Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Hillbrow-susters: Uit 10 gee ek hulle 8

Die kwaad-rubriek vir dié ruimte wat Vrydag so teen 12:00 in wording was, was halfpad toe ek ’n WhatsApp kry van my vriend deur dik en dun, Barney Mthombothi. Ons is albei deesdae nader aan 70 as aan 60.

“I’m in the queue at Hillbrow Health Centre. It’s promising. I think you should come over. There are actually more whities than darkies here.” (Gesiggie met breë glimlag en sweetdruppels.) Barney skryf Vrydae sy Rolls-Royce-rubriek vir die Sunday Times.

Sy vorige teksboodskap, anderhalf uur vroeër, het gelui: “Bogger die rubriek. Ek gaan vir ’n inspuiting. Sal jou laat weet hoe dit gaan.” ’n Familielid het hom vertel van die Hillbrow Community Health Centre. Ook op een van Inge, my lewensmaat, se WhatsApp-groepies het iemand dié plek in die hart van Johannesburg se spreekwoordelike hel genoem.

Die vorige dag eet ek en Barney middagete in ’n speelgroepie gepas vir ons ouderdomsgroep. En ons praat Covid-inentings. Ons is almal geregistreer, maar niemand kry die magiese SMS met die voucher-nommer nie. Ons stem saam ons het almal nou net twee groepe vriende: dié wat die lewegewende SMS van die departement van gesondheid gekry het of dié wat Covid-19 kry.

Tot een ou ballie sê: maar Discovery se hoofkantoor is net hier om die draai. Daar spuit hulle dat die rook draai. Gaan wys net jou ID en jou SMS wat sê jy is geregistreer.

Ons los ons koffie half gedrink en vyf minute later staan ons in Sandton voor Discovery se skitterpaleis van glas en beton, ’n baken op die heuwel van private gesondheidsorg. Huurgeld: R23 miljoen per maand, ons bydraes ingesluit.

Geen probleem, sê die suster. Ons sal help.

Waar’s julle vouchers, wil die eerste skildwag kortaf weet. Ons is gereed om die registrasie-SMS te wys en beduie oor ons “spesiale omstandighede”. Geen genade. Maak julle uit die voete.

En toe kom Barney se WhatsApp Vrydag. Nou jy kan ’n Jozi-boy wees soveel jy wil, maar Hillbrow in 2021 is ’n plek wat jy binnery met ’n stewige greep op die stuurwiel en ’n verhoogde hartklop. By die Hillbrow Community Health Centre is die man by die hek saaklik, dog vriendelik. Jy is omring deur liederlik vervalle geboue wat vermoedelik eens Wits se wêreldberoemde mediese skool gehuisves het.

By die eerste aanmeldpunt is die amptenare in hul “department of health”-uniforms ewe behulpsaam, maar ook met ’n tikkie sorgsaamheid. Ek vertel dieselfde storie as Donderdag by Discovery. Geen probleem, sê die suster. Ons sal help. Wag net hier, ons moet voorrang gee aan die mense met afsprake. Maar jy sal vandag nog jou inspuiting kry. ’n Enkele vorm en sewe minute later sit ek in die inspuit-hokkie saam met twee susters. Niks kletspraatjies nie, net hoflike doeltreffendheid. Jy kry die Pfizer-inspuiting en oor drie weke moet jy terugkom vir die opvolg. Maar as jy dan in Kaapstad is, kan jy ook daar die spuit kry. Wys net vir hulle dié sertifikaat, sê sy.

Ek word gelas om my regterskouer oop te maak (oor ek links skryf, sien) en voor ek my kom kry, is die naald in en vloei Bill Gates se “waarheidserum” in my liggaam in. Gaan rus nou net vir 15 minute sodat ons kan sien jy is oukei en dan kan jy gaan, sê die suster terwyl sy die watte oor die “wond” vee.

Ek kom orent en begin my hempsknope vasmaak. ’n Bewerasie van ontlaaiende stres en ’n, sal ons maar sê ’n mediese aandoening, laat my sukkel. Wag, laat ek jou help, sê die suster en sy maak my knope vas, tot heel bo teen my keel.

“Now I’m like your mother,” sê sy en versend my na die post-prosedure-wagkamer. Saaklik, maar nie koud soos haar hande in die vroeg-Johannesburgse winter nie. Volgende asseblief, roep sy oor my skouer.

In die “herstelkamer” kry ek vir Barney, saam met ander herstellendes. Ons herken onder hulle vir prof. Farid Esack, die befaamde Moslem-teoloog verbonde aan die UJ. Ons is ewe verbaas om mekaar hier in die hart van Hillbrow se stedelike verval raak te loop. ’n Byna onbetaamlike opgeruimdheid (vir mense bo 60) heers.

Dit voel nogal soos in die toue by die stembus in 1994 se verkiesing, sê Barney. Ek sê niks. ’94 is deesdae ’n ander land.

Die verpleegsusters en amptenare by die Hillbrow Community Health Centre met hul beskeie salarisse het Vrydag veel meer gedoen vir die reputasie van die gesondheidsminister, dr. Zweli Mkhize, as daardie freeloaders van Digital Vibes met hul bekookte faktuur van R150 miljoen. Uit tien is my merietepunt vir hulle agt. Twee vir Mkhize.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.