Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tito se plan is vir hele SA, nie net ANC

Mcebisi Jonas se boek en die tesourie se veelbesproke ekonomiese voorstelle probeer ’n nuwe grondslag vir samewerking skep wat alle Suid-Afrikaners intrek, nie net die ANC-apparatsjiks nie, skryf Christi van der Westhuizen.

Tito Mboweni, minister van finansies, begryp dat versterkings van buite die ANC verkry moet word om alliansies te bou wat kleptokrasie kan verslaan. Foto: Argief

Die Ramaphosa-faksie in die ANC het in die afgelope tyd twee waarskuwingskote afgevuur. Hierdie onverwagte vertoon van politieke fut kom net-net op die regte tyd, gegewe die huidige donker dae.

Die eerste is die bekendstelling van Mcebisi Jonas se boek, After Dawn – Hope After State Capture, en die tweede is Tito Mboweni, minister van finansies, se vrystelling van ’n nuwe tesourie-beleidsdokument met hervormingsvoorstelle vir die ekonomie.

Die twee dokumente het ’n klomp raakpunte, waarvan een die erkenning is dat Suid-Afrikaners ’n nuwe sosiale kontrak met mekaar moet sluit. Nóg ’n onthullende ooreenkoms is dat die openbare narratief wat die twee bekendstellings vergesel, ’n breuk met ANC-praktyke wys. Daar is selfs pynlike eerlikheid te bespeur.

Mboweni het dus gevestigde belange in die drieparty-alliansie geïgnoreer en die tesourie se voorstelle regstreeks aan die publiek voorgelê. Groot is die gevolglike konsternasie van die alliansievennote en hul trawante in nieregeringsorganisasies.

Neem Mboweni se aankondiging van die beleidsdokument, getitel “Economic transformation, inclusive growth, and competitiveness: Towards an Economic Strategy for South Africa”.

Dit is einde Augustus in die openbaar uitgereik sonder dat dit deur die kabinet goedgekeur is, of intern in die ANC of met alliansievennote bespreek is.

Mboweni het dus gevestigde belange in die drieparty-alliansie geïgnoreer en die tesourie se voorstelle regstreeks aan die publiek voorgelê. Groot is die gevolglike konsternasie van die alliansievennote en hul trawante in nieregeringsorganisasies.

Só groot dat hulle skaars kommentaar lewer oor die inhoud, want hulle is geobsedeer met hoe hulle polities gemarginaliseer is in die proses wat gevolg is.

Die refrein wat weerklink, is dat die tesourie eers die instemming van ander staatsdepartemente, die ANC as party en van alliansievennote moes verkry.

Mboweni nie net ANC se minister

Vanuit ’n demokratiese oogpunt beskou, het Mboweni met sy systappery van hierdie verskillende groeperinge voorkom dat hul insette bevoorreg word.

Meer nog, hy het gekeer dat die beleidsvoorstelle in die modderige vetes binne die party vasval. Die ANC is ’n diep verdeelde party.

Opportunistiese ekonomiese populisme, wat uiteindelik net oor individuele selfverryking gaan, het alreeds tot problematiese ANC-beleidswysigings gelei, soos dat die Reserwebank “genasionaliseer” moet word.

Die minister van finansies is deel van ’n regering wat eerstens en laastens aanspreeklik teenoor die publiek is.

Pres. Cyril Ramaphosa sit met ’n verdeelde nasionale uitvoerende komitee in die ANC, en ’n uitvoerende gesag en parlement met kompromis-aanstellings van mense wat by korrupsie geïmpliseer is. Hoe moet ’n mens sin maak van diegene wat meen dat gekompromitteerde forums eers die beleidsvoorstelle moes goedkeur?

Teen die agtergrond van Suid-Afrika se laaste beleggings-gehalte-kredietgradering wat aan ’n al dunner draadjie hang, en ’n ANC wat al meer legitimiteit verloor, soos vanjaar se kiesuitslae gewys het?

Uiteindelik dui die standpunt dat die party eers die beleidsvoorstelle moes goedkeur op die ou probleem van die ANC se onvermoë om tussen party en staat te onderskei.

Mboweni is nie minister van finansies vir net ANC-lede nie. Die verslag is voorberei deur die tesourie se ekonomiese beleidseksie (nié die ANC nie), waarvan die politieke hoof die minister van finansies is (nié in sy hoedanigheid as ANC-ampsdraer nie).

Die minister van finansies is deel van ’n regering wat eerstens en laastens aanspreeklik teenoor die publiek is, en het dit aan die publiek vir kommentaar voorgelê. Dit is nié vergelykbaar met die regering se eensydige aanvaarding van die ekonomiese plan vir groei, werkskepping en herverdeling (Gear) in 1996 toe daar geen raadpleging van enige aard was nie.

