Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe dominee se jaarlikse huisbesoek ’n ding was

Predikante doen nie juis meer huisbesoek nie. Hoekom sal net hulle weet. Daar was egter ’n tyd toe dit ’n belangrike deel van hul bediening was.

Gemeentelede is een keer per jaar tot in die verste uithoeke van Suid-Afrika besoek. Op afgeleë plase waar besoekers skaars was, was dit ’n groot geleentheid waarna uitgesien is.

Johan van Wyk

Jou beste voet is voorgesit, al het dit maar getere, soos nou in hierdie onmenslike droogte. My ma sou gesê het “jy hou die ordentlikheid op”.

Nog te meer noudat boere so in die “kalklig” bly.

Nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika was dit so in die mode om ’n boer te wees soos nou nie – is soveel aandag aan boere gegee nie. Deels om die verkeerde redes, nogtans.

Daar gaan amper nie ’n dag om dat boere nie die hoofnuus in koerante, die radio en TV is nie.

Plus allerlei programme deur mense wat voorheen kwalik die woord boer kon spel, van boerdery minder as die kat van saffraan geweet, selfs effens daarop neergesien het, maar nou nie genoeg daarvan kan kry nie.

Dis asof die media en almal, van Boer soek ’n vrou tot by ou Daantjie in die kallerhok, soos ’n drenkeling na ’n reddingsboei gryp, skielik ontdek het dat die landboubedryf lewensbelangrik is vir Suid-Afrika se oorlewing en voortbestaan. Almal, ja, behalwe die regering . . .

Regtig? Nou eers!

Waar was hierdie mense al die jare toe Suid-Afrika, danksy die boere, letterlik en figuurlik ’n land van melk en heuning was, maar niemand juis daarvan kennis geneem het nie en volop, goedkoop kos op jou tafel as vanselfsprekend aanvaar is?

Moes daar eers ’n ramp gebeur om die boere se waarde te besef? ’n Geval van te min, te laat ? Is die koeël deur die kerk?

Net om sonder voldoende, langdurige staatshulp van hierdie droogte te herstel, kan ’n geslag neem.

Met, tensy die ANC tot sy sinne kom, wat onwaarskynlik is, die doodskoot op pad – onteiening sonder vergoeding.

Soos ou Willem Tieties Boetietjie toegesnou het toe hy die kraalhek die soveelste keer laat ooplê en die kallers weer die koeie uitgesuip het: “Jy moet jou donnerse ore nou oopmaak, vreksel!”

Presies hoe in die mode boere geword het, kan vergelyk word met die dae toe “Ons roep die landman” soggens voor sonsopkoms al radioprogram vir boere en Opsitkers in Die Landbouweekblad die enigste manier was vir ’n belustige jong boertjie op ’n eensame plaas om ’n vrytjie, wat dalk op ’n huwelik kon uitloop, oor die pos in te kry.

Maar huisbesoek op plase. Wanneer die herder op die werf stilgehou het, terwyl fyn stoffies uit die wieldoppe van sy Chevrolet Fleetmaster van die 1940’s sif, is hy hartlik deur die boer en sy gesin in hulle beste Sondagdrag verwelkom.

Die tafel was met koffie en soetgoed gedek, die bulsak op die katel in die vrykamer, as dominee sou oornag, skoon oorgetrek en die lampetbeker op die wastafel vol vars reënwater uit ’n tenk.

Jy gee nie vir dominee brakwater uit ’n put om sy voete in te was nie. A, nee a! Ons is wel van die plaas, maar nie agter die klip nie!

Plus natuurlik ’n kamerpot van geblomde porselein onder die kooi.

En in die Aga in die kombuis se louoond nie ’n lam nie, maar ’n vet, sestand-mofooi se boud, die lekkerste skaapvleis op ’n Karooplaas.

Hy moet net saf wees. Of ’n afval. “Dominee,” sou Lettie Geelhoek dink terwyl sy vir die besoek voorberei het, “is tog so lief daarvoor!”

Nie dat dit Lettie van verveling op ’n Karooplaas sou red nie.

Toe die predikant ná skriflesing en gebed, waarin hartroerend vir reën gepleit is, in ’n gemoedelike geselsie by natgeswete Lettie, swaar swanger met haar sewende, wou weet of sy al in die Kaap was, het sy gelate gesug: “Nee, dominee, hier by ons is dit maar net Geelhoek op en Geelhoek af.”

Foei tog, dit kan vandag se boervroue darem ten minste nie sê nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rubriek  |  Huisbesoek  |  Menings  |  Dominees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.