Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: SA politici kan gerus leer by Hichilema

Hakainde Hichilema, die nuwe president van Zambië wat die afgelope week ingehuldig is, het iets reggekry wat baie lanklaas in Suid-Afrika en in ander lande in die buurt gesien is: Hy het jongmense sover gekry om in beduidende getalle te stem en vir hóm te stem. En genoeg oueres vir ’n klinkende oorwinning.

“ ’n Jeuggedrewe golf van verandering” lui die opskrif van ’n berig op die BBC se webblad oor die Zambiese verkiesing van twee weke gelede. Vir seker. Hichilema se meerderheid was ’n verstommende een miljoen stemme. Hy het 59% van die stemme getrek teenoor die 38% van sy teenstander, die dienende president, Edgar Lungu.

Die beste van alles is die boodskap waarmee Hichilema dié prestasie behaal het. Nommer een: Mense moet werk hê en daarom moet die ekonomie groei. Die ekonomie kan net groei as Zambië geleenthede skep vir beleggers. Want ’n werk is die enigste manier om vooruit te gaan. “Ek wil mense sien wat op 21 ondernemings begin. Ons sal julle ondersteun. Julle sal ’n United Party for National Development (sy party) sien wat die sakesektor ondersteun.”

Let op hoe dit verskil van die boodskap wat in ons geweste gehoor word, nie eens subtiel nie.

Hierlangs word die beloftetrein gery. Die regering sal werk skep. ’n Basiese-inkomstetoelae is op pad.

Belastings sal verhoog word om ’n pensioenfonds te skep vir behoeftiges. Met dieselfde resep gaan ons omvattende gesondheidsorg vir almal voorsien. Geld is nie ’n kwessie nie. Hier by ons word die sakesektor met smeulende vyandigheid bejeën. Die president en dalk die minister van finansies bak mooi broodjies, maar die regerende party se refleks is om die sakesektor te wantrou, aan bande te lê en sleg te maak.

’n Hardnekkige faksie in die ANC hou daarmee vol om die sakesektor te demoniseer met die propaganda-skelfrase “white monopoly capital”.

Dis nou die twee lelike susters, kaderontplooiing en rassebeheptheid in die vorm van SEB, skewe regstellende aksie en kwotas.

Ons wil sonder vergoeding grond en ander eiendom onteien en dit herverdeel onder die mense van wie die grond kwansuis gesteel is.

Of dit die towerstaf is wat armoede sal uitwis.

Die hoofpilaar van Hichilema se veldtog was werkskepping deur die bevordering van beleggings.

Maar hy het verder gegaan. Korrupsie moet uitgeroei, verdeeldheid onder Zambiërs moet bestry en die demokratiese vryhede wat onder Lungu weggekalwe is, moet herstel word.

Suid-Afrika beweeg grootliks in die teenoorgestelde rigting. Ja, die stryd teen korrupsie vorm die kern van Cyril Ramaphosa se presidentskap en hy kry te min krediet vir sy pogings en te min erkenning vir sy suksesse. Korrupsie se aangetroude familie sit egter nog heel knus in sy regering. Dis nou die twee lelike susters, kaderontplooiing en rassebeheptheid in die vorm van SEB, skewe regstellende aksie en kwotas.

Die 59-jarige Hichilema het ’n inspirerende storie. Sy ouers was arm (hy het beeste opgepas) en daar was nie geld om te studeer nie. Maar danksy ’n beurs is hy universiteit toe en van daar na Brittanje, waar hy ’n MBA verwerf het. Hy het teruggekeer na sy vaderland en ’n onderneming begin. Teen die tyd dat hy in die politiek beland het, was hy ’n gevestigde entrepreneur met uitgebreide belange. Vandag is hy een van die welvarendste mense in Zambië. Hy het bes moontlik die woord “BEE” die eerste keer in ’n nuusberig uit Suid-Afrika gesien.

Hoe lyk ons tenderpreneurs en tjommie-kapitaliste langs dié man?

Hichilema het vyf keer probeer om president te word en eers in sy sesde poging geslaag. Duidelik het hy die politiek gesien as ’n manier om iets uit te rig. Nie as ’n roltrap na kitsrykdom nie.

Hichilema kon danksy die vernuftige gebruik van sosiale media tot jonger kiesers deurdring. Maar Facebook, Instagram, Twitter en so meer werk net tot ’n punt. Dan moet jou boodskap, jou idees en jou “storie” begin resoneer. Duidelik het dit dié ronde vir Hichilema gebeur. Sy hele storie wys dit ís moontlik om jong kiesers se steun te verkry sonder om populisties en haatdraend te wees soos Julius Malema en daardie verdwaalde geeste van die ANC se radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie.

In ’n ongewone skuif het Hichilema nie net staatshoofde in Suider-Afrika na sy inhuldiging Dinsdag genooi nie, maar ook die leiers van opposisiepartye in die streek, onder andere Malema. Die EFF-leier is nie in Lusaka opgemerk nie. ’n Mens wonder nogal waarom.

Suid-Afrika se reuse-aantal jong kiesers wat apaties staan teenoor verkiesings en politieke partye is ’n vrug wat al hoe ryper word – gereed om gepluk te word deur die regte party met ’n boodskap wat die pad na hul harte kan vind. Duidelik nie een van die bestaande partye nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.