Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Staatsrede: Kan Cyril soos FW voor loop?

Verwag hy pres. Cyril Ramaphosa sal hom bel by geleentheid van die 30-jarige herdenking van sy beroemde toespraak op 2 Februarie 1990? En sal hy teleurgesteld wees as Ramaphosa nié bel nie? Só vra ek FW de Klerk voorverlede week in ’n onderhoud wat ek vir hierdie blaaie gedoen het.

Nee, hy verwag nie so ’n oproep nie en sal ook nie afgehaal wees as hy niks van die president hoor nie. Buitendien, hy en Ramaphosa het ooreengekom om een of ander tyd te gesels, sê De Klerk.

De Klerk is realisties hierin. Rama­phosa het die afgelope week by ’n paar geleenthede die raad gekry om ’n bladsy uit De Klerk se liedboek van 2 Februarie 1990 te neem en ’n reuse-sprong te maak, gegewe die enorme krisis in die land. ’n Ongunstige vergelyking met De Klerk kon kwalik vir Ramaphosa aangenaam gewees het. De Klerk van alle mense? Hoekom sal ek hom wil bel?

Barney Mthombothi, die Sunday Times se swaargewig-rubriekskrywer, skryf verlede Sondag: “ . . . as ons gerekende leiers die helfte van De Klerk se moed gehad het, sou die land bes moontlik nie in so ’n gemors gewees het nie. Die geskiedenis sal gunstiger wees jeens De Klerk.”

In die Mandela/De Klerk-era was Suid-Afrika die “plakkaatkind vir die vreedsame oplossing van onoorbrugbare probleme en ’n bloudruk vir rasseharmonie.

Ramaphosa kán ’n paar gebeurtenisse van die afgelope paar maande saamtrek in ’n daadkragtige wekroep wat hier en in die buiteland sal weerklink.

“Ná 25 jaar van demokrasie is ons weer die muishond, die versinnebeelding van korrupsie en onbekwaamheid,” skryf Mthombothi.

Business Day (redakteur: Lukanyo Mnyanda) skryf in ’n hoofartikel oor 2 Februarie dat Ramaphosa sekerlik tog lesse moet leer uit die geskiedenis, naamlik dat dit nooit te laat is vir goeie mense om op te staan en tot aksie oor te gaan nie, selfs wanneer dit futiel lyk. “Pres. Ramaphosa, die tyd het aangebreek,” sluit die hoofartikel af.

Onder die opskrif “Kan Ramaphosa soos De Klerk maak en die koers van Suid-Afrika verander?” skryf Tony Leon dié week op TimesLive: Gegewe die omvang van die krisis sal dit beteken Ramaphosa sal “ANC-sjibbolette” soos kaderontplooiing, rasgerigte regstellende aksie en onteiening sonder vergoeding moet wegsmyt.

Die ironie is, dis nie eintlik nodig vir Ramaphosa om Donderdag in sy staatsrede die politieke aarde so te laat bewe soos wat De Klerk 30 jaar gelede gedoen het nie. ’n 2 Februarie gebeur een, miskien twee keer, in ’n generasie.

Bowendien kan Ramaphosa Leon se “ANC-sjibbolette” nie in een toespraak keel afsny nie. Dis ’n proses, een waarmee hy en die vernuwers en moderniseerders in die ANC – indien enige – lankal moes begin het.

Maar Ramaphosa kán ’n paar gebeurtenisse van die afgelope paar maande saamtrek in ’n daadkragtige wekroep wat hier en in die buiteland sal weerklink. Mits dit goed verpak is.

So kán hy, ondubbelsinnig en met oortuiging, verklaar hy en die volle kabinet aanvaar en steun die tesourie se groeiplan wat finansminister Tito Mboweni laat verlede jaar bekend gestel het. En aankondig hulle gaan dit begin implementeer. (Enige aankondiging oor implementering deur ’n ANC-president is die voorblaaie gewaarborg).

Ramaphosa kon energieminister Gwede Mantashe se aankondigings dié week by die Mynbou-indaba in Kaapstad wat die private sektor betrek by kragvoorsiening en “toestemming” aan die mynmaatskappye verleen om hul eie krag op te wek, teruggehou het vir die staatsrede.

Want dit behels ’n besliste breuk met verstokte ANC-dogma wat by wyse van aankondiging in die staatsrede die statuur van die president verdien het. Nie die gestamel van ’n deurmekaarprater wat val vir ou Aprilgek-grappe nie. Almal weet mos as Mantashe sy mond oopmaak, moet jy dadelik begin wonder wat sy verskuilde agenda is.

Of vat iets heel anders, die voorstel van Cosatu dat R250 miljard by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) “geleen” word om ’n gedeelte van Eskom se skuld te delg. In koerantberigte word gegis dat Ramaphosa die gedagte ondersteun.

As dit so is, waarom die plan én sy steun nie in die staatsrede aankondig nie? Of steun die president die voorstel nie met oortuiging nie? Of dit ’n goeie idee is, is ’n gesprek vir ’n ander dag. Maar kap ’n slag hakke in die grond en sê dís waarin ek glo en dís wat ek gaan doen.

Die optics van die OBK-voorstel – om daardie ou simpel uitdrukking te gebruik – is bitter sleg vir Ramaphosa. Eskom is die land se knellendste vraagstuk. Maar pleks van voorloop met die aanpak daarvan, lyk dit nou of die president agter Cosatu aandrentel. ’n Vakbondfederasie, nie die regering nie, is die een met idees en aksieplanne. Dis klassieke lei van agter – die volgelinge loop vooruit en jy kom bloot van agter om in te haal. Dis g’n leierskap nie.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.