Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Cyril se plan plaas ons terug in ou SA

Die ekonomiese herstelprogram wat pres. Cyril Ramaphosa dié week aangekondig het, het die land teruggevoer na ’n plek wat ons dalk gedink het nie meer bestaan nie: die ou Suid-Afrika.

Die reaksies op die plan het my skoon nostalgies gehad oor al die “hervormings” van opeenvolgende NP-regerings sedert die laat 1970’s om apartheid, die land se sentrale politieke vraagstuk, te probeer beredder.

Die ekonomiese herstelplan (EHP) is begroet met die bekende tiperings van weleer: “te min, te laat”, “dit verander niks nie”, “bestem vir mislukking”, “stap in die regte rigting”, “dapper, maar gaan nie ver genoeg nie” en “die begin van groot dinge”.

Soos destyds, bevat dié reaksies op die EHP elkeen ’n stukkie waarheid. Maar nie een “waarheid” wat sterk genoeg is om die ander te verdring nie.

Ja, “apartheid-Suid-Afrika” was ’n ander plek as “demokratiese Suid-Afrika”. Maar die politieke dinamiek is dieselfde. In eersgenoemde het die regering geworstel met die uitdaging om ’n politieke vraagstuk op te los – ’n verdrukkende, mensonterende stelsel wat dekades lank bestaan het.

In 2020 moet Ramaphosa ’n kreperende ekonomie wat soms dreig om in duie te stort so herstruktureer dat álle Suid-Afrikaners die vrugte daarvan kan deel.

In albei gevalle was en is die oplossing voor die hand liggend: Breek met die gefossileerde dogmas en ideologieë van die regerende party.

Destyds was dit die NP se angsvallige vasklou aan wit politieke oorheersing. Vandag moet die ANC hom losskeur van sy sosialistiese wortels, asook sy koppige geloof in ’n sentraal-geleide staat, een wat landsburgers se lewe moet rig en beheer van die wieg tot die graf.

Soos ANC-dogma dikteer: Óns is en bly in beheer.

“Stap in die regte rigting” is veral gehoor toe die NP die driekamerparlement ingestel het. Maar toe daardie stappery na ’n punt begin beweeg waar wit politieke beheer in die gedrang kom, het PW Botha vasgeskop. ’n Noodtoestand is uitgeroep. Etlike jare daarna was Suid-Afrika so onstuimig dis net godsgenade alles het nie in vlamme opgegaan nie.

Ramaphosa se EHP rus op ’n handvol pilare, waarvan bes moontlik die belangrikste een die groot infrastruktuurplan is met ’n prysetiket van ’n allemintige R1 000 miljard.

Die president weet goed die staat het nie eens naastenby daardie soort geld nie. Hy dui egter aan hy verwag dat die private sektor sal toetree. Op stuk van sake verdrink Suid-Afrika se private sektor tans in ’n dam van werklose kapitaal. Dis miljarde rande wat aanwending verlang om opbrengste vir beleggers te verdien.

Maar hier’s die kruks: Ramaphosa wil hê die staat moet die projekbestuurder wees van die infrastruktuur-bouplan.

Soos ANC-dogma dikteer: Óns is en bly in beheer.

Dis nes destyds. Sodra dit by die punt kom waar die regerende party moet breek met sy sentrale dogma – staatsbeheer in dié geval – steek hy viervoet vas.

Ramaphosa kan hom eenvoudig nie sover kry nie as om te sê: Híér is my infrastruktuur-visie vir die land. Die regering sal die waarborge en ander instaatstellers lewer. Laat die private sektor die ding vat en hardloop daarmee. Dis waarmee hulle goed is en ’n bewese prestasiegeskiedenis het.

Nee, die staat moet voor vat. Een gelei deur ’n politieke party wat die afgelope 26 jaar op 99% van die plekke waar hy die leiding geneem het, klaaglik misluk het.

Sedert Donderdagaand is daar ’n geteem van links dat “groot sake” en die banke nou “na die tafel moet kom”. Waar hul geld welkom is, maar nie hul seggenskap nie.

En hoekom sal hulle? Watter sakeleier by sy of haar volle positiewe durf die korrupsie, die verkwisting, die selfverryking en die ideologiese stompsinnigheid wat ANC-beheer kenmerk, miskyk?

Dalk een hier en daar, maar in die meeste gevalle sal die aandeelhouers hulle bloot nie toelaat om sake te doen met ’n hopelose vennoot wat nog net uitgeblink het in die vernietiging van waarde nie.

Om nie te praat van die miljoene gewone mense wat via hul pensioenfonds aandeelhouers is in daardie ondernemings nie.

En tog. Nes die NP se hortende politieke hervormings destyds, is Ramaphosa se EHP nie totaal sonder verdienste nie. Hervorming, veral in die politiek, is soos fietsry: Jy moet bly beweeg om bo te bly. Dít skep ’n dinamiek waarmee hervormers nie altyd rekening hou by die wegspring nie. Vra vir Mikhail Gorbatsjof en FW de Klerk.

Ramaphosa sal weldra agterkom die denke onderliggend aan die EHP – ’n ekonomie wat ’n bietjie vry is – bestaan eenvoudig nêrens nie. Dit moet ruimskoots oorwegend vry wees.

Intussen, welkom by Ou Suid-Afrika 2.0. Dis baie soos sy voorganger. Kwalik gebruikersvriendelik, maar tydelik. Hulle werk reeds aan ’n volgende weergawe.

Meer oor:  Ekonomie  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.