Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Ghoemas: Breyten en Prinsloo tot Steve
Tim du Plessis

Suid-Afrika het ’n “trotse” tradisie van die gruwelike skending van die reg op vrye meningsuiting en kreatiewe uitdrukking om dienstigheid te betuig aan ’n heersende ideologie en sy politieke afdwingers.

In die 1980’s was daar ’n prestigieuse Afrikaanse eerbewys genaamd “die Rapport-prys vir Letterkunde”. Breyten Breytenbach was die eerste ontvanger. Sy uitdagende, dog profetiese uitsprake by die oorhandigingsaand in April 1986 het ’n siedende woede in die Afrikaner-establishment ontketen. Soveel dat die direksie van Rapport hom van Breytenbach en die prys “gedistansieer” het.

Dié herrie was niks in vergelyking met wat twee jaar later sou volg toe die wenner van die Rapportprys ’n jong avant-garde-skrywer was. Hy het ’n fiktiewe karakter in die wenboek in die kruste taal denkbaar laat sê PW Botha het seks met swart vroue gehad. Koos Prinsloo, sedertdien oorlede, was ’n redaksielid van Rapport, nogal.

Toe die direksie uitvind Prinsloo se Die hemel help ons wen die 1988-Rapportprys het hulle ná min tot geen oorlegpleging summier aangekondig die Rapportprys word afgeskaf.

Die digter en skrywer Johann de Lange het dié ingryping “literêre sluipmoord” genoem. Prinsloo se eensin-kommentaar was “die hemel help ons” (!) (Van baster tot bielie: ’n Oorsig oor die ontstaan van Rapport en sekere grepe uit sy geskiedenis deur Chris Moolman. 2002)

Maar dit was dit. Prinsloo was sy eerbewys kwyt. Die prysgeld van sowat R20 000, ’n skaflike geldjie daai dae, het hy gekry eers nadat hy Rapport met regstappe gedreig het.

Daar is nog voorbeelde. Die ATKV het ’n eerbewys wat hy aan Madeleine van Biljon wou gee, onttrek toe hy agterkom sy is geen Christen nie. In 1986 het die destydse Nasionale Pers sy geldelike steun aan die gevierde literêre tydskrif Standpunte gestaak omdat die redakteurskap van André P. Brink hom nie aangestaan het nie.

Die bedenklike rassepolitiek wat die moreel bankrot ANC bedryf, is geen regverdiging vir Afrikaners om dieselfde te doen nie.

En dís die geledere waarby MultiChoice hom nou aansluit met sy dreigement dat hy sy borgskap van die Ghoemas-musiekpryse sal staak omdat ’n sanger wie se uitsprake en gedrag die heersende politieke hegemonie uitdaag, benoem was vir ’n prys. ’n Afdreiging wat, soos destyds, geslaag het.

Groot maatskappye soos MTN, Toyota, Pick n Pay en Jaguar Land Rover is ook in dié geselskap. Maar hulle is blote slawe van winsbejag, iets waaraan hulle demokratiese vryhede altyd ondergeskik sal stel.

Maatskappye soos die ou Naspers en nou MultiChoice is ook genoteerde winsjagters, maar hulle roem graag daarop dat hulle daarbenewens ook “trotse voogde” is van kunstenaars en joernaliste se reg op vrye meningsuiting. Nou weet ons van beter.

Die reg op vrye meningsuiting is ondeelbaar. As dit verkeerd was dat Breytenbach en Prinsloo dié reg in die 1980’s ontsê is, is dit verkeerd dat Steve Hofmeyr en kie dit in 2019 ontsê word.

Bes moontlik was vele van diegene wat nou instemmend knik oor MultiChoice se sensuur oor Hofmeyr destyds woedend toe Breytenbach en Prinsloo aan die ontvangkant was van politiekdienstige sensuur.

En dié wat vandag uitvaar teen MultiChoice was ewe tjoepstil toe Prinsloo en Breytenbach se stemme in die doofpot gestop is. Hoe ironies.

Dit lyk nou of geprobeer word om (andermaal) ’n “Afrikaner-rebellie” aan te stig oor die sensuur van Hofmeyr en kie se musiekvideo “Die land”. Een “rebel” het skoon aangekondig in “Die land” het hulle nou “ ’n strydlied”.

Stryd om wat? Die herstel van wit Afrikaner-beheer oor die land? Rebelleer is nie sonder waarde nie, maar op die minste moet daar ’n duidelik omlynde doelwit wees, wat meer is as ’n geskel op sosiale media en nostalgie oor “die dae toe dinge nog gewerk het”.

Dié klas rebellies begin dikwels as taalaktivisme vir Afrikaans. Piekfyn met my. Dan volg intree vir die Afrikaanse kultuur. Ook reg, mits dit inklusief is, soos die ATKV dit deesdae doen.

Maar dan op ’n kol kom jy agter ons ywer is nou vir “Afrikaner”. En dis waar jy my verloor. Want van hier af is dit ’n kort sprongetjie na “wit”.

Dis ’n doodsprong, want dit maak ras betrokke.

Die bedenklike rassepolitiek wat die moreel bankrot ANC tans bedryf, is geen regverdiging vir Afrikaners om dieselfde te doen nie.

Vryheid van spraak en van assosiasie asook die vrye uitdrukking van kreatiewe skepping – alles ooreenkomstig die wet – is die moeite werd om voor te stry. Saam met alle Suid-Afrikaners.

En vir Afrikaans het ons ’n beter kans op sukses binne die breë stroom van bruin, wit en swart Afrikaanssprekendes as in ’n doelwitlose rebellie van wit Afrikaners.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.