Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril moet sy JZ-sege opvolg met aksie

Miljoene Suid-Afrikaners het die afgelope week ’n sug van verligting geslaak toe die nuus bevestig is dat oudpres. Jacob Zuma Woensdagnag in die Escourt-gevangenis in KwaZulu-Natal toegesluit is.

Daar was die gebruiklike rasieleiers wat uitasem verklaar het Zuma agter tralies is een van die grootste prestasies van die demokrasie sedert 1994. Ons is tog so goed daarmee om ’n vis te prys omdat dié kan swem.

Al wat eintlik maar gebeur het, is dat die oppergesag van die reg geseëvier het – net-net.

Dis nietemin ’n goeie raaiskoot dat die meeste Suid-Afrikaners dankbaar was dat ’n belangrike sein gegee is dat niemand, nie eens ’n voormalige staatshoof wat die land vir byna ’n dekade oorheers het, verhewe is bo die reg nie.

Die meeste was bly, maar nie almal nie. Die chronies beteuterde ou ANC het Donderdag vir die tweede keer in ’n week dit nodig gevind om te vra vir spasie aangesien die party hom “in ’n moeilike tyd bevind”.

Oor ’n oudleier “vir wie ons lief is” (as jy Jessie Duarte wil glo).

Sou Thabo Mbeki en die ander veterane uit die Mandela-Tambo-Sisulu-era ook voel hulle bevind hul “in ’n moeilike tyd” en is hartseer?

As ek Mbeki was, het ek Woensdag net ná middernag ’n stewige nagsê-dop gegooi. Te hel met hartseer.

Ramaphosa het nou geen verskoning meer om agter sy Mona Lisa-glimlag enigma-enigma te speel nie.

’n Eerste stap vir die ANC weg van sy moeilike tyd is ’n ruiterlike erkenning dat die party die primêre instaatsteller was wat die kombinasie van ramp en tragedie wat Jacob Zuma was, laat gebeur het.

Dat die party lustig meegedoen het daaraan dat ’n toksiese trifekta van korrupsie, kaderontplooiing en staatskaping onder Zuma so gedy het dat die land vandag feitlik op sy knieë is.

Sonder die beslissende keerpunt van so ’n erkenning sal die ANC bly strompel van krisis tot krisis. ’n Fout kan eers begin herstel word as dit erken word. Veelseggend het die don Corleone van die ANC, Gwede Mantashe, reeds aan die Zondo-kommissie gesê daar is geen sprake daarvan dat die ANC kaderontplooiing laat vaar nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n verstandige stilswye gehandhaaf terwyl die finale storm om Zuma gewoed het. ’n Mens sal hoop hy het agter die skerms daardie misbaksel van ’n polisieminister, Bheki Cele, hard in die bek geruk toe dié geweifel het oor Zuma se inhegtenisneming. Tipies boelie. Skadelose ou mense sonder maskers word in ’n vangwa geboender, maar sy broek bewe vir sy eie size of groter.

Sonder ’n uitvoerende gesag wat sonder huiwering hofbevele opdwing, is die ideaal van die oppergesag van die reg net dit – ’n versugting. Die howe het nie hul eie wetstoepassers wat hul bevele imple­menteer nie.

Ramaphosa het nou geen verskoning meer om agter sy Mona Lisa-glimlag enigma-enigma te speel nie.

Die Zuma-eindspel het die Spook van Nasrec, sy rietskraal sege oor die Zuma-magte, finaal begrawe. Die uur het geslaan vir Ramaphosa om uiteindelik die belange van die land, eerder as dié van sy party, voorop te stel.

Die RET-gebroedsel wat so paniekerig aan Jacob Zuma se baadjiepante geklou het, is nou uitgewys as die politieke swape wat hulle nog altyd was. Hulle en hul koterie van onbeholpe regsadviseurs, die een meer obskuur as die ander.

As hulle nie met die verkeerde saak in die verkeerde hof is nie, dink hulle jy kan ’n paar uur voordat ’n bevel van die konstitusionele hof in werking tree, bloot ’n na-uurse e-pos stuur aan die waarnemende hoofregter en hom vra om die bevel se uitvoering terug te hou.

Maar, soos iemand opgemerk het, dié prokureurs en advokate het almal Donderdagoggend in snoesige warm beddens wakker geword, anders as hul kliënt in ’n korrektiewe-dienste-bed in die KwaZulu-Natalse Middelland.

Ná sy faksie se twee liederlike hofnederlae Vrydag besef Ace Magashule seker as hy in die korrupsie-geding in Bloemfontein ’n kans wil staan, moet hy ’n plan maak met Dali Mpofu. Politieke retoriek vergoed nie vir ’n gebrekkige greep op die feite in ’n saak en die reg nie. Iemand het darem seker ’n geldjie uit die geil dae van Estina en die asbes-projek opsy gesit vir ’n reënerige dag, of hoe?

So, die edele idees van ’n regstaat en die oppergesag van die reg het ’n goeie week gehad. Maar dit beteken nie almal kan nou ontspan nie. Nie solank ’n politieke party in Suid-Afrika regeer wat steeds sterk impulse koester dat die politieke magshebbers (lees ANC) die hoogste seggenskap moet hê en nié die howe nie.

Want vir die ANC kom die aanvaarding van die regsorde nie instinktief nie. Dis hoogstens gedrag wat hy (teësinnig) moet aanleer.

  • Tim du Plessis is redakteur van nuus en aktuele saak by kykNET.
Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.