Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Dis slegte nuus as DA agteruit sou boer
Tim du Plessis

Oor die groot dae was daar ’n flukse klomp mense wat dié vraag van 2019 bly vra het: Vir wie moet ons stem vanjaar?

Interessant genoeg was dit meestal mense wat veral sedert 1999 se verkiesing nooit onseker was oor waarheen hul stem sou gaan nie. DA, heelpad.

Die ANC en sy liefies in die media en op kampusse het Tony Leon destyds verguis oor sy “veg terug”-veldtog. Dit was anti-swart en reaksionêr, het hulle aangevoer. Wit en veral Afrikaanse kiesers het hulle afgevee aan dié gesanik en in groot getalle vir die DA gestem.

Met die wysheid van die terugblik is dit nou duidelik dít was ’n veel groter keerpunt in die landspolitiek as wat destyds besef is. Dit het die DA op ’n groeitrajek gelanseer tot by die punt waar dit vandag is, vratte en al: ’n saakmakende party wat ’n faktor is in die land se politieke dinamiek. Hiervoor verdien Leon se opvolger, Helen Zille, asook ’n heel nuwe garde van DA-leiers ewe veel krediet.

In die proses het die DA ’n kernbasis (’n base, soos die Yanks sê) opgebou wat tot met 2016 se munisipale verkiesing as solied en vanselfsprekend beskou is.

So, hoe is die punt bereik waar baie mense in die DA se base ’n skamele twee jaar later skielik nie meer so seker is of hulle weer DA sal stem nie? Dit kan tog nie oor Mmusi Maimane wees nie. Hy was reeds leier in 2016, toe die DA op die kruin aangekom het.

’n Lewensvatbare opposisieparty is een van dié dinge wat Suid-Afrika onderskei van talle Afrikalande noord van ons.

Is dit die Patricia de Lille-debakel? Ek hoor min potensieel afvallige DA’s sê hulle wil die party hieroor los. Miskien in die Kaap, waar ek nie so gereeld kom nie. Genoeg mense kan sien antie Pat se tyd is verby en sy was, veral teen die einde, weinig meer as windlawaai.

Toegegee, min dinge stoot ’n party se ondersteuners so af soos nimmereindigende binnegevegte en twiste. Gaan vra die ANC. Tog kan jy nie wegkom van die aanvoeling dat die DA sy pit aan’t verloor is nie.

Is dit dalk omdat die party in die Maimane-era sy pogings verskerp het om swart steun te lok? En in die proses die ANC se klere begin leen het? Veral oor kwessies soos regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en die ANC se primêre bestaansrede: raskwotas, dit wat die ANC eufemisties representivity noem?

Sedert die 2014-verkiesing, toe die DA ontluik het as die meerderheidsparty onder wit, bruin en Indiërkiesers, was die (merendeels ANC-gesinde) kommenteriat se skril reaksie: als goed en wel, maar as julle régtig wil hê ons moet julle ernstig opneem, wys julle kan ook swart stemme lok.

Niemand ontken die logika dat enige party wat wil wen, swart kiesers benodig nie. Die vraag is wat die argument moet wees waarmee jy hulle kan oorwen. Is dit om ANC-lite te wees? Of is dit om terug te keer na die klassiek Westerse liberale wortels in die era van Jan Steytler, Helen Suzman, Zach de Beer en Colin Eglin?

In ’n snelveranderende plaaslike en globale konteks waar ou wyshede en deur tyd beproefde waarhede met min­agting by venters uitgesmyt word, móét daar eenvoudig beter strategieë wees as dié.

Die grootste risiko vir die DA is dat hy in die komende verkiesing agteruit boer. Dit kan fataal wees vir die party en slegte nuus vir die land as die DA in Mei minder kry as die raps meer as 22% wat hy in 2014 getrek het.

Dié is ’n moontlikheid as die DA dit nie regkry om die futloosheid wat hom tans omgeef, te verdryf nie. Die bruin kiesers in die Wes- en Noord-Kaap moet ’n prioriteit wees, asook minderheids­kiesers elders in die land.

Teen stemdag behoort dit maklik te wees om ’n argument uit te maak dat ’n stem vir Cyril Ramaphosa eintlik maar ’n stem is vir die voortsetting van die korrupsie en verval onder die ANC.

Jacob Zuma se toetrede tot sosiale media kan nog maklik die opposisie se grootste bondgenoot word. Gaan kyk gerus op Twitter. Hy is nou selfs meer onuitstaanbaar as toe hy nog president was.

Jy hoef nie van die DA te hou om in te sien die land het ’n sterk DA nodig nie. Nog meer so in die Ramaphosa-era. Ja, hy is ’n veel beter president as Zuma. Maar ons sit nog steeds met ’n uitgediende regerende party wat tot in sy kern verrot is.

’n Lewensvatbare opposisieparty, veral in die onmiddellike postbevrydingsjare, is een van dié dinge wat Suid-Afrika onderskei van talle Afrikalande noord van ons. Dit moet so bly.

Die DA was nog altyd geseën met slim mense. Kan hulle ’n plan sien?

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.