Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe ek moes kies tussen gras sny, troue kyk

Ja nee, en daar sit ek toe heel Saterdag voor die televisie. Nie om rugby, krieket, gholf of na Ashwin se tantrum te kyk nie.

Nee, moenie glo nie, ek sit soos ’n wafferse ou glam guru saam met die vroumense die royal wedding en kyk en lug my deskundige mening oor die kuise trourokkie.

Blouwillem

My keuses was taamlik beperk, want Vroulief het gesê ek sal moet kies tussen die bruilof en gras sny en aangesien ek allergies vir gras is, bly sit ek toe maar heeldag gedweë daar voor die kassie en gaan maak selfs elke uur vir die dames tee.

“Jy kyk elke Saterdag rugby en in elk geval kan jy dit môre op die kykweer te siene kry,” verduidelik sy al middel verlede week vriendelik, dog beslis vir my.

In die ou dae kon jy darem ook troues op kykweer te siene kry. Jy het bloot jou trouvideo agteruit gespeel. Soos Dik Daan se buurman eendag vir hom gesê het, die mooiste deel van so ’n agteruitvideo was altyd vir hom daar waar hy die bruid vir haar pa teruggee en die bruidsmotor by die kerkterrein uit reverse.

Maar nou ja, ou Harry, die koeël is deur die katedraal en dis in elk geval nie so eenvoudig om met ’n vierperdekoets agteruit te ry nie.

Oom Johnny, wat self ook voor die TV sitgemaak is, sê die mooiste was vir hom toe ou prins Charles die bruidjie halfpad ingebring het.

Maar hy sê sy onberispelike bronne in die paleis vertel dat Charles Vrydagmiddag vir Harry vir ete na die Slug and Lettuce daar in Windsor uitgevat het.

“Seun, jy moet vandag onthou, want jy sal eendag terugkyk en besef dat dit die gelukkigste dag van jou lewe was.”

“Maar Pa, ek trou eers môre.”

“Juis, my seun, juis!” Oftewel, “Juice, my son, juice!

Kaal boudjies het nou daar duidelik die plek van paddaboudjies ingeneem.

Toemaar, dis darem seker nie waar nie, want vir my en my ou maters lyk dit of Meghan ’n lekker vars briesie in die ou spul stywelip-hooghede se lewe gaan wees.

Aan die ander kant van die kanaal gebeur daar ook altyd iets interessants, skokkends of lagwekkends (en ek praat nie nou oor Franse rugbyskeidslegters nie). So lees ek onlangs dat die Palais de Tokyo-museum in Parys nou spe­siale naakaande het waar nudiste in hul Adams- en Evasuitrustings kuns kan kyk.

Oom Johnny sê een ding wat hy nooit kan verstaan nie, is dat mense wat kaal buite rondloop gewoonlik dié is wat jy die minste kaal sou wou sien.

“Ek kan nog verstaan waarom ’n Europeër wat nooit son sien nie, soos die Namakwalanders sou sê, nakendkaal op ’n strand sou wou paradeer, maar waarom jy nakendkaal in ’n mu­seum sal wil rondloop, moet iemand vir my verduidelik.”

En wat meer is, daar in blykbaar 2,6 miljoen praktiserende nudiste in Frankryk!

Kaal boudjies het nou daar duidelik die plek van paddaboudjies ingeneem.

Meer oor:  Blouwillem  |  Ashwin Willemse  |  Rubriek  |  Tv  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.