Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe boemerang Ace-kaartspel

Verlede Dinsdag is Suid-Afrikaners getrakteer op een van die duidelikste en uiteindelik mees patetiese voorbeelde in baie jare van wat vir ou politieke bokkoms soos ek bekend staan as ’n vlieër, en toe ook op wat in goeie Afrikaans bekend staan as ’n three card trick.

’n Politieke vlieër is ’n gerug wat ’n politikus of politieke party of regering versprei om te kyk hoe die wind waai. Argumentsonthalwe: Gestel die DA skrik eersdaags wakker uit sy politieke hibernasie en besef hy behoort eendag met sy lankmoedige dog algaande meer gefrustreerde ondersteuners eerlike, oop kaarte te speel oor of hy met die EFF en ander politieke partye teen die ANC gaan saamwerk in stadsrade waar niemand in aanstaande jaar se verkiesing ’n volstrekte meerderheid kry nie, dan moet die DA mos nou besluit, saamwerk of nie?

Jan-Jan Joubert

En as die DA dalk wonder wat die kiesersreaksie sal wees op daardie keuse, is dit vir die DA ’n goeie idee om ’n gerug te laat ontstaan, dalk met ’n netjies beplande vertroulike politieke lekkasie na ’n joernalis wat dit dan rapporteer, dat daar in DA-kringe hieroor gewonder word.

Dit is die vlieër.

Die publiek sal in briewekolomme, sosiale media, gesprekke en inbelprogramme hulle nie onbetuig laat hieroor nie, en so sal die DA ’n sterk aanduiding kry oor hoe die wind waai.

So, toe ek en my ou maat Bradley vroeg Dinsdagoggend ’n vinnige Seepuntse croissant en koffie gryp, omgord ons grimmig dog vasberade die lendene vir die aandurf van ’n daaglikse nuusaanbieding wat luidkeels – dog straks misleidend – op Engels beweer dat hulle onafhanklik is.

Daar lees ons dat die Valke – daardie lang sluimerende teenkorrupsie-eenheid wat skielik murg in hul pype gekry en onverwags hul ruggraat ontdek het – op die punt staan om die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, in hegtenis te neem. Bradley en ek het na mekaar gekyk en soos een man gesê: “Hier kom ’n three card trick.”

Bradley en ek het na mekaar gekyk en soos een man gesê: “Hier kom ’n three card trick.”

Daai truuk is soos ’n politieke vlieër op steroïede en werk so: As jy in die openbare oog (dalk ’n politikus) is en jy is baie bekommerd (dalk weens ’n skuldige gewete) dat jy dalk in die pekel kan wees, dan stuur jy of jou kornuite ’n vlieër op in ’n koerant wat jou goedgesind is dat jy binnekort in hegtenis geneem gaan word en hulle publiseer die gerug.

Dit is die eerste kaart in die three card trick.

Die koerant kontak dan die polisie om te vra of jy binnekort in hegtenis geneem gaan word. As die polisiewoordvoerder vaardig is, is die antwoord dat geen kommentaar op komende inhegtenisnemings gelewer word nie en die three card trick misluk. Maar as die polisiewoordvoerder swak is, is die antwoord dat daar geen planne is om die politikus in hegtenis te neem nie, en jy as politikus is vir ’n rukkie veilig, want die polisie kan jou mos nie aankeer dadelik nadat hulle gesê het hulle gaan dit nie doen nie.

Dit is die tweede kaart.

En dan spring jy as politikus op jou seepkis en vertel aan die wêreld jy is g’n bang vir die tronk nie, so wie jou in hegtenis wil neem kan maar kom – jy is gereed. Jy jok, want jy is bang, maar jy lawaai so, jy dink niemand weet nie.

Dit is die derde kaart.

Verlede Woensdag het die three card trick binne een dag uitgespeel. Die Engelse mediagroep het beweer Magashule gaan in hegtenis geneem word, die Valke het dit ontken en Magashule het lawaai.

Maar hierdie naweek het die mediagroep erken Magashule self was die bron van die gerug. Die three card-kierangs het uitgebraai want, so lui die spreekwoord: Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel!

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Middelgrond  |  Jan-Jan Joubert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.