Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Praat in sirkels oor selfdood help nie

Ons het ’n lang pad gekom van selfmoord tot selfdood. Eer moet gaan aan die aktiviste wat volhardend stry om die stigma te verwyder van ’n verskynsel, wat, ongeag wát, altyd ’n pynlike tragedie is.

Moord is ’n misdaad. Jy mag nie doodslaan nie, lui die sesde gebod, wat moord in die oë van die Bybel ’n sonde maak. Dus, het sommige kerke gepredik, as jy “selfmoord pleeg” gaan jy reguit hel toe.

Tot baie onlangs is die woord “selfmoord” sonder huiwering of nadenke in die hoofstroommedia gebruik. Danksy die ywer van veral prof. Lizette Rabe, joernalistiekdosent aan die Universiteit Stellenbosch, het “selfdood” nou wyd inslag gevind.

Woorde skep werklikhede. Ons werklikheid oor selfdood was gebrekkig toe dit met selfmoord beskryf is.

Dit besef ek andermaal toe ek die afgelope Maandagaand op die kykNET-program Prontuit luister na dr. Henk Gous, die Gautengse NG predikant wie se dogter Janie 18 jaar gelede haar eie lewe geneem het.

Gous het sedertdien ’n boek, Om die ondraaglike te dra, oor die onderwerp geskryf.

Jy moet ’n hart van klip hê of skraal van begrip wees as Gous jou nie oortuig dat mense, bepaald kinders wat hul eie lewe neem of wil neem, nie oordeel en verdoemenis verdien nie. Hulle ly aan ’n wrede geestesongesteldheid.

Woorde skep werklikhede. Ons werklikheid oor selfdood was gebrekkig toe dit met selfmoord beskryf is.

Tog is geen goeie stryd ooit gevrywaar van ondeug nie. In dié geval, ’n kommerwekkende tendens in mediaberiggewing oor selfdood. Ek vermy die woord sensuur, maar dit het al by my opgekom. Dit wat in die vroeë dae van die vigspandemie ook voorgekom het.

In die laat 90’s was ek by die roudiens van ’n kollega wat vigs opgedoen het. ’n Omgekrapte familielid het opgestaan en uitgevaar teen gissings dat die oorledene vigs gehad het. Hier het ek die doodsertifikaat.

Dit sê duidelik: Oorsaak van dood: longontsteking. In dié vrugbare akker van ontkenning en sensuur kon die samesweringsteorieë van die vigsontkenners én die stigma van vigs lustig floreer.

Twee berigte die afgelope week op Netwerk24 van mense wat “dood aangetref” is, het opgeval. In die Wes-Kaap is die 41-jarige Anél Theron se lyk Maandag by die Stikland-treinstasie in die Bellville-omgewing “gevind”. Die foto wys ’n aantreklike vrou en die berig vertel van haar man en drie kinders en hoe gewild en talentvol sy was.

“Wat het gebeur?” sê die eerste leser in die kommentaarseksie onderaan. Dis in die menslike aard en nie abnormaal nie om te wil weet.

Ek vra dit letterlik elke keer as ek ’n onverwagte doodstyding kry.

Twee reaksies verder skryf ’n ander leser: “Ek dink die plek waar die lyk gevind is, kan ’n aanduiding wees van wat gebeur het.” Stikland is ’n psigiatriese hospitaal.

Later in die week is berig oor die dood van Kaylee-Shaye Coetzer (13) van Pretoria. Haar broer het op haar “afgekom”. Volgens haar ma het sy “sielkundige probleme” gehad.

Onderaan dié berig word die kontakdetail gegee van plekke waar hulp gekry kan word, onder meer dié van die selfdood-krisislyn.

Dis of die bewoording van dié twee berigte vir lesers sê: Ons mag regtig nie vir julle sê dié twee mense het hul eie lewe geneem nie, maar hier is ’n paar leidrade: Stikland-hospitaal, dood aangetref, sielkundige probleme en die nommer van die selfdood-hulplyn.

Watter eerbare doel dien dié ompad-beriggewing met kodewoorde en leidrade? Of is dit veronderstel om medemenslikheid en empatie te toon?

Die polisie keer ’n misdadiger vas, maar voordat hy in hegtenis geneem kan word, skiet hy hom dood. Gaan ons dié detail skryf? Want as ons konsekwent wil wees, moet ons skryf die polisie was warm op sy spoor, maar voordat hy aangekeer kon word, is hy “dood aangetref”.

Of is daar ’n ander stel reëls vir misdadigers?

’n Dronk bestuurder veroorsaak ’n motorongeluk met kinders wat vasgekeer is in ’n brandende kar.

Die hulpelose pa staan en kyk hoe sy kinders doodbrand. Ek hoor nooit kommentators wat die media beskuldig van onmenslikheid wanneer hieroor berig word nie. Maar oor selfdood moet joernaliste die feite verstrek deur middel van leidrade en kodewoorde. Andermaal: Is daar twee skale vir die meting van trauma veroorsaak deur beriggewing, een vir selfdood en een vir “ander sterftes”?

Shaleen Surtie-Richards is “dood aangetref” in ’n gastehuis in Kaapstad, het berigte die hele week gelui. Die “dood aangetref”, hoewel nie feitelik verkeerd nie, was kodewoorde wat blitsvinnig selfdood gesein het.

Dit het Shaleen se familie genoop om spesiaal ’n verklaring uit te reik dat sy nié haar eie lewe geneem het nie.

’n Kultuur van praat in sirkels pleks van reguit oor een sensitiewe onderwerp het die Surtie-Richardse ’n onreg aangedoen.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.