Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tjil ’n bietjie en laai vir jou ’n podsending af
Prof. Gerhard van Huyssteen

My vriend Rob dink ’n e-vakansie is iets waarvoor jy ’n vir­tuelerealiteitskopstuk opsit en dan allerlei eksotiese eilande, vergeleë stede en obskure museums gaan besoek – alles in die gemak van jou voorhuis.

Die woord “e-vakansie” blyk egter iets anders te beteken: Dit is ’n rusperiode waarin jy doelbewus nie elektroniese kommunikasietegnologie gebruik nie.

Jy neem dus as’t ware ’n blaaskans van e-pos, Facebook, Twitter en dies meer.

Ek neem tans ’n radioblaaskans.

Van tjokkertjiedae af is ek byna obsessief oor radio. Ek vind dit een van die fassinerendste en mees diverse me­diums van vermaak. Dis stemme in jou kop wat jy byna oral met jou kan saamdra (sonder om mediese behandeling daarvoor te kry).

Maar ’n geruime tyd al is daar te veel geruis as ek die radio aanskakel. (Of dalk is die geruis net in my kop?). En ek noem dit nou maar by die naam, hopelik sonder om aanstoot te gee:

RSG is van kindsbeen af my gunstelingradiostasie, maar dié het té voorspelbaar, té resepmatig na my smaak geword. (Dis my probleem, nie hulle s’n nie.)

Boonop, elke keer as ek op 101-103 FM inskakel, is ek so vreesagtig dat ’n aankondiging van die program – en ek kan die woord byna nie skryf nie – Tjil gedoen gaan word, dat ek eintlik glad nie kan ontspan nie. Lieflike program, maar die naam Tjil? Hallo vriendin! Hoop jy tjil biki. Hê ’n lekke daggie!

Ek kan nie . . .

As jy van voorspelbaar wil praat, dan steek die groot tweetalige, kommersiële radiostasies soos Jacaranda FM natuurlik ywerig hul handjies op. Dat “Despacito” per noodsaak 23 keer per dag gespeel moet word, is een ding; die geforseerde gelag van die kameeaanbieders ’n ander . . .

Gemeenskapsradiostasies – soos Groot FM in my omgewing – het gewoonlik iets lekker huisliks, iets tuisgebaks aan hul klank.

T

Hallo vriendin! Hoop jy tjil biki. Hê ’n lekke daggie!

erwyl hul inhoud dikwels minder voorspelbaar is, is hul opvangs ewe onvoorspelbaar: As jy dié kant om Checkers ry, hoor jy hulle nog, maar nie as jy daardie kant om ry nie.

En so, tydens my radiovakansie, ontdek ek die wonderwêreld van oudioboeke en podsendings (“podcasts”, of soos RSG dit noem: potgooie).

Radio-op-aanvraag (“radio on demand”) is deesdae die inding: Jy besluit waarna jy wil luister, wanneer jy daarna wil luister.

Apple-mense het dit maklik, want iTunes is gebou vir podsendings. Dié van ons wat halsstarrig teëskop teen Apple, het baie ander keuses.

Ek gebruik byvoorbeeld die toepassing Podcast Addict. Jy laai dit gewoon af, soek na temas wat jou interesseer (byvoorbeeld of ), teken in (meestal gratis) op die podsendings, laai dit af as jy aan ­Wi-Fi verbind is en luister dan wanneer jy wil, waar jy wil daarna.

Ek is byvoorbeeld ingeteken op RSG se podsending van Die tale wat ons praat. Nou hoef ek nie meer Sondagoggende my wekker te stel om te onthou om daarna te luister nie. En ek hoef ook nie die tjilwoord te vrees nie . . .

By VivA (viva-afrikaans.org) het ons ook begin met ’n verskeidenheid podsendings oor Afrikaans. Gaan luister gerus en laat weet ons wat jy dink. En laat weet veral wat jóú behoeftes is.

Meer oor:  Afrikaans  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.