Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Sol-Tech: Onkunde is die ware skandaal

Die grootste skandaal in Solidariteit se planne om ’n nuwe gebou vir sy tegniese kollege Sol-Tech op te rig, is nie die onderrigmedium nie. Dit is prominente ANC-politici se skokkende onkunde oor hul portefeuljes wat dié nie-bohaai blootgelê het.

Voor in dié koor van ignoramusse sing Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Wie anders?

Tim du Plessis

’n Totaal onskuldige brokkie in ’n eNuus-bulletin op kykNET oor ’n sooispitseremonie vir Sol-Tech se nuwe gebou in Centurion, het Lesufi so vertoorn dat hy op Twitter teen Sol-Tech begin uitvaar het. In een van die twiets suggereer die immer prikkelbare LUR skoon hy sal die nuwe gebou konfiskeer as dit voltooi is. ’n Voorspelbare, maar grootliks irrelevante Twitter-storm het gevolg. Al wat naastenby vermelding verdien, is dat verbasend baie swart deelnemers tot steun van Sol-Tech gepraat het. Ten minste doen Solidariteit iets vir sy lede, anders as sekere ander vakbonde wat van min tot niks doen, was die reaksie.

Lesufi het knaend gepraat van Solidariteit se “universiteit”, terwyl Sol-Tech ’n tegniese kollege is, boonop een wat 12 jaar lank al bestaan en behoorlik by die relevante owerhede geregistreer is. Kompleet met ’n geakkrediteerde leerplan vir sewe ambagte. Tussen 300 en 400 ambagslui kwalifiseer jaarliks aan Sol-Tech.

In April 2008, nadat Jacob Zuma verkies is as ANC-president en voordat hy staatshoof geword het, het hy Sol-Tech besoek om kwansuis dié se onderrigmodel te bekyk. Zuma moes goed geweet het dat Sol-Tech se onderrigme­dium enkel-Afrikaans is. As dit hom gepla het, soos nou vir Lesufi, het hy dit nie destyds laat blyk nie.

Mense wat by was dié dag, onthou wel hoe Zuma spesiaal notisie geneem het van ’n swart vroulike aspirant-elektrisiën. Sol-Tech het van meet af aan bruin en swart studente gehad. So, selfs al wíl die kollege – soos Lesufi beweer – Afrikaans gebruik om dit wit te hou, durf hy nie. Die owerheid se lisensie vir Sol-Tech verbied uitdruklik diskriminasie op grond van velkleur.

Al wat nou nuut is, is dat dié karavaan – wat al 12 jaar lank binne die reëls en wette funksioneer – binnekort ’n nuwe gebou betrek. Dié inligting en nog meer is bekend en maklik verifieerbaar. Lesufi hoef nie Afrikaans daarvoor aan te leer nie. Sy amptenare kon hom sommer vertel het.

Sy uitbarsting versterk baie Afrikaanssprekendes se vermoede dat hy ’n hater van hul taal is. En dat hy nie feite sal laat kom in die pad van sy kampanjes teen Afrikaans nie.

Moedertaalonderrig en vryheid van assosiasie binne die landswette en ander reëls is ’n fundamentele reg, in die Grondwet gewaarborg.

Maar Lesufi is nie alleen in skreiende onkunde nie. Dinsdag het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, uit die bloute laat hoor sy departement “het nog geen aansoek ontvang vir die beoogde Afrikaanse universiteit nie”, salig onbewus daarvan dat die kwessie waarop hy reageer oor ’n tegniese kollege gaan en nie oor ’n Afrikaanse universiteit nie. Daar was wel so ’n aansoek minister, maar dit is meer as vyf jaar gelede al ingedien en goedgekeur toe Solidariteit Akademia, sy instelling vir universitêre onderrig, gestig het. Akademia funksioneer sedertdien op dieselfde grondslag as Sol-Tech.

Gans die wêreld weet dit buiten Lesufi, Nzimande en ’n handvol oningeligte joernaliste. Ek mag my verbeel, maar Lesufi se venyn jeens Afrikaans word net geëwenaar deur dié van sekere wit Engelssprekendes.

Dis enigiemand se volste reg om fout te vind met Solidariteit se oogmerke met Sol-Tech en Akademia. Dis eintlik baie eenvoudig: Hetsy as ouer of voornemende student, as jy nie hou van die idee nie, of dink assosiasie met Sol-Tech of Akademia sal jou benadeel, bly weg. Verskeie alternatiewe bestaan.

Of as jy glo Sol-Tech en Akademia is deel van ’n sameswering deur Solidariteit om wit Afrikaners te isoleer of ’n nuwe apartheid te skep hou verby. As Sol-Tech en Akademia die Solidariteit-mense benadeel, nou of later, is dit vir hul rekening en hulle s’n alleen. Nié vir dié van die breë, nierassige Afrikaanse gemeenskap nie, waar ek tuis voel.

Want waar staan geskryf alle wit Afrikaners moet dieselfde wees en eenders dink? Byvoorbeeld om afwysend te staan teenoor Sol-Tech en Akademia? Hierdie genetiese voorskriftelikheid het Afrikaners vir dekades lank vasgevang gehou in dieselfde party, dieselfde kerke, dieselfde kultuurorganisasies en selfs dieselfde kommersiële diensverskaffers. En wat het dít hulle in die sak gebring?

Nee dankie, sê ek. Nie weer nie.

Moedertaalonderrig en vryheid van assosiasie binne die landswette en ander reëls is ’n fundamentele reg, in die Grondwet gewaarborg. Dubbel so as dit, soos Sol-Tech en Akademia, met private geld gefinansier word.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Solidariteit  |  Skandaal  |  Dis Die Punt  |  Moedertaalonderrig  |  Vryheid  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.