Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tito is SA se laaste hoop
Tito Mboweni, minister van finansies, tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober 2019. Foto: getty images

Dit is weer sulke tyd – die minister van finansies moet sy begrotingstoespraak lewer.

Dit is kortliks ’n samevatting van ons land se inkomste en uitgawes en die planne wat die minister in werking gaan stel om die staatskas se boeke te laat klop.

Tydens sy toespraak verlede jaar het minister Tito Mboweni aalwynplantjies uitgedeel. Dié ikoniese inheemse plant is gehard, droogtebestand en immergroen. Dit word ook al oor jare heen vir medisinale gebruik aangewend. Hiervan kan ek persoonlik getuig – ’n dubbelsopie tuisgebroude en potketelgestookte aalwynheil maak korte mette van enige ongesteldheid.

“Ons moet die bitter saam met die soet neem,” was die minister se woorde, wat my en vele ander nuwe hoop gegee het.

Hoop vir die ekonomie, werkskepping en vooruitgang. Dit het my gade ook gesê toe ek my gesig op ’n plooi trek. Dis nou ná daardie eerste teug aalwynheil.

Die soet en onheil wat gevolg het, bly my tot nou toe by. Maar daaroor sal ek nie verder uitwei nie. Dis bitter maar lekker. Onheilig lekker!

Watter wonderkuur gaan hy vir ons sukkelende ekonomie voorskryf?

Maar kom ek keer terug na Mboweni. Watter wonderkuur gaan hy vir ons sukkelende ekonomie voorskryf? Suid-Afrika en dié met ’n belang by ons ekonomie, wag angstig op die medisyne wat hy in sy begrotingstoespraak gaan voorskryf.

Die minister is egter allesbehalwe ’n kwaksalwer – die ekonomiese kwale is vir hom geen geheim nie. Hy is ook nie ’n man vir allerlei doepa óf ’n gegryp na grashalms nie. Aaptwak wel.

Hierin lê vir hom ’n onontginde bron van staatsinkomste wat, indien dit nie voortydig in vlamme opgaan nie, ons fiskale uitdagings kan help beredder.

Om die groeiende begrotingstekort te oorkom, verg egter meer as net die inkomste wat deur aaptwak gegenereer kan word, agbare minister. En om jaar ná jaar van die handjievol vuisvoos belastingbetalers te verwag om net meer en meer van hul karige salarisse of beperkte maatskappywinste aan die staat af te staan, vra vir moeilikheid.

Tussen hamer en aambeeld is die minister gewis, maar om bloed uit ’n klip te probeer tap, is gedoem tot mislukking.

Tussen hamer en aambeeld is die minister gewis, maar om bloed uit ’n klip te probeer tap, is gedoem tot mislukking.

Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler ervaar die afgelope dekade net pyn. Van soet is daar geen sprake meer nie. En om van die verbruikers te verwag om nóg meer van hul besteebare inkomste aan BTW-belasting af te staan, maak mense net meer en meer moerig.

Maar wat sê die feite?

Die jaarlikse inflasiekoers het in Januarie 2020 tot 4,5% gestyg. Dit is veroorsaak deur ’n styging in die koste van vervoer, brandstof, behuising en allerlei ander goedere en dienste. Huishoudelike skuld neem jaar ná jaar toe.

Christo van der Rheede

Daar is ook nie ekstra geld om te spaar nie. Na verwagting sal die persoonlike spaarkoers in Suid-Afrika teen die einde van hierdie kwartaal -0,3% beloop. Dis bitter laag. Mense sukkel om kop bo water te hou en dit is ook ’n stryd vir miljoene om ’n werk te kry.

Van bykomende belastings is daar dus geen sprake nie. Dit beteken net een ding – sny aan die uitgawekant. Dis ’n pynlike, maar broodnodige oefening. Dit sal die land ook ’n afgradering na rommelstatus deur Moody’s help vryspring.

Ons plaas daarom ons hoop in u, minister Mboweni. U weet dat vir elke persoonlike inkomstebelastingbetaler daar 3,8 mense is wat maatskaplike toelaes ontvang. Dit is onvolhoubaar.

Verbreed daarom die belastingbasis. Kry die ekonomie aan die gang sodat meer mense belasting kan betaal. Stimuleer die produktiewe sektor en besnoei die onproduktiewe sektore.

Só oorleef en groei die aalwynplantjie in die mees dorre omstandighede. U weet wat om te doen!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.