Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril sal moet wys waarvoor hy staan

’n Leier wat nie die meeste van die tyd sy of haar sin kry nie, is gedoem tot mislukking. Dit is dubbel so waar as dié leier ’n hervormer, ’n regrukker of, soos hulle deesdae sê, ’n transformerende leier wil wees.

Natuurlik geld dit ook in ’n negatiewe sin. Leiers wat ’n land of organisasie in ’n verkeerde rigting wil neem, sal ook net slaag as hul idees en sienings konsekwent die botoon voer.

Neem pres. Donald Trump. Sy sukses is eintlik merkwaardig gegewe die mededingende aard van die Amerikaanse demokrasie, selfs binne partyverband. Tog, vandag dans die hele Republikeinse Party met ’n gedugte geskiedenis van prestasie na die pype van een ongure individu wat van koers af is. Trump kry aanhoudend wat hy wil hê.

Oudpres. Thabo Mbeki was ’n president met ’n sonderlinge vermoë in dié verband – ten goede én ten kwade. In die 2000’s het Suid-Afrika se ekonomie flink galop, hoofsaaklik omdat Mbeki se idees oor die ekonomie die deurslag gegee het.

Ons vergeet maklik hoe intens die teenstand binne die ANC-alliansie was teen Mbeki se matig markvriendelike Gear-beleid.

Maar hy was meedoënloos. By verskeie geleenthede het hy die geveg na sy uitdagers in die SAKP en Cosatu geneem – én gewen. Sê wat jy wil van Mbeki, hy was nie bang vir die spul verstokte kommuniste in die alliansie nie.

Heel tereg het die kiesers hom in die 2004-verkiesing beloon met die grootste ANC-sege nog: 69% van die stemme. Kiesers volg nogal ’n leier wat staan vir iets.

Van groter belang is dat die president, toe hy op grond van sy eie oortuiging besluit het om ’n gebaar van verligting te maak, nie sy sin kon kry nie.

Gedurende die MIV/vigs-krisis het Mbeki aanvanklik ook meestal sy sin gekry. Maar uiteindelik het die groteske dwaling onderliggend aan sy sienings oor MIV hom die botoon gekos. Die redes vir Mbeki se voortydige politieke ondergang is kompleks. Maar een is gewis dat hy mettertyd nie meer sy sin kon kry oor MIV/vigs nie.

Dis ’n gemeenplaas dat die Covid-19-krisis tot ’n groot mate pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap sal bepaal. Sommige sê reeds dit sal hom maak of breek.

Dié krisis toets tans Ramaphosa se vermoë om die meeste van die tyd sy sin te kry. Hy veg dapper, maar die telbord wys hy loop agter op punte. Een punt teen hom is aangeteken die dag toe die kabinet en/of daardie “kontrepsie” (Barney Mthombothi se raak woord) genaamd die nasionale bevelsraad oor Covid-19 sy verslapping van die verbod op die verkoop van rookgoed met min respek by die venster uitgesmyt het.

Jy kan sê die verkoop van tabakprodukte is maar ’n middelmatige saak. Maar dis nie die kwessie nie. Van groter belang is dat die president, toe hy op grond van sy eie oortuiging besluit het om ’n gebaar van verligting te maak, nie sy sin kon kry nie.

Want van daar af het dinge suidwaarts geloop vir Ramaphosa. Weg was die leier wat Stella Ndabeni-Abrahams, daardie rammetjie-uitnek minister wat so kontant op die eerste dag van die inperking gaan galavant het, goed vasgevat het. En wat die aand toe hy die korona-hulppakket van R500 miljard aangekondig het, aangedui het hy gaan die bestuur van dié krisis syne maak. En, by implikasie, gereeld sy sin kry.

Op die keper beskou, was sy TV-gesprek met die nasie die afgelope Woensdag nie sonder substansie nie.

Al het dit geverg dat sy troue ondersteuners in die kommentariaat eers die boodskap moes dekodeer.

Wat my betref het die president versuim om die nasionale gemoedstoestand raak te lees. Die mense is kwarantynvoos en het meer nodig gehad as wat hy gebied het.

Wanneer die Covid-19-krisis uitgewoed is, breek Ramaphosa se eintlike taak aan. Dit is om die ekonomie, wat reeds pre-korona uit was op sy voete, te laat herleef met ’n ingrypende herstrukturering en koersverandering. En daarvoor sal hy nie die beweegruimte hê wat hy tans geniet nie, in geen geringe mate nie, danksy die inperking.

Soos oudpres. Nelson Mandela ingegaan het téén die grein van vele in die ANC met sy beleid van nasionale versoening, en Mbeki oor Gear, só sal Ramaphosa moet maak as hy die ekonomie post-korona in ’n nuwe rigting wil stuur.

Wat dit ook al mag wees, want dis een van die goed waaroor hy gereeld praat, maar weinig sê.

Aristoteles het eeue gelede geskryf ons is dit wat ons by herhaling doen.

Ná meer as twee jaar in die tuig en veral sedert die koms van die koronavirus, het ons ’n goeie idee wat Ramaphosa by herhaling doen. Hy raadpleeg in oordaad en hy is weifelend in uitvoering.

Een of ander tyd sal Ramaphosa moet wys waarvoor hy regtig staan. En dat hy meestal sy sin kan kry wanneer hy dit wil implementeer.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.