Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Los die konsulteer en begin marsjeer!

Toe Cyril Ramaphosa 18 maande gelede die staatshoof word, is ’n klub gevorm, een sonder ’n naam. Maar met drie motto’s. Een: “Cyril speel ’n langtermynspel”. Twee: Hy het groot planne, hy kort net ruimte om met sy opponente binne die ANC “af te reken”. Drie: Konsensus is sy ding.

Die klub het ’n hoogbloei gehad in die Mei-verkiesing. Hulle gaan ANC stem “om vir Cyril te help”, het die lede verklaar. Deesdae, drie maande later, is die klub bra swygsaam. As die ledetal nie reeds daal nie, staan dit stil.

Die alom-gerespekteerde redakteur en kommentator Ferial Haffajee was nooit ’n hoëprofiellid nie. Tog, oor die Nasrec-uitslag het sy iewers gesê die ANC se “verstandige sentrum” het die oorhand gekry.

Maar begin Julie skryf Haffajee op Daily Maverick: “Rus in vrede Ramaforie: gebore Desember 2017, gestorwe Junie 2019”.

“In weerwil van die vooruitsig dat sy presidentskap een van implementering en vordering sou wees, het dit vasgeval in digkuns en belofte, waarvan sy droomlandskap ’n voorbeeld is,” skryf Haffajee. Sy praat seker hier van die “suid-na-noord”-sneltrein en die nuwe “superstad” waaroor Ramaphosa liries geraak het in sy staatsrede in Junie.

In ’n persoonlike gesprek kort daarna sê Haffajee: Ja, sy glo nie eintlik Ramaphosa het werklik wat dit gaan verg om Suid-Afrika in ’n krisistyd te lei nie. (My parafrasering).

Sy vra of ek die boek What Got You Here Won’t Get You There van Marshall Goldsmith gelees het. Ek het nie, maar sy sê die titel sê eintlik alles. Dit wat Ramaphosa tot voor sy presidentskap toegerus het vir sukses, gaan dalk nie genoeg wees vir die reuse-uitdagings nou op hande nie.

Hy sal sy eie mense, by wyse van spreke, voor die bors moet gryp.

Ek het lank gedink Ramaphosa se sukses as ’n vakbondleier in die 1980’s – hy het die National Union of Mineworkers uit feitlik niks opgebou tot bes moontlik die magtigste vakbond nóg – rus hom toe vir die presidentskap. Hy kon ’n betekenisvolle instelling skep en aan die gang hou. Magtige mynbase het klippe gekou in onderhandelinge met hom.

Toe word Ramaphosa die ANC se hoofonderhandelaar by Kodesa en later die voorsitter van die grondwetskrywende raad, die liggaam onder wie se voogdyskap die huidige Grondwet geskryf is. In albei rolle is sy lof ten hemele besing. Daar word graag vertel hoe hy die NP-onderhandelaars ore aangesit het.

Daarna het ’n sakeloopbaan gevolg wat hom een van SA se rykste mense gemaak het. Met die helpende hand van swart ekonomiese bemagtiging.

Dus: What got him here, was om gehate uitbuiter-mynbase en die defensiewe onderhandelaars van ’n gediskrediteerde politieke bestel tromp-op te loop en te laat retireer. Nie te moeilik nie.

Om “daar” te kom waar Ramaphosa nóú moet wees, sal hy veel harder neute moet kraak. Hy sal sy eie mense, by wyse van spreke, voor die bors moet gryp. By name die vakbonde, wat hom gehelp het om by Nasrec te triomfeer, én die ANC, die party waarvan hy die hoofleier is.

Teenoor veral die vakbonde in die openbare sektor sal hy sy voet dwars moet sit oor ongebreidelde looneise, gepaardgaande met dreigemente om die land onregeerbaar te maak. Daar is geen aanduiding dat Ramaphosa dit kan of wil doen nie. Hy paai net.

En in die ANC moet hy begin om die party se stompsinnige rasse-ideologie, soos vergestalt in rigiede regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, af te wen. Maar hy deins terug voor die rassepolitiek. Bang vir die EFF, dalk?

Rasgedrewe kaderontplooiing het die staatsondernemings verwoes en die staatsdiens derderangs gemaak. Rasse-ideologie is die sambreel van beskerming vir staatskaping en endemiese korrupsie. Dit moet stop.

Samelopend hiermee moet Rama­phosa die ANC speen van sy gefossileerde dogma dat die staat alleen die lokomotief is vir die ekonomie. Terwyl ekonomiese groei primêr moet kom van die private sektor, die instelling wat die regering se vennoot moet wees eerder as ’n teiken vir demonisering, soos nou.

Ramaphosa moet minder konsulteer en begin marsjeer. As FW de Klerk eers by die NP-takke toestemming gevra het voor hy die ANC ontperk en Nelson Mandela vrygelaat het, sou 2 Februarie 1990 nooit gebeur het nie. Ditto vir Mandela toe hy in die 1980’s, sonder die toestemming van of konsultasie met die ANC-leierskap, met NP-figure begin praat het oor ’n politieke skikking. Mandela en De Klerk is hoe politieke moed lyk.

In What Got You Here Won’t Get You There sê Goldsmith dis nie kundigheid wat die deurslag gee in die soeke na voortgesette sukses nie. Dis gedrag, wat ’n gedragsvorm is.

As Ramaphosa politieke moed het, is die tyd oorryp om dit te wys. Sy langtermynspel oortuig niemand meer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.