Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Gety aan’t draai in guns van lokalisme

Die ANC se sentrale dogma van ’n oppermagtige staat wat letterlik alles rig en beheer, was reeds voor korona in die wagkamer buite die siekeboeg. “ ’n Staat op sy knieë”, in die woorde van ’n ingeligte burokraat die afgelope week – Jacob Zuma se “geskenk” aan sy geliefde ANC, deurgegee aan die land.

Dit lyk dalk nie nou so nie, maar moenie verbaas wees nie as die virus dié “staatspasiënt” mettertyd stuur na die terminaal-saal.

Met pres. Cyril Ramaphosa se eerste TV-verskyning drie Sondae gelede het dit gelyk of die groot staat ’n comeback maak. So ook ’n paar dae later, toe die president die nasionale staat van inperking afkondig. Hy was indrukwekkend. Die ferm en op die oog af deurdagte optrede van die gesondheidsminister, dr. Zweli Mkhize, het dié gunstige indruk versterk.

Maar toe verskyn ministers Fikile Mbalula, Bheki Cele en Lindiwe Zulu op die skerm om die inperkingsregulasies te bepraat. En skielik val die hyser van die vyfde na die kelderverdieping.

Die vraag is nie of die diepsnydende inperking die regte skuif was nie. Dit wás, sonder twyfel. Ek koop allermins die argument dat jy maar lewens kan opoffer solank die ekonomie net aan die gang bly. Wie gaan besluit wie leef en wie sterf? Die staat of die mark? Jammer, maar as ’n kandidaat vir die sterflys (65+) vertrou ek nie een van daai twee nie.

Wees Mbalula maar genadig. Die ploeterstaat is nie sy skuld alleen nie.

Welke gebroke instrument die groot staat reeds is, het in minder as ’n week van die inperking geblyk. Die vergrype van oorywerige wetstoepassers ure ná die ingrendeling het die eerste rooi ligte aangeskakel.

Teen die einde van dié week het Mbalula, die vervoerminister, paniekerig in die water gespartel in die verwarring oor die regulasies vir minibustaxi’s. Wees Mbalula maar genadig. Die ploeterstaat is nie sy skuld alleen nie.

Simon Jenkins, die Britse oudredakteur en rubriekskrywer, het dié week in The Guardian geskryf hoe die na-oorlogse krisis in Brittanje in die 1950’s geboorte gegee het aan die welsynstaat, daardie een wat vir jou sorg “van die wieg tot die graf”.

Jenkins vra dan wat die korona-krisis sal baar. Want wat die inperkings tot dusver uitgewys het, is private burgers se intense behoefte aan presies dit wat ’n “plaaslike gemeenskap” nog altyd gebied het – ’n straat met winkels, ’n polisiekantoor, ’n bank, ’n biblioteek, dagsentrums en ’n gemeenskapskliniek. Só veel dat hulle nou terugval op tegnologie “om ’n byna Middeleeuse behoefte aan gemeenskapsteun te bevredig”.

Inderdaad. My WhatsApp-groepies en ons I love Northcliff-blad op Facebook is goed en wel. Maar hulle vervang nie daardie diepe behoefte aan egte gemeenskap nie; dít wat die groot staat en die korporatisme van die afgelope paar dekades met hul meedoënlose najaag van sentralisme en besuiniging vernietig het.

Jenkins voorspel wat in die post-korona-wêreld gaan gebeur, is “localism”, die teenoorgestelde van die groot staat.

Spruitend uit sy slagkreet van “ANC lives, ANC rules”, probeer die regerende party nou al sedert vir altyd om ’n voorhoede-staat, of ’n ontwikkelingstaat, hier te vestig. Nugterder ANC-figure soos Trevor Manuel het later die term “bekwame staat” oorgeneem. Maar dié “bekwame staat” was die vroedmeester van die rampsalige Suid-Afrikaanse ekonomie, wat dié week die finale rommel-tjap gekry het. Wat laat jou glo iets het verander?

Kom ons kyk maar wat gebeur as die inperking behoorlik begin byt. As dit nie meer gaan oor hoeveel mense in ’n minibus-taxi mag wees nie, met óf sonder maskers. Of oor die anomalie dat die winkels skeermesse vir vroue, maar nie vir mans nie, mag verkoop. En of die verbod op die verkoop van sigarette en alkoholvrye bier nie belaglik is nie.

Nee, die “bekwame staat” sal getoets word as Covid-19-pasiënte eensaam sterf in hospitaalgange en as desperate, honger mense in die strate voor TV-kameras smeek om hulp. En as die WhatsApp-groepies oorstroom word met stemnotas van leed en smart. Mag die Vader dit behoed.

Kyk bietjie na die Solidariteit-beweging. Flip Buys, voorsitter, sê: As die ouetehuis op ’n afgeleë dorpie bel om te sê hulle is in ’n bestaanskrisis, stuur ons hulle nie na die naaste regeringskantoor nie.

“Ons kontak ons plaaslike mense. Hulle kan omtrent altyd help. Dit verg net inisiatief en die mobilisering van plaaslike hulpbronne, wat nie noodwendig geld is nie.”

Hier’s ’n voorspelling, een wat die deugseiners sal vertoorn wie se sakemodel gebou is daarop om Solidariteit en AfriForum te demoniseer: Dis onseker of die Suid-Afrikaanse staat meer of minder bekwaam uit die korona-krisis sal tree. Dis veiliger om te wed daarop dat die gety aan’t draai is in die guns van Solidariteit en ander se inisiatiewe, na die lokalisme van gemeenskappe van vlees en bloed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.