Die voorlegging aan die publiek is inderwaarheid ’n voorbeeld van breë, verteenwoordigende raadpleging, soos dit ’n staatsdepartement en ’n regeringsminister in ’n demokrasie betaam. Dit is die teenoorgestelde van die soort denke wat die ANC bo die openbare belang verhef.

Dit dui ook daarop dat Mboweni – en dus die Ramaphosa-groep – begryp dat hul versterking ook van buite die ANC moet kom, en dat alliansies in die breër samelewing gebou moet word as goeie Suid-Afrikaners die kleptokrasie wil verslaan.

Staat se strukture moet los wees van ANC

Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, se boek is deel van die waarskuwingskote wat die Ramaphosa-faksie in die ANC afgevuur het. Foto: Heather Mason

Jonas is verfrissend reguit in sy veroordeling van die soort denke wat die ANC ten koste van alles anders vooropstel, en maak ook spesifiek ’n saak vir ’n aktiewe burgery om betrokke te raak. By die bekendstelling van sy boek in Nelson Mandela-Universiteit ’n week gelede, het hy beskryf hoe die interseksie van politiek en ekonomie die kern van die krisis in Suid-Afrika vorm.

Die land is op die rand van ineenstorting, wat net vermy kan word as ’n nuwe sosiale kontrak geskep kan word, gegewe dat die oue van 1994 ontrafel het, meen Jonas. Die land het aktiewe burgers nodig wat weier om hulself verder aan ’n politieke elite met eng belange ondergeskik te stel, het hy bygevoeg.

Almal weet die munisipaliteite is disfunksioneel, maar niemand doen iets daaraan nie, het hy voorts gesê. Wanneer mense “korrupsie” hoor, dink hulle aan die Guptas se aftakeling van nasionale instellings, maar elke munisipaliteit het sy eie “klein Gupta”.

Suid-Afrika staan voor ’n uitdaging wat soortgelyk in omvang en potensiële verskrikking as in die 1990’s is, soos Ramaphosa in sy voorwoord in Jonas se boek uitwys.

Die staat kon nie gekaap word as die ANC nie gekaap is nie. Om ’n doeltreffende staat te skep, moet staatstrukture van party-strukture losgemaak word. Terselfdertyd kan die ANC nie hervorming vermy nie.

Die tesourie-dokument is ook eerlik oor Suid-Afrika se toestand. “Die kombinasie van lae groei en stygende werkloosheid beteken dat Suid-Afrika se ekonomiese trajek onvolhoubaar is,” lui die dokument se openingswoorde. Beide die tesourie-dokument en Jonas se boek beklemtoon groei, maar inklusiewe groei, spesifiek in arbeidsintensiewe bedrywe. Ander ooreenkomste is die fokus op die jeug, onderwys en tegnologie.

Aspekte van die tesourieplan en Jonas se voorstelle klink bekend (selfs oorbekend), maar die verskil is die openlike erkenning van uitdagings en mislukkings. In albei gevalle word ook reguit gepraat oor die verantwoordelikheid van wit mense wat steeds grotendeels die eienaars van kapitaal in die Suid-Afrikaanse ekonomie is.

Christi van der Westhuizen

Suid-Afrika staan voor ’n uitdaging wat soortgelyk in omvang en potensiële verskrikking as in die 1990’s is, soos Ramaphosa in sy voorwoord in Jonas se boek uitwys. Jonas en die tesourie se voorstelle probeer ’n nuwe grondslag vir samewerking skep wat alle Suid-Afrikaners intrek, nie net die ANC-apparatsjiks nie.

Hulle plaas klem op mark-vriendelike regeringstappe wat ekonomiese volhoubaarheid in die hand sal werk. Die voorstelle kry ’n klein hupstoot in die vorm van die verbetering van ekonomiese groei van negatief in die eerste kwartaal van 2019 tot 3,2 persent in die tweede kwartaal.

Maar diegene met kapitaal moet aktief toetree, ook tot die wysiging van hardnekkige rasse-patrone van eienaarskap. Die alternatief is ’n Suid-Afrika waarin die kleptokrate die botoon voer. Hulle is steeds hard aan die werk om alles plat te slaan.

* Van der Westhuizen is medeprofessor in die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie (Canrad) aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Tito Mboweni  |  Christi Van Der Westhuizen  |  Mcebesi Jonas  |  Suid-Afrika  |  Tesourie  |  Staatskaping  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.