Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Steun in lewe beter as trane

Deur kunstenaars en die media te steun help ’n mens hulle – en Afrikaans – oorleef. Dis baie nuttiger as om agterna trane te wil stort oor ’n verlies, skryf Tim du Plessis.

Ons in die Afrikaanse gemeenskap is tog so goed daarmee om lang trane te huil wanneer dit te laat is. Veral wanneer ons die verlies beleef van iets of iemand erg kosbaar.

Die dood onlangs van die geliefde en gevierde Afrikaanse aktrise Elize Cawood het dit andermaal gewys. Ja, meer besorgdheid vooraf sou nie die kanker gestuit het wat haar lewe so voortydig kortgeknip het nie.

Tog, en ek sê dit met respek en deernis: In die laaste paar maande van Elize se lewe het haar kring van geliefdes, ’n mens wil byna sê angsvallig, geld ingesamel vir haar mediese uitgawes.

Elize Cawood, wat vroeër vandeesmaand dood is ná haar stryd teen kanker.

As al die verdriet en toegeneentheid tydens haar sterfte eerder in die vorm was van steun vir haar werk toe sy geleef het, sou dit dalk nie nodig gewees het nie. Steun by wyse van kaartjies koop vir haar verhoog- en ander optredes.

En sommer ook steun in die algemeen vir die kunste in die vorm van ’n geldelike skenking of ander tasbare hulp deur diegene wat kán.

Die afgelope sowat vier jaar is ek betrokke by ’n organisasie sonder winsbejag genaamd Nati.

In die laaste paar maande van Elize se lewe het haar kring van geliefdes, ’n mens wil byna sê angsvallig, geld ingesamel vir haar mediese uitgawes.

Dit staan vir Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief. Nati ontvang jaarliks ’n bedrag van die Dagbreek-trust wat ons bestee aan Afrikaanse teaterstukke in verskeie formate en genres op verhoë landwyd.

Hoede af vir dié mense en hul voorsitter, dr. Theuns Eloff. Hulle doen baie, al praat hulle min.

Die vrugte van Nati se arbeid is veral te sien by die groot kunstefeeste, die KKNK, Aardklop, Woordfees, Suidoosterfees, Innibos en Vrystaat Kunstefees. Nati werk ten nouste met die feesbesture saam om duplisering uit te skakel en die verhooglewe te verleng van die stukke waarmee Nati help.

Soos Buiteland, ’n diepsinnige toneelstuk met einste Cawood in die hoofrol. Hoeveel van dié wat nou so hartseer is oor haar dood sou gaan kyk het toe sy nog geleef het?

Koop ’n koerant!

Só het die Afrikaanse trane ook mildelik geloop in die onlangse tyd oor die “sterftes” in die mediawêreld. Roerende betuigings van ewige liefde is losgelaat oor die nuus van die sluiting van die papierweergawe van geliefde titels soosVolksblad en Rooi Rose.

Wat vinnig oorgegaan het in bitsige kritiek op sogenaamde hartelose mediabase, wat kwansuis behep is met wins en vere voel vir geestesgoed soos gedrukte koerante en tydskrifte.

Hoeveel van die verwytende droefgeestiges sou die koerante en tydskrifte gekoop het toe hulle nog geredelik beskikbaar was, het ek gewonder. Want as hulle het, in beduidende getalle, sou dié sluitings dalk uitgestel of selfs vermy kon word.

Covid-19 en die inperking saai oral onheil en swaarkry, toegegee. Tog moet ons die oog ook hou op die lewe daarná.

Daar is veel wat ons selfs in dié tyd kan doen om die oorlewing te help verseker van dit wat naby en dierbaar vir ons is.

Die siening in Media24 se binnekringe is blykbaar dat koeranttitels soos Rapport, Beeld en Die Burger nog so twee jaar sal bestaan.

Daarna sal hulle soos Volksblad net in een of ander digitale formaat voortleef.

Ek verwyt niemand hieroor nie; dis maar die lewe. Ons skryf nie meer tjeks uit nie, maar ons doen steeds banktransaksies.

Formate kom en gaan

Tog sal volgehoue steun vir die gedrukte koerante in dié moeilike tye baie meer werd wees as al die trane en woede oor twee jaar indien of wanneer die einde aanbreek.

Uitvoerende kunstenaars wat letterlik lewe van optrede tot optrede sal ook veel meer baat vind by steun terwyl hulle nog lewe as by afskeidstrane.

Wanneer Covid-19 verby is, kan ons gerus ’n punt daarvan maak om meer gereeld ’n kaartjie vir ’n verhoogstuk te koop.

Kort die kuiertyd by die kunstefeeste in en gaan kyk eerder na ’n eenpersoonsvertoning of ander verhoogvermaak.

Help as jy kan

Covid-19 werk wreed met die teater­gemeenskap. Soos jy hier lees is daar iewers ’n akteur of aktrise, bes moontlik Afrikaans en heel bekend, een wat jy al op die verhoog of in ’n fliek gesien het, wat nie elke dag geld vir kos het nie.

Daarom is ’n hulpfonds gestig om kunstenaars en verwante personeel in die verhoogbedryf by te staan wat deur ondergang weens Covid-19 en die inperkings in die gesig gestaar word.

Dit heet Tribuo. Meer inligting en hoe jy kan help, is op die Tribuo-webblad beskikbaar.

Dit gaan eerstens oor mense, maar ook oor ’n taal. Elke bietjie Afrikaans wat verdwyn, of dit nou ’n verhoogstem of ’n gedrukte koerant is, is ’n stukkie verlies vir die taal.

  • Du Plessis is hoof van aktualiteit by kykNET.
Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Steun  |  Kunste  |  Verhoog  |  Akteurs  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.