Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe bendes nog nie wapens gebruik het nie

Bendes het deesdae nie veel respek vir enigiets nie. Willem Fransman jr. onthou nog die dae toe bendes sake met die vuis, nie met messe en vuurwapens nie, besleg het.

Willem Fransman jr.

“Het djulle gehoo lat Djesus doodgeskiet is? En lattie Twaalf Dissipels nou sonne ’n leader is?”

Dis die woorde van ’n opgewonde kollega nét na twee, die dag ná Paasmaandag. Vir ’n oomblik is ek uit die veld geslaan.

“Jong, natuurlik is Jesus dood, duisende jare gelede al, jou sot,” deel ek hom mee.

“Nie Boeta Willie, rêrag. Dissie die Djesus vannie Bybel wat dood is nie! Dissie gangleader van Clarke Estate wat net hie byte innie parking lot, voorie hospitaal geskiet is. Byrie taxi-rank!”

Dis toe dat ek besef dat daar hier, by Tygerberg-hospitaal op die parkeerterrein, ’n ernstige voorval was.

Toe ek die “ingeligte” kollega uitvra, kom ek agter dat die man wel ’n berugte bendeleier was en doodgeskiet is deur ’n groep wat van sy bende weggebreek het.

Sjoe, bendes het deesdae nie eens meer respek vir hospitale nie. As daar ’n byltjie te slype is met ’n halstarrige bendelid, sal hy die gevolge moet dra. Selfs die uiterste prys daarvoor moet betaal.

In my kinderdae van die laat 1960’s, in die Lane in Tiervlei (vandag Ravensmead), onthou ek ook dat daar ’n bende met die naam van die Twaalf Apostels was. En as ek reg onthou, was hulle leier ’n vrou. Haar naam was Moeder Maria.

Sy was vreesloos. Haar manlike bendelede het blykbaar in vrees vir haar gelewe.

Die vuiste het gepraat

As daar ’n geskil met ’n ander bende was, is dit gewoonlik op ’n Sondagmiddag besleg. Die gevegte het in die strate plaasvind. Helder oordag. Vuurwapens, anders as vandag, was toe nie ’n keuse nie. Die enigste wapens was vuiste.

Ook nie messe nie. Dit is, om die waarheid te sê, ook nie dikwels gebruik nie.

Die opponent is vir ’n “fair fight”, nét met die vuiste, uitgedaag. Dan is daar baklei tot die bloed geloop het. Of totdat die een ingegee het. Vir ’n tydjie sal daar dan weer vrede op die Vlaktes wees.

In die 1970’s was daar selfs ’n bende wat net uit vroue bestaan het. Hulle was bekend as die Tamatie-gang. Hierdie dames het vreesloos in die Lane van Tiervlei, maar ook in die behuisingskema en die Stone Hill-omgewing hul ding gedoen.

Ons was kinders tydens die era toe melk en vrugtesap nog met koepons gekoop kon word. Die melk of vrugtesap, in glasbottels met ’n foelie-doppie, is voor die voordeur neergesit. ’n Swart man op ’n driewiel-fiets met ’n groot metaal-trollie aan die voorkant, het dit altyd kom aflewer.

Op ’n dag het Georgie se bende ’n moord gepleeg en hulle is leier en al in hegtenis geneem.

Een Sondagoggend het ’n ander berugte bendeleier, Georgie Golding, en sy bende die swartman, of “Milky” soos ons hom genoem het, van sy voorraad melk en vrugtesap beroof.

Ons kinders is nader geroep en vrugtesap en melk is in ons arms gestop. “Die melk moet djulle vi djulle se ma’s gat gie. Djulle kan maa self die juices opdrink!” is aan ons gesê.

Die bedremmelde melkman het verwese daar rondgestaan. ’n Mens het hom eintlik jammer gekry.

Op ’n dag het Georgie se bende ’n moord gepleeg en hulle is leier en al in hegtenis geneem. Ná ’n paar weke in aanhouding het hulle in die hof verskyn. Georgie Golding is toe ter dood veroordeel.

Rondom die ghêllie-blikke het die groot ooms een aand van Golding se dapper optrede vertel. Naamlik dat, toe die regter die doodstraf oor hom uitgespreek het, hy die regter in die gesig gespoeg het.

Strate selfs helder oordag gevaarlik

Alhoewel ons in Tiervlei gebly het, het ek my hoërskooljare by ’n skool in ’n naburige dorp, Elsiesrivier, deurgebring.

Daar was Negende Laan en Baartmanstraat die berugte-bende strate. Daar het almal maar katvoet geloop en dit net gedurende die dag daar gewaag. Maar selfs helder oordag kon jy van jou kosbaarhede beroof word.

Maar die bendelewe is nooit eintlik deur seuns of dogters in my vriendekring aangehang nie.

In ons kinderdae was daar baie bendes. Met interessante name soos die Sicilians, Scorpion Kids, Junky Funkie Kids, BFK’s en die Starlights, om maar ’n paar te noem. Maar die bendelewe is nooit eintlik deur seuns of dogters in my vriendekring aangehang nie. Nog minder het ons dit geromantiseer of heldeverering vir hulle gehad.

Toe my kollega, wat van Jesus se skietdood by die hospitaal vertel het, wegstap, kom sit daar ’n duiweltjie op my skouer: As Jesus geskiet is, dan moet die personeel by die hospitaal se lykshuis daardie laatjie met sy lyk daarin, maar met valkoë dophou.

Hy mag dalk nét, na drie dae, uit die dood uit opstaan!

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Geweld  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.