Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tim du Plessis: Wysheid, inspirasie: Ons land het dit als

Wat is die beste luisterpos as jy lewe en werk in ’n ander land? Is dit ’n ent weg, met die perspektief wat afstand bied? Of is dit naby die aksie, waar jy die skote hoor klap, die buskruit ruik en soms die bloed sien vloei? Spreekwoordelik bedoel.

In 1992-’93, 27 jaar gelede, het ek ’n (soort van) akademiese sabbatsverblyf in die VSA deurgebring.

In die Paasnaweek van 1993 sit ons vasgenael voor die TV in Cambridge, Massachusetts, en kyk na die apokaliptiese tonele uit Suid-Afrika wat gevolg het op die sluipmoord op Chris Hani. Dis dan die einde, dink ons.

Agterna, lank reeds terug in Suid-Afrika, dink ek: As jy naby is, sien jy elke trilling op die politieke Richterskaal en elkeen lyk noodlottig. Wat hulle nie noodwendig is nie. Abnormale nabyheid kan soms die akkuraatheid van jou waarneming benadeel.

Hieraan dink ek dié week by ons terugkeer uit Europa, waar ek saam met my lewensmaat, Inge Kühne, was gedurende haar sabbatsverblyf in November en Desember in Het Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

In dié tyd het niks in Suid-Afrika gebeur wat eens naastenby vergelykbaar was met die Hani-sluipmoord nie. Ons had ook baie meer volgehoue toegang tot Suid-Afrika-nuus as in 1993.

Maar die dag toe Eskom wankel, fase 6-beurtrag uitgeroep word en pres. Cyril Ramaphosa gelys word as amptelik vermis, toe kry ek weer kortstondig daardie eindtyd-gewaarwording van destyds.

As jy naby is, sien jy elke trilling op die politieke Richterskaal en elkeen lyk noodlottig. Wat hulle nie noodwendig is nie.

In die laaste tien dae van Desember het ons 600 km per motor deur Duitsland na Oostenryk gereis, waar ons Kersfees deurgebring het saam met my dogter, Michelle, en haar Oostenrykse man, Johannes Scherrer, en sy familie.

Op ’n kol kom sit Johannes en sy pa, Rudi, by my en vra oor Suid-Afrika. Iets in my wil sê ons land is gedoem, maar ek bedink my. Suid-Afrika is in ’n afwaartse spiraal wat, as dit nie gestuit word nie, ons oor die afgrond sal neem, sê ek toe maar.

Voorts: Die land was al voorheen in sulke wedlope na benede, maar is nog elke keer betyds uitgeruk.

Dié ronde sien ek egter weinig tekens van ’n dinamiek wat dít in 2020 sal laat gebeur.

Die president is ’n eerbare mens en kundig oor die ekonomie. Ek glo hy weet wat verkeerd is en wat gedoen moet word. Maar dit lyk asof daar iets in sy persoonlike en politieke mondering is wat hom keer om met ’n gevelde swaard in die arena in te stap en te begin veg vir dit waarin hy glo en dit wat reg is.

Daar word gesê sy party, die ANC, lê hom aan bande. En hy is bang vir die vakbonde wat dreig met Armageddon as hy die ekonomie begin hervorm en regruk.

Só het dit vir my op Kersdag 2019 gelyk vanaf die gehuggie Pfarrkirchen im Mühlkreis, sowat 230 km noordwes van Wene: Die krisis is nie ’n vermeende interne ANC-opstand teen Ramaphosa nie. Dit lê daarin dat die regerende party se versterwingsproses verby die punt van herstel is. Níks, maar níks, gaan meer aan nie. Dit is tans bloot ’n eens kragtige handelsmerk sonder produkte en ’n funksionerende bestuur.

In twee maande het ek letterlik géén ANC-ampsdraer, minister of anderlike swaargewig iets hoor sê wat net ’n sweempie van ’n aanduiding kon gee dat daar iewers ’n dinamiek is wat die afwaartse spiraal kan breek nie. En, jammer om te sê, dit sluit die president in. Praat van gemeenplasighede aframmel.

Suid-Afrika het waenhuise vol wys­heid, inspirasie en aksieplanne. Dit moet ons moed gee. Maar binne die ANC-borrel is daar niks daarvan nie. Die party is gewoon afgeseël van die werklikheid agter ’n dikkerwordende membraan van nekrotiese weefsel.

Dis goed om terug te wees. Johannesburg is lowergroen. In my groentewinkel is die somervrugte geil en gul. Ons mense is, wel . . . ons mense. Totaal enig in hul soort, die hele lot.

Vir Kersfees het skoonseun Johannes my ’n boek gegee van die Griekse ekonomie-professor Yanis Varoufakis, wat kortstondig (en merendeels roemloos) die land se minister van finansies was gedurende Griekeland se traumatiese skuldkrisis krisis vyf jaar gelede. Talking to My Daughter – A Brief History of Capitalism lui die titel, so pikant soos die hele boek.

Varoufakis voorspel onder meer dat nog ’n krisis op pad is, maar dis een wat die hele wêreld sal tref. Klimaatsverandering, die aanmars van ongebreidelde tegnologie en immer eskalerende ongelykheid gaan ons daarheen voer. Tog is hy nie mismoedig nie. Wat moet gebeur, moet gebeur. “Elke krisis is swanger aan herstel. En omgekeerd,” skryf die hippie-professor.

So ongeveer wat ek ook glo oor ons land.

Meer oor:  Tim Du Plessis  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.