Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: 'Die DA se nee vir rassigheid’

Die rasgerigtheid onderliggend aan wit oorheersing het Suid-Afrika teen die 1980’s op sy knieë gehad. Eintlik was dit altyd net ‘n kwessie van tyd. Die onreg was eenvoudig te groot.

Vandag, drie dekades later, dreig die rasgerigte doodsgreep waarin die ANC ons beet het om Suid-Afrika oor die afgrond te stoot. Andermaal net ’n kwessie van tyd.

Een voorbeeld: Dis gemeenplaas dat Eskom se dreigende ineenstorting, sou dit realiseer, die hele land sal saamtrek ondertoe. Tog weifel die regering, met die veel geprese pres. Cyril Ramaphosa vooraan, nou al maande lank om ’n bekwame uitvoerende hoof en direksie aan te stel om dié ramp af te weer.

Die rede vir dié kriminele versuim moet in die evangelie van rasgerigtheid gesoek word. Die posbekleër moet swart wees. Want volgens die Tien Gebooie van Ras is die eerste en grootste gebod die velkleur moet “reg” wees. Bekwaamheid, vaardighede en die res is detail.

“Stel bekwame regrukkers aan ongeag ras,” smeek die opskrif boaan ’n rubriek in Business Day die afgelope week deur Lumkile Mondi, ’n dosent in ekonomie aan Wits, iemand met heelwat bedryfservaring. “ANC-binnepolitiek” is die rede waarom dit nie gebeur nie, skryf Mondi. Hy praat van rasgerigtheid wat handel dryf as kaderontplooiing op grond van velkleur – presies dit wat Eskom, die SAL, die SAUK, Transnet en die hele boksemdais in die eerste plek in die gemors gedompel het.

As jy vandag ’n rasbewuste swart kieser is, het jy ’n groot keuse.

Hou die verwagtinge beskeie dat Mondi se smeekbede gehoor sal word. Die ANC se verstek-opsie – in die aangesig van mislukking – is om te volhard met die “oplossing” wat die krisis veroorsaak het. Dis Albert Einstein se definisie van raserny vergestalt: Doen oor en oor dieselfde ding, maar verwag ’n ander resultaat.

So, dis dalk goed dat die “projek” om van die DA net nog ’n ANC-lite-party te maak, dié week in ’n smartfees van trane en bitterheid geëindig het.

Iewers in die parlement moet daar ’n fakkel-party wees vir ware nierassigheid. Al moet dit beteken die DA word weer ’n nisparty. Daar is ’n ooraanbod van partye wat grade van rasgerigtheid aanhang.

Ek het ’n spesmaas die DA se goeie prestasie, bepaald onder swart kiesers, in die munisipale verkiesing in 2016 had meer te doen met ’n gewalgdheid oor Jacob Zuma as met die DA se lompe naderstaan aan ANC-ideologie.

In 2019 het Ramaphosa daardie bloed-ANC’s huis toe gebring. Hoekom in 2019 bodder met ’n ersatz-ANC as jy die ware Jacob kan kry?

Donderdagoggend in Beeld praat prof. Somadoda Fikeni van Unisa van die “pogings van die DA om hom bevry van die albatros van ras”. Dis sommer snert. Dis die ANC wat die ras-albatros van sy nek af moet kry.

Die DA het, dalk net betyds, ontsnap van die besmetting van ras – ’n aandoening met ’n onvermydelike, noodlottige uiteinde.

Oral word die finale ondergang van die DA nou met groot stelligheid voorspel. Laat ons maar sien.

Tot satwordens toe word geskryf en gepraat oor swart kiesers en die DA. Met talle grootbekke wat die DA nog altyd verpes het, voor in die koor. Tog, as jy vandag ’n rasbewuste swart kieser is, het jy ’n groot keuse: die ANC (volsterkte), die EFF, (industriële sterkte) en die UDM en Cope (mediumsterkte).

Watter staanplek in dié oorvol mark is daar vir die DA, sou die party, soos die eentonige paddakoor dié week gekwaak het, voortbeweeg het van ANC-lite na ANC-volsterkte?

Ná die dramatiese vergadering laas naweek van die DA se federale uitvoerende raad het Ryan Coetzee, die party se strateeg en beleidsghoeroe, op Twitter geskryf: “Hier is ’n lys van dinge wat ’n mens tegelyk op dieselfde tyd kan wees: liberaal, ten gunste van herstel/regstelling, gekant teen rasgerigte beleid, passievol om armoede te oorkom, ten gunste van mededingende markte en begrip vir die emosionele impak van SA se verlede. Die DA moet al dié dinge wees.”

Heel doenbaar. Ek sal net “liberaal” onderaan sit of weglaat en “gekant teen rasgerigte beleid” boaan.

Dié is geen pleidooi vir rasblindheid nie. Jy kan nie in 2019 in Suid-Afrika leef en nié terdeë bewus wees van ras nie. Maar jy kán so leef en jou denke so inrig (en regeer in die geval van ’n politieke party) dat ras nie jou lewe bepaal van die wieg tot die graf nie.

Nes die Afrikaners en die wit mense destyds hul rassedogmas moes laat vaar ter wille van die land se voortbestaan, so sal swart leiers en die ANC dieselfde met hulle s’n moet doen. Dis dit of ondergang.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt  |  Da  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.