Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril, kom uit jou bunker en veg

Suid-Afrikaners is in ’n staat van kollektiewe benoudheid. Hulle smeek om ’n wekroep-leier in die liga van ’n Nelson Mandela of Winston Churchill.

Dis nog onseker of Cyril Rama­phosa daardie figuur is. Hy hou tans nog moederliefde-en-melktert-praatjies vir mense wie se demokratiese selfvertroue ’n byna noodlottige hou teen die kop gekry het.

Daar’s ’n ou gesegde in bestuur wat lui jou mense moet jou bewonder én vrees – in gelyke maat. Wie in sy party bewonder vir Ramaphosa? En, belangriker, wie is vir hom bang?

Beslis nie Bheki Cele nie. Ook nie Nosiviwe Mapisa-Nqakula nie. Hulle sien neer op hom. Dalk bewonder die jonger ministers, Ronald Lamola, Mmamoloko Kubayi-Ngubane en Khumbudzo Ntshavheni hom. Maar hoeveel tel hulle?

En sou dit die standaard wees wat Ramaphosa vir hom stel? Dat die mense sê ten minste is hy nie Jacob Zuma nie? Dít terwyl ’n winkelpop ’n beter president as Zuma sou wees?

Boeke oor bestuur het Zuma gewis nie gelees nie. Tog verstaan hy die dinamiek van vrees en bewonder beter as Harvard MBA’s.

Zuma mag in die tronk sit en Ramaphosa in die Uniegebou, maar Zuma weet presies waarvoor hy staan. So ook sy volgelinge. Laas Sondag skryf Mondli Makhanya, redakteur van City Press: “Die RET-masjien het begin morfeer in iets soos Unita in Angola en Renamo in Mosambiek – met ’n sterk mobiliseringsfiguur in die persoon van Zuma.” As jy die politieke kultuur van die ANC ken, sal jy weet welke harde woorde is dié.

Maak die RET’s wat nog in die ANC sit vry om in Zuma se arms te gaan val.

Op papier is die ANC Ramaphosa se masjien. Tog het die afgryslike gebeure van die afgelope twee weke die ANC uitgewys as ’n ronde nul op ’n kontrak. Van ANC lives, ANC leads was daar niks nie. Dis eerder ANC hol weg, ontken, blameer en baklei onder mekaar. Solank Ramaphosa in dié suurstoflose bunker bly hurk, sal hy kwesbaar bly.

Anderkant die ANC-laer sal hy die duisende gewone Suid-Afrikaners aantref wat, toe die onheil losbars, vasgestaan het. En toe dit duidelik word die ANC-staat en veral die beskermingsdienste laat hulle in die steek, teruggeveg het om huis, haard en werkplek te beskerm.

Hy sal ’n sakesektor sien wat uitgestyg het vir die okkasie en sy aansienlike hulpbronne gemobiliseer het. En steeds op die spreekwoordelike ramptoneel is om te help opruim en herbou. Ek hoop Ramaphosa luister fyn en hoor wat hulle sê: Ons is in die grond in platgeslaan, maar ons het geen alternatief anders as om opnuut te bou nie.

Geen enkele een sê ons doen dit sodat ons weer kan winste maak nie. Nee, hulle wil terugkeer na normaal sodat hul mense weer kan werk om vir hul gesinne te sorg. Sodat die township-bewoners wat nie in koeëlvaste karre in bloulig-konvooie Sandton City toe kan ry nie, die gerief het van ’n winkelsentrum en ’n supermark naby die huis.

Dís waar jy ’n nuwe steunbasis kan gaan vind, meneer die president. Die mense kom reg, maar as hulle in jou ’n kampvegter kan kry soos wat die RET-magte in Jacob Zuma het, sal alles net soveel makliker en draagliker wees. Ons praat van hardwerkende, wetsgehoorsame burgers wat oorleef het en selfs vooruitgebeur het in weerwil van dekades van ANC-korrupsie en wanbestuur. Mense wat, anders as die ANC, nóg die tyd nóg die krag het om dag en nag die onontkenbare litteken van velkleur te sit en streel.

Meneer die president, in die uitbou van ’n nuwe radikale sentrum – sou jy belangstel – is die burgerlike instellings jou bondgenote en nie jou opponente nie. Al hou jy nie van almal nie omdat sommiges dalk te Afrikaans of te wit is. Hou van is geen voorvereiste vir samewerking nie.

Maak die RET’s wat nog in die ANC sit vry om in Zuma se arms te gaan val. Begin sommer by die intelligensieminister, Ayanda Dlodlo. Laai af die verstokte sosialiste soos Gwede Mantashe en Ebrahim Patel wat nog nie die nuus verneem het dat die Sowjet-ryk reeds in 1989 vergaan het nie.

En lees gerus Mathews Phosa, die gerespekteerde ANC-strydros en oud-tesourier, verlede week in die Mail & Guardian: “Laat ons nie, andermaal, apartheid blameer, of die virus, maatskaplike onrus of die wêreldekonomie nie. Wat gebeur het, is die resultaat van ons eie handewerk. Ons het bloed aan ons hande.”

En: “ . . .dis tyd vir beslissende optrede wat wys die regering begryp die mense is bang, kwaad, honger, dakloos en bankrot. Hulle smeek om vreeslose, onselfsugtige leierskap,” aldus Phosa.

Kom uit jou hoek uit en veg, meneer die president. Die gewone Suid-Afrikaners sal in hul miljoene agter jou inval.

*Tim du Plessis is voormalige redakteur van Rapport en deesdae nuushoof van kykNET.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.