Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Dis tyd vir Zille om blou hoed op te hang

Die probleem met Helen Zille is nie wát sy sê nie. Ook nie die veglustige trant van haar twiets nie. Dis die hoed wat sy op het wanneer sy praat. Dis die verkeerde een en sy kan maar ontslae raak daarvan.

Nie ophou uitpraat of haar woorde tel nie. Spraakvryheid is onder beleg, maar die grondwetlike waarborg staan nog. Dis net die hoed.

Want dis die hoed wat maak dat telkens wanneer Zille dinge sê wat absoluut gesê moet word, ’n siedende storm losbars op sosiale media, een wat die aandag aflei van die belangrike punte wat sy opper.

Daardie hoed is blou en dit kom uit die Huis van DA, die emporium waar sy eens, koningin op die troon, die septer geswaai het. Maar dit was toe.

Nou bestaan die party wat grootliks op haar wagbeurt ’n faktor geword het in ’n ander gedaante en met ander uitdagings. En ek sê dit met re­spek: Al sal Helen altyd Helen wees, is sy eenvoudig nie meer die DA-hoofleier wat die Wes-Kaap stormenderhand vir die DA verower het nie. Die tyd het aangestap.

Dié is nie om te sê Zille het irrelevant geraak ná die verstryking van haar termyn as leier nie. Al verval sommige politici ná uittrede in vergetelheid.

Tog is daar verskeie leiers, staatshoofde en ander ampsbekleders wat ná hul uittrede waardevolle dinkwerk doen en in die proses die wêreld ’n beter plek help maak – in die tradisionele rol van elder statesman. Soos Barack Obama.

Die spieël tussen haar en die DA het gebreek.

Van hulle vaar selfs as “voormalige leier” beter as “dienende leier”.

George W. Bush (2000-2008) het die VSA ’n rampspoedige oorlog in Irak binnegelei. Maar deesdae, met Amerika in ’n staat van ongekende beroering, is hy ’n stem van rede en insig. Veral binne sy eie party, die Republikeine, wat deur die misbaksel Donald Trump gekaap en gereduseer is tot ’n agterryer-party.

Jimmy Carter is nog een. ’n Beteuterde president wat ná een roemlose termyn in die Withuis uitgeboender is, maar oor verloop van tyd gegroei het tot ’n gerespekteerde internasionale figuur.

Tony Leon het hom ná sy uittrede as DA-leier herskep as ’n kranige politieke adviseur en ontleder. Hy skryf insiggewende, leesbare koerantrubrieke en is ’n waardevolle lid op gesprekspanele oor aktuele kwessies, hier en in die buiteland.

Zille sal bes moontlik tot op haar sterfbed ’n politieke vuurvreter wees. Ek sien haar eenvoudig nie in die rol van ’n politieke sieketrooster wat rondloop en gerusstellings uitdeel nie.

Sy is een van enkele openbare figure wat regtig niks bang is om die waarheid te praat in die aangesig van politieke mag nie.

Haar lisensie as ’n politieke joernalis in die 1970’s en ’80’s het sy gebruik om anti-apartheid te wees. Dieselfde toe sy later ’n Black Sash-aktivis geword het en haar geskaar het aan die kant van die ontheemdes en verdruktes.

Sê van Zille wat jy wil, maar bang is een etiket wat jy nie sommer om haar nek sal kry nie.

In die aktiewe politiek is deugde soos dié egter nie altyd ’n aanwins nie. Swyg en anderpad kyk, bring jou dikwels verder as uitpraat en indons. En met eersgenoemdes is Zille nie eintlik goed nie.

Niks skort met die kwessies wat sy te berde bring nie. Al was kolonialisme hóé verwerplik en mensonterend, kan ons geen sinvolle gesprek daaroor hê sonder om ook die argument te boordeel wat aanvoer sekere dinge het ook beter geword danksy kolonialisme.

Zille het sommer nonsens gepraat toe sy beduie het die ANC-regering het nou meer rasgerigte wette gemaak as die apartheidsregering. Maar haar punt – dat rasse-ideologie die doodsteek is – is geldig.

Die NP se obsessie met ras het Suid-Afrika tot by die afgrond gebring en vandag is ons weer daar – danksy die ANC se rasdwepery.

Haar waarskuwings teen die agterlike aard van identiteitspolitiek en die paniekerige vasklou aan slaggofferskap is ewe geldig.

Maar omdat sy steeds ’n belangrike amp in die DA beklee, raak haar aktivisme telkens verstrengel in mislike partypolitiek.

Pleks dat ons praat en dink oor die kwessies wat sy opper, sit ons nou en kyk na die soveelste binnegeveg in die DA. Ek kyk eerder na heruitsendings van die eerste Big Brother.

Dis tyd vir Zille om die blou hoed op te hang. Die spieël tussen haar en die DA het gebreek.

Helen Zille, emeritus-vuurvreter wat aanhou die kaalkop-waarheid praat, het dalk groter relevansie as Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad.

Sonder haar kan die party se twee faksies – die ANC-lite en die Prog-liberale – dan in rus en vrede voortbaklei.

Meer oor:  Helen Zille  |  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.