Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Jy kan die land van afgrond red, Cyril

Reg aan die einde van die ontleder J.P. Landman se onlangse prestasie-inventaris van Cyril Ramaphosa se stappe as staatshoof om korrupsie te bestry, verskyn dié veelseggende sin: “Pres. Ramaphosa het duidelik die staat op ’n nuwe trajek geplaas. Dit is belangrik dat die ANC nou in sy voetspore volg.”

Let op die bewoording: die ANC moet. Nie Ramaphosa nie.

En hiérvoor, so het gebeure sedert Landman se artikel oorvloedig gewys, is die kanse minder as nul. Ace Magashule as die ANC se uitvoerende hoof sal die leiding moet neem. Dink enigiemand dié rampokker, wat soos ’n siek kankerlyer deurtrek is van korrupsie, kan dit doen?

Tog is Magashule nie die grootste probleem nie. Hy kan vervang word. Maar hoe verander jy ’n hele politieke party se kultuur en die ganse denkwêreld van die meeste van sy leiers?

Mense vir wie dit tweede natuur geword het om politieke mag en invloed uit te buit vir geldelike gewin? Wie se verstekposisie ’n geloof is in hul eie verhewenheid bo die reg?

Ure voordat die tronk se deure dié week agter hom toeswaai, verklaar die verwaande Oos-Kaapse ANC-politikus Andile Lungisa hy is “nie geskik vir die oneetbare kos, die ongerieflike slaapgeriewe, die risiko van geweld en die vernederende ablusiegeriewe wat gepaard gaan met gevangenisstraf nie”.

En dié juweel: “ . . . die publiek wil nie hê ek moet onderwerp word aan sulke onmenslike behandeling nie.” (Absoluut, Andile, ons wil nie.)

Hy verwerdig hom nie eens om, soos sy partygenote in dieselfde penarie doen, sy onskuld te betuig of “sameswering” te skreeu nie. Hy ag hom gewoon verhewe bo gevangenisstraf. Want dis hoe hy politiek gesosialiseer is in die ANC, sedert die dae toe hy die adjunkleier was van die ANC-jeugliga en deesdae as ’n ANC-raadslid in die Baai.

Dis menslik onmoontlik vir Ramaphosa om man-alleen dié toedrag van sake te verander.

As ek en jy ’n kollega se kop flenters slaan met ’n waterfles én die appèlhof handhaaf ’n skuldigbevinding en vonnis, gaan ons tronk toe, finish en klaar. Maar nie as jy Andile Lungisa van die ANC is nie. Dan het jy ’n aangeleerde verwagting om die reperkussies van jou wandade vry te spring.

Dié week, toe die bohaai losbars oor die ANC-kokkedore se onheilige pelgrimsreis in ’n lugmagvliegtuig na Harare om hul geesgenote in Zanu-PF te gaan paai, was hul eerste reaksie: maar ons het niks verkeerd gedoen nie! Die kritiek op ons getuig van onkunde oor hoe dinge werk. Die ANC en die staat “is een”, het min. Lindiwe Zulu verklaar.

Dit het nóg by haar nóg by die ander kamerade opgekom dat hulle ook ’n handvol regulasies oortree het, insluitende die verbod op buitelandse reise ingevolge die Covid-19-maatreëls. Want daarvoor is die denkpatroon van een stel reëls vir ons en ’n ander een vir die res, eenvoudig te diep vasgelê.

News24 het die afgelope week berig oor ’n verbete terugvegpoging in die ANC se integriteitskommissie in Gauteng waar aantygings van Covid-19-korrupsie aangehoor is. Een van dié wat haar moes verweer, is Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder. Haar man, “koning” Thandisizwe Diko, het ’n allemintige Covid-19-tender van R125 miljoen losgeslaan, glo danksy die Diko’s se hegte huisvriendskap met dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid in Gauteng. Masuku is nes Diko geskors, besig om “opsy te staan”, soos die ANC-eufemisme lui.

Toe die integriteitskommissie Diko daarop wys dat die hele ding onreëlmatig was, het sy verontwaardig gereageer. Dit maak nie sin nie, en wat die kommissie nou vereis, het nog nooit voorheen in die ANC gebeur nie, het me. Diko aangevoer.

Van bedenklike ANC’s, soos Lungisa en Zulu, kan ’n mens dit nog verwag. Maar as “goeie ANC’s” soos Diko wys ook húlle leef onder die waan van verhewenheid bo die reëls, moet jy weet die morele verrotting is hardnekkig en wydverspreid. Om te leen by Carl Niehaus, die Zuma-faksie se voorhoede-intellektueel: die ANC is korrupsie en korrupsie is die ANC.

Dis menslik onmoontlik vir Ramaphosa om man-alleen dié toedrag van sake te verander. Dit sal hom beter loon om voluit te konsentreer op die doelwit van ’n funksionele staat – een wat hy gevisualiseer het toe hy en Trevor Manuel die Nasionale Ontwikkelingsplan geskryf het.

Daar is aanduidings van vroeë bloeisels van ’n lewensvatbare ekonomiese herstel-en-groeiplan in Nedlac, waar die regering, die sakesektor en die vakbonde maande reeds die kwessie bepraat.

Dís waar Ramaphosa sy leierskap en geestesenergie moet fokus. Want dis waar die geskiedenis hom nie net sal vryspreek nie, maar waar hy aangeteken kan word as ’n keerpunt-figuur wat, toe die afgrond gewink het, Suid-Afrika daarvan weggekeer het.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.