Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Hoe voel dit om 'n rollende speelbal te wees?

Iets moedswilligs in my wil vir al die goeie wit mense wat Woensdag gemarsjeer en die #Zuma-moet-val–petisie geteken het, vra: Voel julle nou beter?

Goed. Nou kan ons braai.

Ek sal maar nie. Duidelik is daar baie wat met hul teenwoordigheid in die strate en met die aanstuur van die ­kuber-petisie ’n belewenis gehad het van “uiteindelik kan ek ook my stem laat hoor”. Kyk, hier is ek op Facebook met my plakkaat.

Natuurlik het elkeen die reg om te betoog. En dalk is dit goed dat wit mense nog meer deel word van die openbareprotes-deel van Suid-Afrika se politieke kultuur.

Wit mense se teenwoordigheid in die afgelope week se betogings het ’n geniepsige wrokkigheid by sekere swart groeperings afgegee. Julle het nooit gemarsjeer onder die vaandel van #PWBotha-moet-val nie. Nee, want hy was wit en Zuma is swart. So, voertsek. En daarby besef julle nie #Zuma-moet-val en #wit-bevoorregting-moet-val is dieselfde projek nie, was die algemene trant.

Niemand hoef hulle hieraan te steur nie. Of seergemaak te voel nie. ’n Deel daarvan is skaamte vir Zuma se sotterny wat nou op wit mense uitgehaal word.

Die harde werklikheid is die groot politieke epog wat tans in Suid-Afrika aan’t uitspeel is, het niks met “wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder” (!) te make nie.

Om dit disrespekvol in die taal van ’n vergange era te stel: Dis swart-op-swart-politiek.

Moeletsi Mbeki sê, gestroop tot sy naakte essensie, is dit arm swart mense wat in opstand kom teen ryk swart mense. Die meeste wit mense is in dieselfde kader as die welgestelde swart mense, maar hulle is daar as toevallige bywoners, nie primêre teikens nie.

Die politieke ontleder Steven Friedman skryf Donderdag in Business Day die afgelope tien dae se hoogdrama was ’n veldslag in ’n langdurige geveg tussen stedelike elites (lees moderniste) en wat hy noem “landelike baronne”. Eersgenoemde is verteenwoordig deur ’n alliansie bestaande uit die Gautengse ANC, Cosatu en die SAKP, en laasgenoemde, alles en almal wat vaar onder die vaandel van die “premiersliga”. ­(Zuma se gesalfde in KwaZulu-Natal, die pasverkose ANC-voorsitter, Sihle Zikalala, is blykbaar op pad premiersliga toe.)

Só belangrik was dit vir die stedelike moderniste dat hulle seëvier dat Cosatu en die SAKP skynbaar nie omgegee het om skouer aan skouer met die gehate “neoliberale” in die sakesektor en die geldmarkte te staan nie.

Want op die spel was die sleutels van die nasionale tesourie. Zuma is verydel toe hy op die punt was om die sleutels te oorhandig aan sy bondgenote, die ­hiperkorrupte premiers van die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes. O ja, en die Guptas.

Die dinamiek wat Mbeki en Friedman beskryf, het min tot niks met wit mense te doen nie. Natuurlik is dit in wit mense se belang dat die stedelike moderniste verdere veldslae wen sodat hulle mettertyd volledig die oorhand kry. Maar wit mense kan geen deurslaggewende rol speel na enige kant toe nie.

Die gerekende Afrika-filosoof Achille Mbembe het onlangs in ’n onderhoud gesê die moeilikheid met Suid-Afrika is niks wat jy voorspel, gebeur ooit nie.

Maar selfs hiermee in gedagte is dit veilig om te voorspel 2016 gaan ’n deurslaggewende jaar vir Suid-Afrika wees. Uit sy veelbewoë politieke en persoonlike geskiedenis weet ons dis nie Zuma se ding om te gaan lê en op te hou veg nie. In sy kop is die fiasko van die afgelope tien dae ’n effense ­terugslaggie wat hy in 2016 te bowe moet en sal kom.

Hierteenoor dui alles daarop dat die ANC se moderniste in adj.pres. Cyril Ramaphosa hul man gekry het. Dit lyk of hy – weliswaar diep agter die skerms – sy rol en sy ritme gevind het. Sy uur het geslaan, die een wat hom 20 jaar gelede wreed ontneem is en waarvoor hy so lank gewag het. Hy weet ook nou wie sy ware bondgenote is – asook waartoe sy opponente in staat is.

As buffelboer sal Ramaphosa weet hoe gevaarlik ’n gewonde buffel is. En dat as die gewonde buffel ’n tweede keer storm, daar geen ander opsie is as ’n doodskoot nie. Alles natuurlik polities gesproke.

Om dit disrespekvol in die taal van ’n vergange era te stel: Dis swart-op-swart-politiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.