Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Koerante wat nog orkane kon stook

Hulle sê hoe ouer jy word, hoe armer was jou pa en hoe verder het jy skool toe geloop. Waarby hierdie ou koerantman vandag wil voeg: en hoe lewendiger en nuttiger was die koerante. En hoe groter hul invloed.

Verduur tog maar dié bietjie Paastyd-nostalgie.

’n Behaaglike herfs, met die “jaar (wat) ryp (word) in goue akkerblare en wingerd wat verbruin” – soos N.P. van Wyk Louw gedig het – is aan’t neerdaal.

Ek het dié week laataand tussen my huis in Johannesburg en die O.R. Tambo-lughawe aan die Oos-Rand gery om my kind op te laai. Google Maps se kortste roete was ’n mengsel van snelweg en voorstedelike strate.

Gautengers sal weet waarvan ek praat. Verval vloei soos modderwater in dik strome in ons strate. Om elke hoek en draai lê die allervieslikste slaggate op loer, goed wat jy altyd gedink het net in mislukte ANC-dorpe op die platteland voorkom.

Voetgangers loop in die pad omdat sypaadjies verbrokkel en toegegroei is deur reusagtige onkruidbosse. Hopies vullis op straathoeke.

Snags ry jy vier, vyf blokke sonder om ’n enkele brandende straatlig te sien. Met jou hoofligte op helder.

Baie gou sou die politici en die stadsbestuurders besef: die koerant is besig om ’n orkaan teen ons te stook.

In Beyers Naudé-rylaan naby ons is ’n diep slaggat wat een hele rylaan versper. Die stadsraad doen niks. Inwoners daar naby bring self versperrings en linte aan om motorryers te waarsku. Nou die dag is die wiel van ’n groot 4x4-voertuig mors­af gebreek in die krater.

Soms dink ek die verval van Jo’burg, my woelgees van ’n stad met sy goue hart, is onomkeerbaar.

Dan verlang ek na die dae toe The Star, Johannesburg se stadskoerant, nog lewenskragtig en invloedryk was. Die Star sou van die slaggate ’n feesmaal gemaak het. Met letterlik elke dag ’n berig in die koerant, dikwels op die voorblad, met ’n spesiaal ontwerpte logo. War on potholes, of so iets. Opgejazz met groot, dramatiese foto’s wat elkeen ’n verhaal vertel. Vergesel van teks wat binne twee paragrawe jou bloed laat kook het. Meedoënloos, dag ná dag.

Baie gou sou die politici en die stadsbestuurders besef: die koerant is besig om ’n orkaan teen ons te stook. As ons nie vinnig begin gate toemaak nie, gaan ons wegwaai. Resultate het nie uitgebly nie. Sê van die koerant wat jy wil, maar die lesers het geweet hierdie koerant is aan ons kant. En het hul lojaliteit betuig met volgehoue subskripsie.

Vandag hoef Geoff Makhubo, Jozi se ANC-burgemeester wat onder ’n wolk van korrupsie regeer, hom nie veel aan The Star te steur nie. Groot dele van ons hoofstroommedia is invloedloos, ingebed in ANC-ideologie en mitologie. En onder die bedenklike eienaarskap van Iqbal Survé is die eens gedugte Independent-groep, waar The Star setel, soos ’n Johannesburgse sypaadjie: vermy liewer.

Soos Johannesburg, het elke groot stad en dorp in die hoogbloeijare van drukmedia ’n koerant gehad, ongeag hoe groot of klein, wat dieselfde kon doen. Vrot politici, knoeiers en pligversuimers het hulle verafsku en probeer diskrediteer met skeltaal soos “rioolsloot-publikasies” en “smeerblaaie wat net sensasie soek”.

Ons was dikwels verkeerd. Maar op balans het ons meer goed reg as verkeerd gedoen. Ons was ’n krag ten goede.

“Joernalistiek in die openbare belang is die naaste wat ek ooit sal kom aan ’n godsdiens,” het Bill Kovach, destydse kurator van die Nieman-program by Harvard, in 1992 in sy openingswoorde aan ons klas verklaar.

Hierdie “geloof” het hom die redakteurskap van die Atlanta Journal-Constitution, dié stad se dorpskoerant, gekos toe hy die belange van Atlanta se mense hoër geag het as dié van die magtige Coca-Cola-korporasie met sy hoofkantoor in Atlanta.

Ja, almal weet die era van gedrukte media is verby. Beweeg aan. “Inligting op platgestampte boomstompe” het Koos Bekker hulle al in 1998 getipeer.

Tog kon die “digitale platforms” wat nou oorneem nog selde daardie verskilmakende campaigning-joernalistiek bemeester waarin die verdwynende drukkoerante so uitgemunt het. Hulle probeer, maar impak bly hulle ontwyk.

Die meeste berigte is langdradig en anemies. Slordig geskryf en nie behoorlik geredigeer nie – ’n simptoom van die haas onbeperkte ruimte wat joernaliste in die digitale sfeer geniet.

Jy sien op Facebook meer foto’s wat jou aangryp as op dié “platforms”. Selde is daar ’n opskrif wat jou tussen die oë slaan. Dis hoogstens “Pous bid vir vrede”, “Rama­phosa vra vir eenheid” of “Geliefde oudleraar sterf op 98”.

Die digitale “platforms”, dikwels met Twitter en Instagram in die voorhoede, het al sukses behaal om vermeende én egte rassiste tot ’n val te bring. Maar hierlangs kon hulle nog geen slaggat toegemaak kry nie.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.