Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril se groot toets nog op pad

Daar is al gesê die Zondo-kommissie is vir die ANC wat die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) vir die ou Nasionale Party was.

Interessant genoeg is daar ook ooreenkomste tussen die vertoning van pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week voor die Zondo-kommissie en dié van oudpres. FW de Klerk voor die WVK 25 jaar gelede.

Albei het gespartel om die onverdedigbare te verdedig – De Klerk oor die wreedhede en bedoelings met apartheid en Ramaphosa oor die afgryslike diefstal van openbare hulpbronne in die era van staatskaping. Nie een van die twee het oortuig nie.

Albei moes ook pa staan vir vergrype op die wagbeurte van hul halsstarrige voorgangers. Albei het riem gespring omdat hulle in politieke magsposisies was om wandade te stuit, maar versuim het om te handel. De Klerk was ’n senior lid van die PW Botha-kabinet, het by geleentheid gesit in Botha se sinistere “staatsveiligheidsraad” en was die invloedrykste provinsiale leier in die NP. Hy kon antwoorde eis.

Ramaphosa was die adjunkpresident van die land sowel as die ANC, aan die hoof van regeringsake in die parlement, voorsitter van die ANC se ontplooiingskomitee en, baie belangrik, die ANC se nasionale uitvoerende komitee se amptelike toesighouer oor die werk van die ANC-LP’s.

In daardie rol het Ramaphosa met gevoude arms gesit en toekyk hoe die politieke rampokker JG Zuma vyf mosies van wantroue oorleef terwyl haas elke ANC-oorheerste portefeuljekomitee anderpad gekyk het vir sy plundertogte en stropery.

As jy in 1996 nie van De Klerk gehou het nie, om watter rede ook al, sou sy vertoning voor die WVK jou nie anders laat dink het nie. Ditto vir Ramaphosa voor regter Raymond Zondo dié week.

Ramaphosa het reeds veel vermag sedert hy president geword het en daarvoor kry ook hy te min erkenning.

Tog is daar ’n baie belangrike verskil tussen die twee presidensiële momente hier ter sprake. Toe De Klerk in 1996 voor die WVK was, was sy groot taak – om Suid-Afrika weg te keer van apartheid se pad van ondergang – grootliks voltooi. Daarvoor kry hy nie genoeg krediet nie, maar dis vir ’n ander dag. De Klerk het ’n jaar ná sy verskyning voor die WVK al sy politieke ampte neergelê. Sy tyd was verby.

Ramaphosa het reeds veel vermag sedert hy president geword het en daarvoor kry ook hy te min erkenning. Maar eintlik lê sy hef aan nog voor, soos ’n haas onbestygbare bergpiek. Dit is om Suid-Afrika beslissend en finaal weg te keer van die gewisse pad van ondergang weens 27 jaar van rampspoedige ANC-bewind.

Ek is gedaan gelees aan en geskryf oor inventarisse van alles wat verkeerd is in die land. Ons almal voel aan iets sal eenvoudig moet meegee sodat die huidige bedeling kan begin verander.

Maar wat so ’n kataklismiese gebeurtenis of reeks van gebeurtenisse kan wees, kan niemand sê nie. In ’n beleë demokrasie verslaan die opposisie die regering by die stembus en die nuwe bestuur neem oor. Ek sien dit eenvoudig nie hier gebeur nie. En tog, soos prof. Dirk Kotzé nou die dag oor die radio gesê het, verkiesings is belangrik want dis hoe die politiek verander.

Van tyd tot tyd klink stemme op vir ’n nuwe regering van nasionale eenheid. Ander plaas weer hoop op ’n skeuring in die ANC wat ’n koalisie van sentristiese partye aan die bewind kan bring. Asof so ’n droomkoalisie ’n gewaarborgde uitkoms is.

Dit kan ook wees dat ons bly voortkarring op Ramophosa se koers van geleidelike, prosesmatige vernuwing in die vae hoop dat die daalkurwe (verval) en die stygkurwe (herstel) iewers in die verre toekoms kruis en die ergste nie gebeur nie. Ek het nie veel hoop hiervoor nie – die helling van die vervalkurwe is te skerp.

Eers wanneer die beslissende uur slaan, sal ons weet of Ramaphosa kan opstaan vir die groot oomblik.

Suid-Afrika benodig ’n soort 2 Februarie 1990-moment waar alles tot stilstand en koersverandering geruk word.

Maar hier’s die punt: Dit maak nie saak wát in die volgende twee tot sewe jaar in Suid-Afrika gebeur nie, Cyril Ramaphosa sal ’n kritiek belangrike rolspeler wees. Verfoei of bewierook hom dus maar soveel jy wil, maar hy sal die man van die oomblik wees.

Dié vooruitsig stem my nóg verheug, nóg bedruk. Dis gewoon ’n politieke realiteit wat ek of jy nie sal verander nie. Daar is niemand anders nie. Sy moontlike uitdagers is ’n klomp uilskuikens.

So, die afgelope week by die Zondo-kommissie moes Ramaphosa net oorleef en daarin het hy geslaag. Al die snipperige kommentaar en ontledings sedertdien is eintlik maar net kafpraatjies

Eers wanneer die beslissende uur slaan, sal ons weet of Ramaphosa kan opstaan vir die groot oomblik. Want eers dán sal hy die koppie bestyg waarop hy sal seëvier of sneuwel.

Meer oor:  Dis Die Punt  |  Tim Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.