Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Die val van Zuma het by Kodesa begin

As of wanneer die tronkdeur die dag agter Jacob Zuma toeswaai, sal dit die laaste hoofstuk wees van ’n storie wat begin het toe Zuma en sy geesgenote in die ANC nog in Lusaka gesit en dagdroom het oor die dag wanneer hulle Suid-Afrika op ’n skinkbord sou kry – ’n feesmaal van smul tot in lengte van dae.

Hulle sê hulle het vir ’n demokrasie geveg, maar die een wat hulle in gedagte gehad het, was die post-koloniale Afrika-model. Dit wat al sinies genoem is “een mens, een stem, een keer”. Die soort demokrasie wat Zimbabwe al 41 jaar het.

Terwyl Zuma en sy kohorte in ballingskap lugkastele gebou het, soos iemand wat sy Lotto-miljoene bestee vóór hy nog ’n kaartjie gekoop het, het Suid-Afrikaners op ander plekke diep gedink oor wat in die plek moes kom van die onhoudbare stelsel van wit minderheidsoorheersing.

Die idees wat in daardie dae op eie bodem gebore is, is presies dié waarteen Zuma nou met soveel rou bitterheid losgebars het. Maar eerder as die geweeklaag van ’n slagoffer is dit die desperate stamelinge van ’n terdoodveroordeelde die nag voor sy teregstelling. Die arme ou man.

“Die pynlike vryheidstryd wat ons gevoer het, was vir demokrasie en NIE vir die grondwetlike demokrasie wat ons vandag het nie,” het Zuma twee weke gelede geskryf in sy notas vir sy gesprek einde verlede maand met die ANC se topses-ampsdraers.

Wessels glo – tereg – dit was ’n betekenisvolle sege toe dié idees by Kodesa geseëvier het.

Sy groot geesgenoot in daardie kring, die bedremmelde Jessie Duarte, het sy proteste goed verwoord in ’n artikel in Februarie in die Daily Maverick: die Zondo-kommissie is nou ’n geval van “ ’n regter wat sy ambag beoefen binne die eng beperkings van bestaande wette”. En regter Raymond Zondo het geen waardering nie vir die rol wat “partykoukusse” (lees: die ANC) speel in ’n demokrasie soos Suid-Afrika s’n, het Duarte gesanik. Terwyl Zondo presies doen wat hy moet.

Iemand moet tog vir Jessie en Jacob inlig in Suid-Afrika se demokrasie, die een wat by Kodesa en in die latere onderhandelinge in die 90’s beding is, rus die hoogste gesag in die land nie by die “partykoukusse” nie, maar by die howe, bepaald by die konstitusionele hof. Waar onpartydige regters en NIE benepe, bevooroordeelde politici nie, die laaste sê het.

Uit nuuskierigheid het ek dié week rondgevra wie by Kodesa die vlag vir die ideaal van ’n grondwetlike demokrasie die hoogste geswaai het. Theuns Eloff, wat saam met Mac Maharaj die sekretariaat van Kodesa behartig het, glo dit was die ou Prog-strydros Colin Eglin, nou al etlike jare saliger.

Leon Wessels, destydse NP-onderhandelaar, sê oudpres. F.W. de Klerk het al in April 1990 vir die destydse Britse premier John Major gesê ’n grondwetlike demokrasie is wat sy party vir Suid-Afrika wil hê. Toe Wessels De Klerk agterna pols, het De Klerk gesê sy regsprofessor in die 1950’s op Potch, prof. Wicus du Plessis, het hom geïnspireer. Dié was ’n aanhanger van die Europese model, ’n regstaat met ’n handves van regte en ’n grondwetlike hof. Anders as Brittanje se Westminster-model, waar die oppergesag by die parlement gesetel het.

Wessels glo – tereg – dit was ’n betekenisvolle sege toe dié idees by Kodesa geseëvier het. Die denke aan ANC-kant wat die naaste daaraan gekom het, was dié van oudregter Albie Sachs, wat glo reeds in die ballingskapjare vir die destydse ANC-leier Oliver Tambo gesê het die ANC sal moet vrede maak met die idee van ’n grondwetlik verskanste handves van regte.

“Soos wyle Marinus Wiechers, die Inkatha-Vryheidsparty se tegniese adviseur by Kodesa, al gesê het: dis eintlik die ANC wat ‘oorgegee’ het,” aldus Wessels.

Ja, ’n grondwetlike demokrasie alleen kon toe nie die liederlike korrupsie, verkwisting, verval en wanbestuur keer wat sedertien op die ANC se wagbeurt gebeur het nie. Maar dis steeds ’n brughoof na en ’n stutmuur vir ’n ander bestel waar die ANC-mislukkings en -vergrype van die afgelope 27 jaar ongedaan gemaak kan word. Min tot geen ander Afrikaland in die postkoloniale era het dié voordeel gehad.

Ons sal mettertyd weet of Suid-Afrika hieruit kan munt slaan.

Vir nou kan Zuma maar melodrama pomp en uitvaar teen wat sy motgevrete bendetjie noem ’n “regterlike diktatuur” – dit wat ek en jy ken as die oppergesag van die reg.

Hy’s g’n “gewetensbeswaarde” wie se grondwetlike regte kwansuis misken word nie. Zuma is ’n gewoonte-oortreder wat in die tronk hoort. Finish en klaar.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt  |  Zondo Vs. Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.