Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Trumpies stil soos ’n AWB-lid in Bop

’n Bedremmelde stilte het die afgelope week neergedaal oor die nogal aansienlike klomp wit Suid-Afrikaners wat vurige aanhangers van Donald Trump is/was.

Op sosiale media het ’n plasing van ’n plaaslike Trumpie gepraat van ’n “Rubicon wat Amerika oorgesteek” het op pad na “ ’n bodemlose put van histeriese eise en toeëiening”.

“Ons het dié fliek gesien,” skryf die persoon.

Al fliek wat ek in verband kon bring met Woensdagaand se barbarisme in Washington D.C. was meer ’n minireeks. Dit het in 1979 begin toe lede van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) ’n lesingsaal in Pretoria bestorm het en die historikus prof. Floors van Jaarsveld geteer-en-veer het omdat hulle nie gehou het van sy sienings oor die Bloedrivier-gelofte nie.

Dit is opgevolg deur verskeie episodes van gewelddadige, misdadige gedrag gemik op die tentatiewe politieke hervormings van die NP-regering in die 80’s. Openbare vergaderings is ontwrig, Afrikaanse joernaliste is rondgeruk en gepluk terwyl die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, die geweldsdreigemente uitgeryg het.

Ná die ontperking van die ANC, het die AWB se geweldpolitiek verhewig. ’n Klimaat is aan die regterflank geskep waarin gruwels gepleeg is soos die motor met swart passasiers wat AWB’s by ’n kruising aan die verre Wes-Rand voorgekeer het.

Van die mense se ore is afgesny voordat hulle vermoor is.

Woensdag het ek eggo’s van Treurnicht gehoor toe Trump sê die Capitol-invallers is “spesiale mense” wat kwaad is omdat hulle saam met hom glo die verkiesing is “gesteel”.

In daardie klimaat is die sluipmoord op die ANC- en SAKP-leier Chris Hani oor die Pase in 1993 gepleeg. In Junie daardie jaar het AWB’s met Terre’Blanche vooraan die destydse World Trade Centre in Kempton Park, waar die onderhandelinge oor die grondwet gevoer is, binnegeval nadat hulle die voordeur met ’n selfgemaakte pantserwa platgery het.

Tonele daardie dag in Kempton Park het sterk herinner aan Woensdag se gedrag van Trump se stormtroepe op Capitol Hill. Kantore en vergadersale is verniel. AWB-moerboere het uitdagend in die stoele gaan sit van die grondwet-onderhandelaars. Een het sy gulp oopgetrek en op ’n tafel met dokumente gepiepie.

Die laaste episode van dié “minireeks” was ook die mees dramatiese een: Die onwettige AWB-inval in Bophuthatswana in Maart 1994, kwansuis om te gaan keer dat die ANC Bop oorneem. Dit het smadelik geëindig en een van dié ikoniese beelde van Suid-Afrika se politieke oorgang nagelaat – drie AWB’s wat leweloos lê teen ’n ou Mercedes nadat ’n Bop-soldaat hulle doodgeskiet het.

Toe die Konserwatiewe Party in 1982 gestig is, het ’n natuurlike affiniteit tussen die KP en die AWB ingetree. Soos Trump die afgelope week, het die KP-leier, dr. Andries Treurnicht, geweier om die AWB se geweldpolitiek ondubbelsinnig te repudieer. Vaag bewoorde veroordelings van “alle vorms van politieke geweld” was al wat jy uit die man kon kry.

Woensdag het ek eggo’s van Treurnicht gehoor toe Trump sê die Capitol-invallers is “spesiale mense” wat kwaad is omdat hulle saam met hom glo die verkiesing is “gesteel”.

“Ek is lief vir hulle,” het Trump verklaar. Maar ’n dag later, toe hy sien sy eie kabinetslede maak ernstig planne om hom nog voor 20 Januarie uit die Withuis te dryf, slaan hy skaamteloos bolmakiesie en gooi sy liefies van die vorige dag voor die ploeg. Hulle het die demokrasie “ontheilig” en moet die volle prys daarvoor betaal, verklaar hy gemaak-vroom. ’n Laaste vertoon van die laagtes waartoe dié verdorwe vent kan daal.

In Suid-Afrika is Terre’Blanche nie lank ná die ’94-oorgang nie tronk toe weens ’n erge aanranding van een van sy werkers. Die AWB het begin versmelt. Nadat Terre’Blanche in 2010 ’n makabere dood gesterf het op ’n lendelam enkelbed in ’n verlate geboutjie op sy plaas buite Ventersdorp, was alles verby.

Die KP het irrelevant geraak en soos ’n siek boom gevrek. Niemand het dit eens agtergekom nie. Pragmatiese KP’s het hul pad gevind na die Vryheidsfront; ander na die Solidariteit-familie, wat ’n nuwe generasie leiers ná ’94 vernuftig herskep het uit die ou Mynwerkersunie, wat sterk KP-gesind was.

Dis nogal pikant dat baie Trump-ondersteuners aangetref word in die geledere van Solidariteit en die VF Plus. Sou dit wees omdat hulle en ander Trumpies aanklank vind by Make America Great Again – die Trump-kultus se kodefrase vir “kry die wit Amerikaners weer in alleenbeheer in die VSA, soos in die goeie ou dae”?

Maak nie eintlik saak nie. Wat belangriker is, is dat ook Trump se Suid-Afrikaanse ondersteuners insien daar is geen heil in geweldpolitiek en aktivisme buite die ruimte wat die Grondwet daarstel nie.

Nou moet ons sien of iets sal kom van die beweging wat Trump glo hy op dreef gekry het. Ek twyfel. Die eertydse beweging van sy hedendaagse bewonderaars in Suid-Afrika het op niks uitgeloop.

Meer oor:  Donald Trump  |  Tim Du Plessis  |  Vsa  |  Awb  |  Onluste  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.