Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe dodelike koors 8 000 lewens gered het
Heinz Mödler

Drie bejaardes, almal in hulle tagtigs, is al weens die nuwe koronavirus aan boord van die passasierskip Diamond Princess dood. By die 700 van die 3 700 passasiers op dié skip wat al vir twee weke buite Jokohama, Japan, onder kwarantyn gehou word, het al positief getoets vir die Covid-19-virus.

Die skip Ticonderoga, wat Liverpool in 1852 vir Port Phillip, Australië, verlaat het, het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Gou is hierdie drywende gevaar die “koorsskip” gedoop, en in ’n japtrap is honderd mense dood.

Die oorsaak? Tifuskoors. Dié siekte het ’n paar dekades gelede endemiese afmetings aangeneem en was verantwoordelik vir miljoene sterftes. Eers is daar griepsimptome soos koors, hoofpyn, moegheid en ’n veluitslag. Dan volg die gevaarlike brein- en breinvliesontsteking, delirium, en die dood.

Die naam “tifus” beteken juis “vaag” in Grieks en dui op die slaperigheid en delirium wat pasiënte ondervind.

Dit was nie vir die Duitsers die moeite werd om tifuskoorslyers na konsentrasiekampe te vervoer nie, want hulle gaan in elk geval gou sterf.

Tifuskoors word deur die Rickettsia prowazekii-bakterie veroorsaak wat deur luise na die mens versprei word. Deesdae kan ons teen tifuskoors ingeënt word en siekes kan ook suksesvol met tetrasiklien behandel word.

Hoewel tifuskoors in die verlede ’n gevreesde siekte was en geïnfekteerde mense soos melaatses behandel is, het tifuskoors ook lewens gered. Om die waarheid te sê, meer as 8 000 mense s’n. Almal Jode.

Die Poolse dokter Eugene Lazowski (1913-2006) het in die dorpie Rozwadów in Pole gepraktiseer tydens die Tweede Wêreldoorlog. Was dit nie vir hom nie, het al die Jode in hierdie dorpie in die Nazi’s se konsentrasiekampe gesterf. Hy was al te bewus van die Duitsers se obsessie met siektes, veral aansteeklike, infektiewe siektes.

Tifuskoors was ’n algemene siekte en aangetastes het gewoonlik nie lank geleef nie.

Dit was nie vir die Duitsers die moeite werd om tifuskoorslyers na konsentrasiekampe te vervoer nie, want hulle gaan in elk geval gou sterf. En dit sou boonop die kans om die gevreesde siekte self op te doen, verhoog.

Lazowski het links en regs die diagnose van tifuskoors begin maak. Binne ’n kort tydjie het hy die diagnose van endemiese tifuskoors in sy dorpie gemaak en die Duitsers het die omgewing onder kwarantyn geplaas.

Maar die Duitsers wou klinkklare bewyse van die siekte hê.

Die goeie dokter moes aan elke siek persoon se mediese observasies ’n positiewe laborato­rium-uitslag van tifuskoors vasspeld.

Gelukkig was Lazowski die Nazi’s een voor. Hy het ontdek dat wanneer hy ’n persoon met ’n vaksine inspuit wat dooie Proteus-bakterieë bevat, hulle positief vir tifuskoors toets sonder om die siekte onder lede te hê. Hy en sy vennoot het in hul spreekkamers hierdie vaksines begin maak en al die Jode in die dorpie ingespuit.

Die Duitsers is geflous. Hulle was al te bewus dat ongeveer 750 mense elke dag aan tifuskoors gesterf het en bykomende positiewe bloedtoetse van tifuskoors was dus nie ongewoon nie.

Dalk tree daar ’n soortgelyke innoverende dokter binnekort aan boord van die Covid-19-skip.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Virus  |  Jode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.