Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Natuurlik swyg die Afrikaanse studente

Terwyl die land sy ergste krisis sedert die sluipmoord op Chris Hani binnegaan, tas ’n siekte ons aan wat soos pes in die lug versprei.

Dit manifesteer as ’n versmorende voorskriftelikheid oor wie mag praat, hoe gepraat moet word en veral wat nié gesê mag word nie.

FW de Klerk mag nie die Universiteit van Oxford in Brittanje se weergawe van #Rhodes-must-fall (soos in ’n standbeeld van Cecil John) kritiseer nie. Want hy’s wit en “apartheid”.

As jy wit is, moet jy swyg oor die jammerlike spektakel wat die ANC maak van landsregering, want dan verlang jy terug na die smadelike verlede. Wit mense mag in elk geval niks sê nie. Alles wat hulle sê, word ongeldig gemaak deur die teerkwaste van “wit bevoorregting”, “witheid” en die euwel van “white minority capital”.

Met dié snert kan jy nog saamleef – deur dit te ignoreer. Maar wat ons bekommerd moet maak, is ’n neo-fascisme, dié keer van links, wat veral voorkom op kampusse.

Jy hoor dit in goed soos ek eis die reg om nié te hoor wat my omkrap nie. “Veilige ruimtes,” noem hulle dit. Wat ’n grap! Erger nog, praat hulle van “geen-platform” – mense met wie hulle nie saamstem nie, mag nie spreekbeurte kry nie.

Ons sien dié uitheemse sotlikhede reeds hier, ons ou spul na-apers wat, soos Langenhoven gesê het, nie eens ape is nie.

Die tradisioneel Engelse liberale universiteite is voor in die koor – met ’n uitasem Stellenbosch kort op hul hakke. Dit terwyl ’n kampus presies die plek is waar jong mense moet hoor dit wat hulle uitdaag en ongemaklik maak.

Die voorkoms van dié outoritêre voorskriftelikheid het op (die enkele) kampusse met oorwegend Afrikaanse studente reeds die effek dat studente geïnhibeer voel om te sê wat hulle dink en glo.

Die toevlugte van “geen verhoog” en “aanstootvrye ruimte” is nie vir hulle beskikbaar nie. Net Engelssprekend en/of swart kwalifiseer.

Nou onttrek hulle maar. Neem nie deel aan die debatte nie. Trek hul skouers op met ’n “whatever”.

Studeer verbete, dikwels met ’n ingesteldheid van ek soek net ’n goeie graad sodat ek kan skoert. Sommige gee hulle oor aan ’n roekelose hedonisme met die verskoning van: Ek kan maar, want ek’s ’n student.

Dis hoekom jy van dié taalmoordenaars, veral op die oorwegend Afrikaanse kampusse, sulke argumente hoor soos “die studente verkies om in Engels onderrig te word”. Die “Afrikaanse taalbulle in grys skoene” is al wat protesteer, die studente is heeltemal gelukkig met alles Engels.

Natuurlik is die Afrikaanse studen-te stil. Wie sou nie gewees het nie as jy weet as jy waag om jou stem te laat hoor, jou mond toegeklap sal word met die vrot vis van apartheid?

Op watter voet neem jy deel aan ’n debat, gee jou eerlike mening, as jy moet hoor jy wil net Afrikaans hê omdat jy nie langs swart studente in die klas wil sit nie? Hoe weer jy dié verlammende teerkwas af, selfs al is dit onwaar tot die mag n?

Selfs dié Afrikaanse studente wat probeer protesteer, moet hoor hulle het nie agency nie, want hulle is wit en bevoorreg omdat hul ouers apartheid ondersteun het en daardeur bevoordeel is – asof letterlik almal het.

Ek twyfel of diegene wat leiding gee by universiteite – studente en akademici – besef hoe ernstig hierdie aanslag op vryheid van spraak en vrye denke is. Ons moet hulle, soos die regsgeleerdes sê, “op terme sit” in 2016.

  • Oor die kruksjaar wat voorlê net dit: Ek is gatvol vir praatjies en rubrieke met die vervelige tema van die glas half vol eerder as half leeg. Dis sommer nonsens.

Jy kan nie jou realiteit van Suid-Afrika kies nie. Die. Glas. Is. Nie. Vol. Genoeg. Nie.

Dít is die enigste realiteit van Suid-Afrika in 2016 waarmee ons sal moet handel.

As dit nie besef word nie, is Suid-Afrika verder af in tamatiestraat as wat selfs die ergste Afropessimis glo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.