Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Nou is daar geen keuse meer nie

Dis vroeg herfs, maar daar’s ’n gevoel van lente in die lug. Soos in Arabiese Lente.

Suid-Afrika het ’n nuwe nasionale leuse: Só kan dit nie aangaan nie. Die mense is meer verenig agter dié refrein as agter “eenheid in verskeidenheid”.

Diensleweringsbetogings is nou al so alledaags, die media berig nie eens meer volledig daaroor nie.

Die onrus op kampusse smeul en vlam elke dan en wan op. Elke kampus het sy eie dinamiek. Maar ongeag of dit “wit oorheersing”, Afrikaans of die uitslag van ’n betwiste SR-verkiesing is, ons het oral te make met ’n groep iesegrimmige studente wat geen snars omgee wat hulle vernietig of beskadig soos hulle uiting gee aan hul frustrasie nie.

Die brandstigters en kunsvandale is dalk ’n minderheid, maar hulle het ’n flukse klomp “meelopers en simpatiseerders”, soos hulle in die ou dae gesê het.

Al die kampusmoleste het een goue draad: die vingerafdrukke van die EFF. Hier is ’n patroon aan die vorm: Dis revolusie wat Julius Malema soek, nie soseer ’n sege by die stembus nie.

Die afgelope week het ’n nuwe gier kop uitgesteek: ’n Gewelddadige opmars na skole in voorheen wit woonbuurte om eise te gaan oorhandig. In Pretoria is eise om beter dienslewering saamgeklits met ’n eis dat Afrikaanse skole afgeskaf word en dat skole gestig word waar onderrig in ander inheemse tale geskied.

Dis 20 jaar te laat hiervoor en boonop was hulle by die verkeerde adres. Hulle moes voor pres. Jacob Zuma se kantoor by die Uniegebou gewees het.

Maar dis eintlik ’n bysaak. Soos op kampusse, is die chaos dié week in Pretoria-Noord ’n manifestasie van “verwysde pyn” (lees woede). Dis die noodkreet van mense wat uitgesluit is en agter geraak het. Wat hul frustrasie uithaal op die sagste teikens denkbaar. Pleks van die regering voor die bors te gryp.

Ongeag hoe jy dit probeer verstaan, dié neerdrukkende seisoen van woede en aggressie stem alle Suid-Afrikaners diep onrustig. Ons oorgeërfde vlakke van chroniese bestaansangs is aan’t styg.

Ek was dié week ’n paar dae by die Woordfees op Stellenbosch. Talle mense, meer as ooit tevore, het ’n geselsie kom aanknoop. Hule kan in twee groepe verdeel word: “Waar gaan ‘dit’ eindig, en watter alternatiewe is daar vir ‘ons’?”

En dan ’n Afrikaanse kategorie: “Hoe lank dink jy gaan ons taal nog oorleef?” Die gesprekke is byna altyd afgesluit met ’n “maar ons is dankbaar om te sien hoe daar aan ’n wye front ingetree en opgetree word ten behoewe van Afrikaans”.

Die stedelike boheme, wat selde die koffiewinkels verlaat, met hul eentonige deuntjie van “hou op sanik, ons sal altyd Afrikaans praat”, het geen benul hoe sterk Afrikaanse mense daarbuite oor hul taal voel nie.

Terselfdertyd kry ek die indruk mense voel aan “daar is iets in die lug rondom Afrikaans”. En hulle voel goed, selfs opgewonde daaroor. Ek ken die neswarmte van die Afrikaanse kunstefeeste. En weet hoe vredig die loom herfs van Stellenbosch jou stem. Maar wat ek hier aangevoel het, is meer as dit.

Wie weet, dalk staan ons op die drumpel van ’n opwelling van kreatiwiteit oor nuwe maniere van dink en doen oor Afrikaans. Iets anderkant die naïewe “verengels ter wille van vrede en gesels net met mekaar” en die enkele brekers wat dink jy kan protes-geweld suksesvol met teengeweld stuit. Vuur blus nie vuur nie.

Genl. J.C. Smuts se tipering van Suid-Afrika, waar nóg die ergste nóg die beste ooit gebeur, word tans swaar beproef. Daar is kragte wat hard aan die werk is om die ergste te laat realiseer, waarvan een ’n regerende party is wat voortstotter met hoogstens enkele spreekwoordelike druppels in die tenk oor. Om van die spektakel van ’n president nie te praat nie.

As ons hierdeur kom, sal dit ondanks die ANC wees, nie danksy nie.

Prof. Jonathan Jansen het verlede week in The Times geskryf die kampusgeweld het die land se voorste universiteite by die rand van onomkeerbare ineenstorting gebring.

Suid-Afrikaners, sê hy, moet soos een mens opstaan en hard en duidelik sê: Genoeg is genoeg!

Ons het nie eintlik ’n alternatief nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.