Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tito gaan deeglik geweeg word
Nhlanhla Nene, minister van finansies. Foto: Felix Dlangamandla

Daar is net geen einde aan die politieke intriges in dié land nie. Net toe ons dink ons het ’n stabiele regering onder pres. Cyril Ramaphosa, bedank die minister van finansies.

Dit is waarskynlik die belangrikste kabinetsportefeulje naas die president. Dit is nog altyd beklee deur mense met integriteit, skoon rekords en individue wat in pas is met die president. Die beste bewys daarvan is in die Thabo Mbeki-era, toe Trevor Manuel, sy bondgenoot, die pos lank beklee het. Baie van Mbeki se kritici het trouens Manuel blameer. Hy was die verpersoonliking van die regering se standpunt van fiskale dissipline, pro-privatisering en pro-markte.

Nhlanhla Nene is eerlik en het integriteit, maar was nooit so uitgesproke soos Manuel nie. Hy het sy werk stilweg gedoen en nou is hy weg omdat hy ’n leuen vertel het. Omdat hy nooit regtig aktief deelgeneem het aan die politiek nie, het Nene omtrent nooit aanstoot gegee nie. Hy het stelselmatig ’n reputasie verwerf as iemand wat vertrou kan word. Dis derhalwe geen verrassing dat talle gere­spekteerde kommentators sy leuens as ’n mindere misstap probeer afmaak nie.

Van die verskonings wat namens hom aangebied is, sluit in dat helde ook foute het en ons begrip moet hê. Maar dit werk nie so nie. As ’n held ’n fout maak, moet hy die prys betaal. Geregtigheid is net geldig as dit op almal van toepassing is.

Die argument is dat Nene dit nou laat lyk asof jy gestraf word as jy voor die Zondo-kommissie getuig en dat dit voorgenome getuies sal afskrik

Die argument is dat Nene dit nou laat lyk asof jy gestraf word as jy voor die Zondo-kommissie getuig en dat dit voorgenome getuies sal afskrik. Dis nie die punt nie. Nene se getuienis het bloot bevestig dat hy vroeër gelieg het. Hy het twee jaar gelede uit eie beweging aan ’n eNCA-verslaggewer gesê hy het nog nooit enige amptelike vergaderings met die Gupta-familie gehad nie. Hy het hulle net een of twee keer raakgeloop en hulle het geen gunste van hom gevra nie.

Voor sy verskyning voor die kommissie het die EFF gedreig hy sal inligting oor hom bekend maak as hy nie die volle waarheid vertel nie. In sy getuienis het hy met die sak patats vorendag gekom. ’n Dag later het hy verskoning gevra en erken hy kon nie voldoen aan die verwagtinge wat aan hom gestel is nie.

Hy het Suid-Afrikaners om vergifnis gevra. Kommentators het gevra waarom Nene gestraf moet word omdat hy die Guptas besoek het. Daar is gesê as alle ministers moet bedank wat dit gedoen het, die kabinet sal leegloop.

Helen Zille, DA-premier van die Wes-Kaap, het al erken dat sy met die Gupta-familie vergader én van hul kerrie geëet het.

Die probleem is nie dat Nene met die Guptas vergader het nie, maar sy leuens daaroor. Helen Zille, DA-premier van die Wes-Kaap, het al erken dat sy met die Gupta-familie vergader én van hul kerrie geëet het. Tog is sy onder geen druk om te bedank nie. Hoekom nie? Want sy het erken daar was ’n vergadering en vertel wat die doel en die uitkoms daarvan was. Dit laat geen ruimte vir bespiegeling nie.

Intussen is ons steeds in die duister oor wat tussen Nene en die Guptas bespreek is. Hoekom vertel Nene ons nie meer nie? Sou hy die waarheid gepraat het as die EFF hom nie gedreig het nie? As hy daaroor lieg, hoekom moet ons hom verder vertrou?

Ek is nie seker of hy moes bedank of nie, maar is geskok oor die pogings om verskonings vir hom te maak. Hy is ’n goeie mens wat ’n stokkie voor oudpres. Jacob Zuma se kernplan gesteek het, is gesê. Ons moet nooit verskoning maak vir politici van wie ons hou nie, maar daarop aandring dat hulle aan basiese vereistes voldoen.

Iemand het gister gesê daar hang geen reukie om Tito Mboweni, nuwe minister van finansies, nie. ANC-faksies staan gereed om enigiemand te takel wat net lyk of hy ’n voet verkeerd sit. Ek stem saam daarmee. Mboweni se aanstelling is deur die meeste mense verwelkom, maar hy moet weet dat hy aan hoë standaarde gemeet gaan word. Geen heilige koeie nie, asseblief!

Tabane is City Press se politieke redakteur.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Nhlanhla Nene  |  Zondo-Kommissie  |  Guptas  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.