Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Is skeltaal teen wittes voorspel tot onheil?

Dalk verbeel ek my, maar ’n mens hoor nie eintlik meer prominente Suid-Afrikaners praat van versoening nie.

Wat jy wel hoor, veral by die nuwe garde van politieke stemme, is hoe die hele idee van versoening uitgelag en bespotlik gemaak word.

Versoening was die wekroep waarmee leiersfigure soos oudpres. Nelson Mandela en emeritusaartsbiskop Desmond Tutu in 1994 die enjin van die (destyds) nuwe Suid-Afrika aan die gang gekrink het. Versoening word implisiet vermeld in die aanhef tot die 1996-Grondwet, waar Suid-Afrikaners opgevorder word om die verdelings van die verlede te “heel”.

Aanvanklik was die idee om bloot ’n “waarheidskommissie” in die lewe te roep. Later is berekend besluit om die woord versoening deel van die kommissie se titel en mandaat te maak – aanduidend van hoe belangrik versoening destyds geag is.

Mandela se presidentstermyn het geheel in die teken van versoening gestaan. Jy het selfs enkele eens stoere Afrikanernasionaliste hoor sê ek het altyd in apartheid geglo, maar ek staan ook nou vir versoening.

Oudpres. Thabo Mbeki was die eerste wat ’n tree weg van versoening gegee het. Sy mantra, toe hy die amp in 1999 betree, was: versoening ja, maar eers as daar “transformasie” was. Van daar het versoening begin agteruitboer.

Die onlangse debakel ná Zindzi Mandela se twiets wat wit Suid-Afrikaners gedemoniseer het, het wat my betref versoening formeel dood verklaar. Iemand het haar op Twitter getakel oor die ironie dat die dogter van Nelson Mandela, vader van versoening, sulke anti-wit-sentimente koester.

Die onlangse debakel ná Zindzi Mandela se twiets het wat my betref versoening formeel dood verklaar.

“Ek is nie daardie president nie,” het Zindzi vinnig geantwoord. En te kenne gegee sy is nader aan die idees van haar vuurvreter-ma, wyle Winnie.

Ons het gesien hoe hartstogtelik die EFF Zindzi se tirade teen wit mense gesteun het. Niks buitengewoons nie. Sonder wit Suid-Afrikaners om te verfoei sou die EFF nie kon bestaan nie.

Dr. Naledi Pandor, minister van buitelandse sake, het Zindzi wel berispe oor die diplomatiek onbetaamlike aard van haar uitbarsting. Dis onbekend of sy ook aangespreek is oor die inhoud daarvan. Nêrens is ’n ANC-woordvoerder of leiersfiguur gehoor of gesien wat sê haar woorde rym nie met die ANC se filosofie nie.

Dis nie net die EFF en die politieke magshebbers se skuld dat versoening nie meer met ons is nie. ’n Aanmerklike aantal wit Suid-Afrikaners was ten beste altyd louwarm daaroor, of het dit nooit aangehang nie. Jy het nie nee gestem in die 1992-referendum net om in 1994 versoening te begin koester nie.

As die meeste Suid-Afrikaners nie verder met mekaar wil versoen nie – as dit inderdaad so is – ontstaan die vraag wat in die plek daarvan kom. Wat moet gedoen word om haat, onverdraagsaamheid en vooroordeel – aan weerskante van die spektrum – af te wentel? Om dit reguit te stel: Hoe keer ons dat die land op die noodlottige glybaan na ’n rasse-armageddon beland?

Pres. Cyril Ramaphosa het in die parlement al “eenheid” bepleit en klem gelê daarop dat Suid-Afrikaners mekaar nodig het. Dis waardevol.

Op die duur is daar net twee werklike keerwalle. Gewone Suid-Afrikaners moet as individue die waarde van verdraagsaamheid en die ondeug van vooroordeel herontdek. Maar nes familielede nie gedwing kan word om mekaar lief te hê nie, kan jy landgenote nie vriendelik oorreed om mekaar te verdra nie.

Daarom moet die instellings benut word wat die Grondwet daarstel, bepaald die howe en die vervolgingsgesag. Onder die hoofstuk 9-instellings is die Menseregtekommissie (MRK) ’n betekenisvolle een. Maar dié is die kluts kwyt ná daardie bedenklike bevinding in Mei dat Julius Malema se onheilspellende uitspraak dat die EFF “nie nou reeds” sal vra vir die slagting van wit mense nie, nie neerkom op haat­spraak nie. Uit die gemartelde agterna-verduidelikings van die MRK is afgelei die kommissie dink die konteks van die verlede verskoon haatdraende uitlatings. Dis ’n gevaarlike dwaling. Die uitspraak word tans deur die howe hersien. Hopelik kom daar ’n regstelling.

Ek roer nie dié tema aan uit vrees of paniek nie. Ek het nie eintlik ’n akute angsbelewenis van “minderheidstatus” nie. Maar wat gemaak as landgenote my, suiwer op grond van velkleur, begin teiken met demoniserende skeldname soos “die 1652’s”, “onwelkome besoekers” en “gronddiewe”?

Op stuk van sake het Adolf Hitler nie een goeie môre aangekondig die tyd het aangebreek om die Jode te “slag” nie. Jare van stelselmatige verdagmaking het die klimaat geskep wat Hitler van die steun van die Duitse volk verseker het toe hy wel die opdrag gegee het vir die Joodse volksmoord. Met skeldname soortgelyk aan dié wat Zindzi Mandela, Julius Malema en hul meelopers deesdae teen wit mense rig.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.