Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Interne stryd in ANC is g’n aksiefliek

Jy kon die opregte teleurstelling kwalik miskyk.

“Dis ’n maand ná die verkiesing en dit lyk of ons op pad is na nog vyf tot tien jaar waarin ons land opgekerf en verwar gaan word deur die ANC se broedertwiste,” lui ’n twiet die afgelope week van die oudredakteur Ferial Haffajee.

Jammer, Ferial, maar ek het ’n vermoede dis hoe dit gaan wees. Ek het ’n fliek baie soos dié een in die 1970’s en ’80’s gesien. Dis hoe die draaiboek loop.

Terwyl jy in die 1980’s saam met United Democratic Front-aktiviste by Wits teen die driekamerparlement en PW Botha se noodtoestande betoog het, was ek ’n Afrikaanse joernalis wat verby die punt van dood neerslaan berig het oor die hekseketel van broedertwiste in die destydse Afrikanerregering.

Nie veel van ’n struggle-geskiedenis nie. Maar ek het tog iets geleer van hoe nasionalistiese politiek opkom, triomfeer en dan vergaan. Nes nou.

Alles het kort ná die dood van H.F. Verwoerd begin toe prominente Afrikaners in die media, in die kerke, in die literêre gemeenskap en op kampusse ál skerper vrae begin stel het oor apartheid en sy meegaande onregte. Die NP vat ons na onheil. Ons moet ’n nuwe politieke koers inslaan, was die onderliggende boodskap.

Toe hy wel optree, was dit nie Cyril wat vir Ace gryp nie. Dis die ANC wat die praatwerk doen.

Toe B.J. Vorster, wat Verwoerd opgevolg het as premier, boonop begin om, weliswaar bitter tentatief, weg te beweeg van graniet-apartheid, het twee breë strome in die Afrikanerpolitiek ontstaan. Hulle is mooi raakgevat in (destyds) prof. Willem de Klerk se nuutskeppings van “verlig” en “verkramp”.

By twee geleenthede het die faksiegevegte tussen die verkramptes en verligtes oorgekook in skeurings na regs, eers die Herstigte Nasionale Party in 1969, en later die Konserwatiewe Party in 1982.

Oor byna drie dekades heen was die twee Afrikanerfaksies gewikkel in siedende gevegte oor die vraag wie nou eintlik regtig “die NP van Malan, Stry­dom en Verwoerd” verteenwoordig. En wie getjap moet word as “die skeurmakers wat die volk verdeel” – altyd ’n smadelike aanklag.

Die verkrampte stroom het oor die jare heen gegroei in kieserstalle, maar die verligtes het die botoon bly voer, ook omdat hulle beheer kon hou oor die NP-handelsmerk. Hulle kon sê die Afrikaners se verbondsark rus by die NP, nie by die HNP of die KP nie.

Heel uitgeslape is dié twiste selde getipeer as “John Vorster teen Jaap Marais, of as “PW Botha teen Andries Treurnicht”. Die twee regse uitdagers is deurentyd onder die partyvaandel getakel as ontroue wegbrekers.

Daar is nogal veel van dié taktiek te bespeur in Cyril Ramaphosa se hantering van Ace Magashule se rebellie. Ramaphosa sien noukeurig toe dat sy faksie besit en beheer hou van die handelsmerk. Die ANC se verbondsark rus by hulle.

Ramaphosa het hom byna ’n week lank doof gehou vir die histeriese gesanik in die media dat hy Magashule kwansuis nóú voor die bors moet gryp.

Toe hy wel optree, was dit nie Cyril wat vir Ace gryp nie. Dis die ANC wat die praatwerk doen. En al is nie ál die ANC’s in die leierskorps aan Ramaphosa se kant nie, is sy opponente grootliks geneutraliseer wanneer dit die ANC se topses of die nasionale werkkomitee is wat die sanksie oor Magashule bring, soos laasweek gebeur het.

Magashule het die skermutseling wat gevolg het op sy Reserwebank-uitstappie met ’n ligte bloedneus verloor. Maar hy is nie verslaan nie en die oorlog is nog lank nie gewen nie.

Dié fliek wat in die ANC begin draai het, gaan hom nie van toneel tot toneel laat aanjaag nie. Dis geen aksieprent wat in 90 minute verby is nie. Dink eerder uitgerekte kunsfliek met lang tonele waar weinig meer as ’n gesigsuitdrukking verander.

Ramaphosa en Magashule weet ook albei die ANC se gesagsliggame sit vol opportuniste en manteldraaiers wat nou laag lê en nie kant kies nie. Hulle sal tot op die nippertjie wag om te sien wie tree na vore as die wenperd. En dan hul gewig agter dié ingooi. Dis ’n getallespel en Ramaphosa én Magashule besef dit terdeë.

Die ANC is vandag in vele opsigte net so verguis as die NP desjare. Maar nes in die 80’s, toe Suid-Afrika in ’n politieke doodloopstraat was, sal die interne dinamiek van die regerende party ’n sleutelrol rol speel in enige proses om die land te laat omdraai op die pad van ekonomiese stagnasie waarop ons beland het.

Maak reg vir die politiek van die langpad.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.