Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Een mens kan nie meer SA se lot bepaal

Gedurende die Kodesa-onderhandelinge in die vroeë 1990’s het die hardebaarde soms die korps van hoofsaaklik jonger joernaliste gespot wat oor dié historiese beraad verslag gedoen het.

Julle is die enigstes, het hulle gesê, wat ’n voortgaande nuusgebeurtenis kan laat steier van “dramatiese deurbraak” die een dag na “gevaarlike dooiepunt” die volgende dag. Dis tog belaglik.

Smaak my daardie tye is terug. Dié ronde oor die presidentskap van Cyril Ramaphosa.

Die een dag lees jy Ramaphosa se doppie is geklink. As hy nie “val” by die ANC se beleidskonferensie in Junie nie, rol sy kop wanneer die party in 2022 nuwe leiers kies.

Net om dieselfde dag, of ’n dag later, weer te lees of hoor Ramaphosa staan nou sterker in die ANC as ’n jaar gelede, hy hardloop kringe om sy opponente binne die party en daar is geen sprake van “val” nie.

Carol Paton van Business Day word gereken as een van die land se voorste politieke joernaliste.

“Fakkel aangesteek vir Ramaphosa se brandstapel” tier die opskrif bokant haar rubriek die afgelope week oor die relletjie oor Eskom se verbreekte onderneming oor beurtkrag waarin die president, adj.pres. David Mabuza en min. Pravin Gordhan gefigureer het.

Die laaste keer wat ’n individu lotsbepalend vir Suid-Afrika se toekoms was, was presies 30 jaar gelede, op 2 Februarie 1990...

Mabuza se argwaan was, volgens Paton, oënskynlik gemik op Gordhan, ’n troue bondgenoot van Ramaphosa, maar eintlik was Ramaphosa die teiken.

Sy skryf onder meer: Die “brand” wat adj.pres. Mabuza en kie onder Gordhan gestig het, sal (let wel, sal) binnekort vir Ramaphosa ook verswelg en is “die begin van die einde van sy presidentskap van die ANC ná net een onindrukwekkende termyn”.

Nie so haastig nie, Cyril gaan nêrens nie, beduie Melanie Verwoerd ’n dag later in haar rubriek op News24. Die gewese ANC-LP en oudambassadeur herinner soms lesers daaraan dat sy die binnewerkinge van die regerende party goed ken. Inderdaad ’n aanbeveling.

Dis allesbehalwe neusie verby vir Ramaphosa, skryf Verwoerd. Cyril sal die ANC-beleidskonferensie in Junie maklik oorleef. “Ramaphosa is steeds baie meer uitgeslape en strategies as selfs die bestes onder sy opponente.

“Om te kenne te gee die bohaai oor beurtkrag beteken die einde van Ramaphosa, kom neer op ’n ernstige onderskatting van die man. Hy takel nie probleme soos ’n stootskraper nie, eerder op ’n teen-intuïtiewe wyse – ’n gawe wat hom in staat gestel het om lank te oorleef in die politiek,” aldus Verwoerd.

Wie van Paton en Verwoerd het die kat aan die stert beet en wie tref die kol? Ek het eerlikwaar nie die vaagste benul nie. Dalk weet Ramaphosa self nie eens nie.

Maar is dit regtig ’n saak van lewe en dood of Ramaphosa val of oorleef? Kan ’n hele land se lotgevalle so in die hande van een verganklike mens wees?

Sonder twyfel is daar hopeloos te veel watertrappery in Ramaphosa se presidentskap. Hy sukkel om ’n voorwaartse momentum te bewerk. Een tree vorentoe, een tree terug. Vir elke brokkie vordering, is daar ’n stuk stagnasie wat dit ongedaan maak.

Gewis is David Mabuza, sou hy Ramaphosa vervang, ’n sinistere figuur met ’n reputasie wat jou koue rillings gee. Hy of enige kandidaat van die Zuma-Magashule-Malema-spil wat skynbaar ook in die skadu’s saamsweer.

Ons oorlewing as ’n land hang nie af van enige van dié drie persoonlikheid-scenario’s nie. Ons is verby die punt waar een mens ’n hele land se lot kan bepaal. Ja, dis hoe sleg dit gaan.

Nes die “dooiepunt/deurbraak”-ritueel tussen 1992 en 1994 destyds nie lotsbepalend was nie. Die Boipatong-slagting in Junie ’92, die lente van ’92 se “Notule van Verstandhouding” (tussen Ramaphosa en Roelf Meyer) en die Chris Hani-sluipmoord in Paasnaweek 1993 was veel meer deurslaggewend as al die kwansuise “dooiepunte” en “deurbrake” in Kempton Park.

Die harde werklikheid op die grond het Kodesa destyds ingehaal.

Insgelyks hang Suid-Afrika se lot in 2020 nie af van persoonlikhede nie. Die harde, meedoënlose werklikhede, in die land én in die wêreld daarbuite, het vir Ramaphosa, Mabuza en wie ook al nog, ingehaal en verbygesteek.

Ons ken die ysere reël, nie net in die politiek nie, maar in gans die lewe: As jy nie kan besluit nie, sal daar vír jou besluit word. As jy niks doen nie, sal dinge aan jou gedoen word.

Die laaste keer wat ’n individu lotsbepalend vir Suid-Afrika se toekoms was, was presies 30 jaar gelede, op 2 Februarie 1990, toe FW de Klerk ’n besluit geneem het waarvoor hy, volkome tereg, ’n mede-ontvanger gemaak is van die Nobelprys vir vrede.

Nóg Ramaphosa, nóg Mabuza, nóg enige ander ANC-figuur, is van daardie stoffasie.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.