Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: SA se eens gevierde regbank lyk ál meer lendelam

Daar was ’n tyd, nie so lank gelede nie, toe dit selde nodig was om ’n welstand-balansstaat vir Suid-Afrika op te stel.

Ons het mos geglo hoewel sekere goed verkeerd was, daar steeds ’n batige saldo was. Meer was reg as verkeerd. Die water in die glas was veilig bokant die halfpadmerk.

Die lastelys, wat eens nie so lank was nie, het intussen gegroei en meer akuut geword. Dis oorbekend wat alles verkeerd is in Suid-Afrika.

Boaan my ou lys van bates was altyd vier inskrywings. In volgorde van belangrikheid: ’n onafhanklike, betroubare regbank en bepaald die hoër howe; betreklike politieke en maatskaplike stabiliteit; die vrye media; en ’n robuuste burgerlike samelewing met ’n groot verskeidenheid organisasies en instellings wat ’n oop samelewing verseker.

Ná die Julie-oproer in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng is stabiliteit nie meer ’n gegewe nie. En, amper belangriker, daar is aan ’n breë front kommer oor die regbank. Veral ná pres. Cyril Ramaphosa se erkenning voor die Zondo-kommissie dat regterlike aanstellings bespreek is deur die ANC se sinistere ontplooiingskomitee.

Dit het ons soos ’n dief in die nag bekruip. Niemand kan die plek aandui waar die skelm deur die heining is nie. Was daar ’n keerpunt-gebeurtenis wat Suid-Afrika gebring het by die punt waar “onafhanklike uitsaaiers”, volgens die jongste Afrobarometer-peiling, vyf plekke bo die howe is in die vertroue-indeks? Die howe meet selfs laer as die verflenter­de Suid-Afrikaanse Weermag!

Hoe gemaak met die tanende aansien van die land se hoogste hof, die konstitusionele hof?

Die verswakkende staat is ’n deel van die probleem. Howe is veronderstel om onafhanklik te wees, maar die administrasie van die regstelsel is ’n staatsfunksie. Howe het nie wetstoepassers wat hul bevele opdwing nie, die polisie moet dit doen. En die polisie is derde van onder op Afrobarometer se vertroue-indeks.

Dié probleem kan teoreties reggestel word. Maar hoe gemaak met die tanende aansien van die land se hoogste hof, die konstitusionele hof (KH)? Want daar was ’n tyd, nie so lank gelede nie, toe dié hof ’n ware noord was vir verreweg die meeste Suid-Afrikaners.

Ons het nie altyd saamgestem met elke uitspraak nie, maar ons het die vertroue gehad dat voorste regsbreine opreg worstel met elke vraagstuk voor hulle. Dat hulle mense van inbors was, verbind tot die oppergesag van die reg en die Grondwet.

Voorverlede Vrydag is ’n aanvoelbare, kollektiewe sug van verligting geslaak toe die KH met ’n meerderheidstem beslis vanjaar se munisipale verkiesing mag nie uitgestel word nie. Ons was duidelik bekommerd dat die hoogste hof sou dwaal oor die hou van ’n verkiesing, dié sluitsteen van die demokrasie.

Die KH se gesloer om die redes – minderheid én meerderheid – vir sy beslissing te verstrek, het die vertroue-krisis laat voortduur.

Die Verkiesingskommissie (OVK) vertolk dié uitspraak as sou dit hom magtig om ’n nuwe sperdatum te stel vir die indien van kandidatelyste – tot voordeel van die ANC. Ander gewigtige stemme sê die OVK verstaan die uitspraak verkeerd. Nou is die hele gedoente weer op pad terug na die KH toe.

Toe regters Arthur Chaskalson en Pius Langa voor geloop het, was dit ondenkbaar dat die hoogste hof nié in die eerste instansie hard en ondubbelsinnig sou praat nie. Nou het hoofregter Mogoeng Mogoeng se hof hom blootgestel aan ’n hardnekkige aantyging dat die KH – saam met die OVK – na die regerende party se pype dans.

Mogoeng was dalk dié ronde nie regstreeks betrokke nie, maar die onbehaaglikheid met die KH het grootliks op sy wagbeurt gebeur.

Mogoeng het ’n beskeie wegspring gehad tien jaar gelede. Tog het sy hantering van die gedinge om Nkandla en staatskaping sy statuur bevorder. Soveel dat LP’s een jaar by ’n parlementsopening spontaan opgestaan en hom toegejuig het toe hy die raadsaal binnestap.

Maar toe verloor hy die storielyn met onregterlike, buite-die-hof-uitlatings oor geloofskwessies, die Israel-Palestina-konflik en, van alle dinge, Covid-19-entstof.

In April het Mogoeng sy werk as voorsitter van die Regterlike Dienskommissie (RDK) so vrot gedoen dat ’n regter laer in status as hy die RDK teruggestuur het om die werk te gaan oordoen om vyf regter-kandidate vir die KH aan te wys.

Mogoeng se termyn eindig oor ’n paar weke – en dit is nie ’n dag te vroeg nie.

Binnekort moet Ramaphosa die finale besluit neem oor ’n nuwe hoofregter vir die land. Hierin verleen die Grondwet aan hom ’n groot diskresie, aansienlik meer as wat hy het in die aanstel van ander regters.

Dis dalk net die belangrikste aanstelling wat hy in sy hele tyd as staatshoof sal doen.

Die howe kort ’n gerekende juris en ’n regterlike leier wat hulle kan terugneem na die bopunt van die vertroue-indeks.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.