee in die buurt te bou.

Plakkate met die woorde “Geen Isis in Valhalla” word geswaai. En dreigemente om varke te slag op die erf van die moskee word geslinger.

Sakkie du Plooy, ’n stadsraadslid van die Vryheidsfront Plus, verklaar: “Isis vermoor Christene. Hul ondersteun hul dade met die Koran, dieselfde boek waaruit hulle in die moskee in Valhalla gaan lees.”

Du Plooy en sy party moet weet sienings en uitsprake soos dié is nie net totaal buite orde nie, dit verswak ook die middelgrond – dieselfde middelgrond van waar die radikalisme en onverdraagsaamheid, uit EFF-geledere onder meer – beveg moet word wat hom en sy mense in die visier het.

Suid-Afrika het vele kwale. Religieuse onverdraagsaamheid is genadiglik nie een van hulle nie. Dis ’n onheil wat nie nou moet kop uitsteek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.