Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Timmerman van die Karoo

Een Saterdagmiddag laat ry ek Prins Albert binne, tam en dors. Ná die volmaak by die eerste vulstasie het ek pas in die kar geklim toe ’n figuur uit die niet by my venster opduik. Klein en skraal van lyf, met ’n wye glimlag onder die blink ogies.

“Middag, meneer, kan ek nie meneer se kar was nie? Ek is baie goed met karwas,” belowe hy sommer so in die naderkom.

Die timmerman van die Karoo se voëlvoerder hang nou in die skrywer se tuin. Foto: VERSKAF

Vanselfsprekend is ek nie lus vir nonsens nie; ek wil bier gaan drink op die hotel se stoep. “Nee man, môre ry ek weer stofpad en dan’s hy weer vuil.”

Dis uiteraard ’n leuen, want môre vat ek die pad Worcester toe, heelpad teerpad, maar ek kan mos maar vir hom lieg. Dis van minder belang dat oop kaarte met hom gespeel word, solank ek net van hom ontslae kan wees.

“Meneer,” hervat hy opgewonde, “ek is ook goed met houtwerk; ek het ’n hele paar goeters hier wat ek gemaak het. Wil meneer nie net kyk nie?”

“Goeters soos wat?” trap ek kniediep in die strik van sy verkoopstegniek.

“Meneer, hier is speelgoed­waentjies wat . . .”

“Nee dankie, ek stel nie belang nie.”

“En verestoffers vir . . .”

“Nee dankie.”

“En birdfeeders om . . .”

“Nee da . . . Het jy gesê bird­feeders?” Ons voëlvoerders in die tuin het lankal reeds die gees gegee. Dit was voorheen sulke pragtige wreedaardige katte uit balsahout wat langs die bakkies vol voëltjiesaad gehang het, terwyl hulle kamma wag vir die volgende slagoffer. Maar die katte het nie meer onderlywe nie, en dis verniet of ons weer van die balsahoutprodukte in die hande kan kry. In my geestesoog sien ek hoe koop ek vandag ’n winskoop hier op Prins Albert.

“Waarvan is hulle gemaak?” verneem ek gretig.

“Meneer, hulle is van geelhout. Wag net hier; ek gaan haal gou een,” belowe hy grootoog-vriendelik. “Meneer moenie wegry nie,” word ek nog in die wegdraf vermaan. Asof daar sprake is dat ek sal wegry van ’n geelhout­produk af.

Woerts is hy om die kar, krom vooroor lyfie nes die meerkatjies van sy kontrei, om terstond weer op te duik met die afskuwelikste stuk skrynwerkerskuns wat al ooit die lig gesien het.

Hy het beslis nie gelieg nie. Dis gemaak van ’n geelhout wat plek-plek donker geverf is, vermoedelik goedkoop kratte waarin produkte soos groente vervoer kan word. Dan is die geelhout gesaag in oneweredige stukke, oneweredig aan mekaar vas­gekap met spykers wat op oneweredige plekke ingeslaan is.

Met ’n skeutjie verbeelding kan ’n mens sien dat dit veronderstel is om ’n huis te wees. Een spyker wat van die dak se kant af ingekap is, het sy teiken heeltemal gemis en sou noodlottig kon wees vir ’n voël wat onverskillig opstyg met ’n pens vol saad. Die saadbak op die vloer van die monstruositeit is die afgesaagde bodem van ’n jogurthouer, natuurlik met ’n spyker vasgekap.

Aan die bokant is ’n vuil groen tou vasgespyker. Birdfeeder? Dis ’n voëlverskrikker uit die hel!

“Nee man, ek wil nie dié ding hê nie,” protesteer ek, terwyl ek nie eens probeer om die afgryse van my gesig af te hou nie.

“Meneer, dis net R20 vir meneer; daar bo in die dorp vra ek R50.” Die entoesiasme sou aansteeklik kon wees as die omstandighede anders was.

Maar ek het klaar besluit. “Nee, hou maar, ek stel nie belang in so ’n ding nie,” besluit ek beslis voordat ek wegtrek.

So 200 m straataf begin ’n paar aspekte van die gebeure my aankla. Ek het nie sy vriendelike groet beantwoord nie. Ek het willens en wetens vir hom gelieg oor die stofpadryery.

Ek het nie positief gereageer op sy opgewondenheid nie. Ek het hom in die gesig gevat deur sy handewerk blatant te beledig. Ek het hom van inkomste beroof; hy wat nie wil bedel nie, maar iets wil verdien deur daarvoor te werk: ’n verfrissende benadering. Ek ken nie eens sy naam nie.

Ek het sy ordentlikheid beloon met kwetsende dwarsklappe. Kortom, ek het sy menswees aangetas deur my onbeskofte en ondeurdagte optrede.

Terug by die vulstasie wag hy my opgewek in. “Ek het geweet meneer gaan terugkom,” groet hy met die gebruiklike glimlag, my ongeregtighede lankal ver­gewe.

Ná afhandeling van die kooptransaksie steek hy formeel sy stowwerige vuisie in my rigting uit. “Meneer, dis die teken van ons respek vir mekaar.”

Innig dankbaar oor sy vergewens­gesindheid pomp ek my vuis teen syne.

’n Paar dae later sit ek op my stoep en kyk na die nuwe bird­feeder daar waar hy so skeef aan sy tou onder die witstinkhout hang. Die voëls, wat aanvanklik verwilderd op die vlug geslaan het wanneer hulle hom gewaar, sal hopelik aanstons gewoond raak aan die gedroggie.

My gedagtes beur terug na die onbekende timmerman van Prins Albert. Ek weet nie hoekom ek hom nie uit my gestel kan kry nie, dalk omdat sy wese my op ’n vreemde manier herinner aan ’n ander Timmerman wie se werk ook deur ’n hardvogtige mensdom misken is.

Meer oor:  Willem Esterhuyzen  |  Prins Albert  |  Timmerman  |  Rubriek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.