Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril is op ’n pad wat tot eerlose val kan lei

Die afgelope week vra ek die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh of ek die waarheid en billike kommentaar kan pleit as ek skryf Lucky Montana, gewese Prasa-hoof, het voor die Zondo-kommissie “die bome uit die grond uit gelieg”, om te leen by oorlede oom Hendrik Schoeman.

Ek kan maar skryf Lucky het “die treine van die van die spoor af gelieg”, laat weet Pieter-Louis. Meer as een keer.

Maar oor een ding het “Lucky van Mamelodi”, soos hy graag na homself in die derde persoon verwys, die waarheid gepraat: toe hy getuig het dit wat hy destyds by Prasa aangevang het, “was ’n manier van lewe in die ANC”.

Dis eintlik heel eenvoudig. Jy is ’n goeie comrade en is so ongeveer op papier gekwalifiseer om die hoof te wees van ’n kapitaalryke staatsonderneming soos Prasa, Eskom, Transnet of die SAL. Dan plaas Luthuli-huis se kaderontplooiers, dikwels sommer net Jacob Zuma, jou in die pos, maar met ’n ongenotuleerde voorwaarde. Die tesourie waartoe jy nou toegang verkry is nie net vir jou nie. Ander binnekring-gabbas moet ook “eet” en, baie belangrik, moenie van Luthuli-huis vergeet nie.

Kort ná Montana se verskyning voor regter Raymond Zondo het pres. Cyril Ramaphosa in sy getuienis erken die ANC-regering se bestuur van staatsondernemings was vrot. Maar dit gaan nou verander.

Bekwame mense met integriteit sal voortaan die instellings lei en bestuur. So, geen diefstal en verkwisting meer nie en niks meer geld vir die ANC-koffers nie.

Vroeër vanjaar het Ramaphosa aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee gesê korrupsie is ’n massiewe probleem vir die ANC. In die oë van kiesers is die party “beskuldigde nommer een”. Dit moet stop.

Ramaphosa wil duidelik die “manier van lewe in die ANC” waarvan Montana gepraat het beëindig.

Laas naweek het die hoofleier die daad by die woord gevoeg toe hy die NUK oorreed het om Ace Maga­shule te pos. Anthony Butler, die Ikeys-professor en Ramaphosa-biograaf, sê eerder as om Magashule te neutraliseer wil Ramaphosa eintlik ’n reël neerlê vir die ANC: Voortaan, as jy aangekla word weens korrupsie, is dit klaarpraat met jou. Van nou af sal dade gevolge hê.

So, Ramaphosa wil duidelik die “manier van lewe in die ANC” waarvan Montana gepraat het beëindig.

Natuurlik sal dit goed wees, maar dis nie die kwessie nie. Die eintlike vraag is of die ANC hoegenaamd in staat is tot ’n ander manier van lewe, een sonder korrupsie, diefstal, verkwisting en skaamtelose selfverryking deur die party-elite.

Sou Ramaphosa enige idee hê wat hy in die plek wil sit van die manier van lewe wat hy nou stadig maar seker aan’t doodsmoor is? Want om net te sê voortaan gaan ons nie meer oneerlik wees nie, is kwalik ’n nuwe manier van lewe.

Dis soos verslawing: Om bloot die verslawende gedrag te staak is net ’n deel van die kuur. Veel belangriker is wat in die plek kom van die vakuum wat nou ontstaan.

Eenvoudig gestel: Waar gaan die geld vandaan kom?

Die nuwe wet oor die finansiering van politieke partye gaan sake verder bemoeilik. Die ANC-tesourier, Paul Mashatile, het reeds erken die ANC sukkel finansieel. Salarisse word gereeld laat betaal en daar is sprake dat tot die helfte van die personeel afgedank sal moet word.

Later vanjaar moet die ANC ’n kritiek belangrike (vir hom) munisipale verkiesing voer.

Danksy “die (ou) manier van lewe” kon die party in die geil tye groot geld na sy veldtogte gooi en goed vertoon. Wat gaan hy in dié ronde doen?

Dalk besef Ramaphosa dit, maar hy het nou die verraderlikste gedeelte van sy hervormingspad betree; een wat hom maklik sy politieke lewe kan kos.

Maak geen fout nie, dié wat nou so getrou saam met hom staan, sal vorentoe nie huiwer om die mes tussen sy ribbe in te druk wanneer die bank die weeldehuis en die spoggerige kar kom vat en daar nie meer geld is vir die behaaglikhede wat die ou manier van lewe moontlik gemaak het nie.

Hervormers word dikwels deur hul eie revolusie verteer. Michail Gorbatsjof het wêreldwye eer én die Nobelprys vir vrede gekry nadat hy die Sowjetunie se manier van lewe – verdrukking, stagnasie en aggressie – tot ’n einde gebring het. Maar toe dit wat hy in die plek daarvan gesit het misluk, is hy roemloos tot ’n val gebring.

Die ANC is geen veerkragtige instelling wat reggeruk kan word met ’n middeltermyn-verjongingskuur nie.

Heel tereg is die party al bestempel as “die siek ou man van ons politiek” – een wat kan doodgaan; nie weens die siekte nie, maar weens die medisyne wat nie met die afgeleefde ou lyf wil akkordeer nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.