Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toe Kranige Kurt uit boek se blaaie stap

Dit is eienaardig hoe sekere boeke vir ewig by jou kan bly. En toe is dit ook so dat ek in Nasionale Boekeweek een van die karakters wat ek as kind in ’n boek ontmoet het in lewende lywe hier in Johannesburg raakloop. So iets gebeur selde . . .

Die boek waarin ek hom leer ken het, is Kranige Kurt en die tower-stewels deur Jean Kenward.

In die boek het Kurt gedink: “Ek sal graag wil reis, maar slegs as ek na die einde van die wêreld kan reis en terug kan wees voor sonsondergang.” Kranige Kurt, die nutsman van ’n klein dorpie, knip toe ’n reus se toonnaels en as betaling kon hy die reus se towerstewels leen. Met net een tree was Kurt elke keer op ’n ander plek: in die woestyn, oor die berge en selfs in ’n oerwoud. En terug by die huis voor sonsondergang.

Van daai tyd af hou ek van lees. Want as ek lees, is ek in die bioscope.

Toegegee, karakters lyk tog anders as hulle uit die boek se blaaie stap. Dié Kranige Kurt woon op die sypaadjie en lê soms helder oordag dáár op sy enkelbed verdiep in ’n boek. Hy het dikwels ’n selftevrede glimlag op sy bakkies terwyl hy op reis gaan tussen die bladsye. Ek het kennis gaan maak voordat hy weer een tree gee en vir ewig in een van sy boeke verdwyn.

In die lewe is sy naam Marius Basson en is hy haweloos. Sy besittings is sy enkelbed en komberse wat weldoeners geskenk het en sy boeke wat hy versteek . . . Bedags trek hy ’n seil oor sy bed en die twee emmers en klip wat die seil anker om als droog te hou, is nie juis goeie wagte nie. “Stoute mense” steel gereeld sy goed.

As Marius nie bedags besig is om die straat skoon te hou of die sypaadjie te verfraai met vetplante nie, léés hy. Toe ek hom vra oor sy liefde vir dik boeke, sê hy: “Ek het net st. 6, maar dit was Mister Huley van Durban wat my lief gemaak het vir lees . . . Mister Huley het ons altyd gevra: Wat het jy gelees, hoe was die boek? Dan skryf jy ’n report en kry punte. Van daai tyd af hou ek van lees. Want as ek lees, is ek in die bioscope.” Hy glimlag.

En die boeke léér my goeters. Lees is in my, ek kan dit nie help nie.

Ongelukkig het “stoute mense’’ nou ook sy bril gesteel, maar, sê Marius: “Ek like action, romance en horror en my gunstelingskrywer is Wilbur Smith. As ek ’n boek lees, is ek in ’n ander wêreld. En die boeke léér my goeters. Lees is in my, ek kan dit nie help nie.”

Want as Marius lees, trek hy sy towerstewels aan en stap hy met een tree weg van die wêreld waar sy huis uit ’n bed op ’n sypaadjie bestaan. Die verkeersdampe, haastige motors en stoute mense verdwyn.

Elke mens wat kan lees, het die vermoë om tydelik van die werklikheid te ontvlug, ongeag wat hul omstandighede is. Kinders wat nie leer om te lees nie, word ontneem van stewels wat hulle die moontlikheid van ’n iewers elders kan wys.

Ek wens vir elke kind ’n Mister Huley, wat die liefde vir lees in hulle kan aansteek. En ’n dik boek sodat hulle soos Kranige Kurt op reis kan gaan. Moenie vir iemand die wêreld belowe nie, leer hom om te lees sodat hy sy eie wêreld kan vind.


Meer oor:  Esté Gross  |  Sielsgoed  |  Kranige Kurt  |  Boeke  |  Lees  |  Haweloos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.